Nuuskommentaar: Om vas te byt soos ’n boer

grond plaas boer trekker

Argieffoto (Pixabay)

Die elektroniese argiewe toon dat die belange van die landbouer in Suid-Afrika al lank deur verskeie media-instellings ondersteun word, en ook sedert sy ontstaan, deur Maroela Media gerugsteun word. Letterlik duisende berigte en artikels hieroor het uit Maroela-bydraers se kuberpenne gevloei en is ook deur ander media oorgeneem. En tog is dit nodig dat daar weer ’n oorsig gegee moet word, al is dit eerder ’n emosionele herinneringstog as ’n weergawe van empiriese feite wat soos strandballe van ’n horende dowe regering se renostervel bons.

Slegs iemand wat verkies om in ’n kokon te woon, weet nie dat daar onreg op onreg teenoor die land se landbouers gepleeg word nie.

Net ter opsomming: Maak nie saak hoeveel plaasmoorde en plaasaanvalle plaasvind nie, dit word steeds in ’n breë narratief geïgnoreer (en is by geleentheid selfs deur die president in wese ontken toe pres. Donald Trump van die VSA daarna verwys het.) Dié opvatting, wat deur die ad hoc-komitee oor grondbesit as Die Groot Leuen benoem is, is nou feitlik die amptelike beskouing wat as grondslag dien om die persentasie grondbesit te bepaal eerder as werklike empiriese syfers.

Oudpres. Jacob Zuma het, terwyl hy in die amp was, gesê swart mense het oor die algemeen die droër en minder vrugbare dele van die land gekry, en is nie noemenswaardig gerepudieer nie. Atlasse wat dit anders stel, se geloofwaardigheid kry ’n knou, want dié dui die voormalige tuislande juis in die natter dele van die land aan, terwyl kenners die onvrugbaarheidstorie as mite afmaak.

Bruin mense wat bruin landelike gebiede oppervlakgewys meestal in die droër dele bekom het, onder meer Mier, Richtersveld, Ebenaezer en Oppermansgronde, is die werklike kortlootjie-trekkers, of diegene vir wie die “dice” weer verkeerd geval het. (Of het Zuma homself oortref en die Jonathan Jansen-mite gebruik deur bruin mense, en nie net die elite nie, ook swart mense te maak wanneer dit vir die ANC nuttig sou wees – bloot ’n lugborrel soos uit Jessie Duarte se onlangse uitbarsting blyk?)

Skade is reeds onherstelbaar gely, en lotsbeslissers wag dikwels vir die spreekwoordelike randjie van die afgrond voor ’n noodtoestand afgekondig en droogtehulp beskikbaar gestel word.

Veediefstal in sekere gebiede is al dekades lank so erg dat daar nie meer met veral skape geboer kan word nie. Gewasdiefstal, die diefstal van gereedskap, toerusting en voertuie, asook brandstigting beloop derduisende miljoene rande per jaar, as ’n mens Statistieke SA se landbousensusstatistieke eerder as die polisie se amptelike misdaadstatistieke gebruik.

Die kommando’s is weens ’n persepsie in regeringsgeledere afgeskaf – ’n struktuur wat heelwat stabiliteit op die platteland gebied het. Selfs die redelik gematigde premier van die Vrystaat, Winkie Direko, het na die kommando’s as seerowersneste verwys.

Die skuld vir die stadige pas van grondhervorming is soos taks voor die boere se deur gelê, selfs al is herhaaldelik bewys die groot probleem is waar korrupsie en burokratiese traagheid en onbevoegdheid by die staat self ingeweef is. Selfs die destydse adjunkminister wat primêr vir grondsake verantwoordelik was, het dit by ’n drie-in-een-konferensie in Bloemfontein erken, en gevra die boere moet vir ’n klagtedirektoraat vra.

Tydens dieselfde konferensie het hy egter in ’n TV-onderhoud wat buite gevoer is, ’n ander storie voorgedra en die regering se geykte standpunte opgedis. By dieselfde geleentheid het die provinsiale hoof van die departement openlik gesê hulle stel nie belang in grond wat boere vir grondhervorming beskikbaar stel nie, want dan weet hulle daar is fout met die grond.

So asof daar nie soms toestande so ontwikkel dat grond wat geslagte lank florerend in ’n familie se besit was, nou weens omstandighede heeltemal buite selfs die beste boer se beheer as familie-erfenis kortgeknip word nie. Net om te ervaar dat sekere politieke kommentators plaasaanvalle as feitlik onbenullig of niebestaande probeer afmaak.

’n Kenner van klimaat het op TV aangedui dat die huidige droogte nie werklik ’n droogte in die gewone sin van die woord is nie, maar eintlik met klimaatsverandering te doen het. In wetenskaplike kringe is daar wesenlik nie meer twyfel dat klimaatsverandering intree nie, asook nie meer veel twyfel dat die mens dié keer ’n aandeel daarin het nie.

En tussendeur moet boere in omstandighede buite hul beheer al meer blatante diskriminasie deurloop, en al meer ervaar dat die opvatting dat hulle gronddiewe is die algemeen geldende norm is en selfs in beoogde wetgewing die grondslag sal vorm.

Maroela Media het al verskeie kere aspekte van die stryd teen die landbouers, hetsy informeel of formeel, empiries in hierdie rubriek onder die loep geneem. Op 7 April 2014 was die titel van die nuuskommentaar veelbetekenend “Grond en plaasaanvalle: Die Boer se m*&r” (lees hier). Dit is maar een van meer as 1 500 stories op Google wat onder dieselfde soekterme gevind is. Van hierdie stories is ook deur ander instansies op hul eie webwerwe gebruik.

En tog is dit nodig dat dit vandag weer aangeraak moet word. Hoekom?

Want steeds het die regering aspekte soos meer werksgeleenthede en groter voedselsekerheid via die landbou in die oog, selfs al word grondgryp sonder vergoeding deur grondwetwysiging en skynbaar opsegging van ondertekende en geratifiseerde internasionale verdrae “gewettig”.

Dit is elke landsburger en kieser se plig om die regering uit hierdie selfmoordkoers te ruk. Dis nie net die regering wat die doodskoot deur die stiksienigheid gaan kry nie, maar elkeen wat in die land woon, en lank nie almal het ’n aptyt om selfdood toe te pas nie, en in die proses ons nageslag saam te vat nie.

Voorsorgprojekte soos dié van die Solidariteit Beweging, selfs op internasionale vlak, en TLU SA (lees hier) moet soveel moontlik ondersteun word. Dis nie net ons erfenis wat in gedrang is nie, maar ons almal se geregverdigde voortbestaan.

Boere, weet dat ons julle tot die beste van ons vermoë ondersteun, en skep veral moed uit die skenkings, groot en simbolies groot soos die bokse bederfgoedjies vir die boervroue. Ons bid julle ’n geseënde Christusfees toe en dat Desember en 2020 vol reënmeter op reënmeter sal oplewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Feite ·

Voorsorgprojekte wat met omsigtigheid gedoen word sal ondersteun word op voorwaarde dat dit nie aan die politieke klok gehang word nie en nie ooglopend n bedreiging vir die jaloerses inhou nie. Veiligheid van ons mense kom eerste, daarna kom projekte. Projekte met die potensiaal om die aanslag teen ons mense te vererger, moet gestaak word. Ons mense is nie gereed en gerat vir n groter aanslag en teenspoed nie, maar eerder vir vrede, daarvan getuig te veel witkruise wat reeds geplant is!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.