Nuuskommentaar: Piesangrepubliek in volle glorie

Argieffoto

Argieffoto

Gewoonlik begin die storie so: “Iewers in Afrika, ek weet nie watter land nie, het die polisie die munisipale kantore bestorm, en ʼn klomp raadslede verwyder, en met ander raadslede vervang. Die polisie beset nou nog die gebou en niemand kan die gebou ingaan nie.”

Dié keer, so blyk dit, is daardie munisipaliteit Mokopane (Potgietersrus) in Suid-Afrika. Die storie, so blyk dit na deeglike joernalistiek, is nie so eenvoudig nie.

Dit is nie seker wat die hartseerste is nie – dat so iets kon gebeur, of dat so iets kwalik die nuus kon haal, en waar dit wel die nuus haal, dit eers veel later die nuus haal. Die voorval het reeds Maandag plaasgevind. Die DA het Dinsdag daarop reageer en die betrokke polisielede as “rogue officers” beskryf, maar steeds bitter min inligting tot sy beskikking gehad oor presies wat gebeur het, en hoekom. Die volle verhaal ontvou eers Woensdag in Netwerk24. Intussen het die gerugte diep spore geloop, en het piesangs weer ʼn slegte naam gekry.

Volgens die berig in Netwerk24 het die ANC 22 van sy raadslede afgedank nadat hulle hul by die opposisie geskaar het om ʼn forensiese oudit aan te vra. Dié oudit het glo die burgemeester by finansiële ongerymdhede betrek. Die afgedankte raadslede het egter geweier om hul afdanking te aanvaar, en het hulle ook onder meer onsuksesvol op die hooggeregshof beroep.

Die burgemeester het toe die polisie gevra om in te gryp. Hierop reageer die DA Dinsdag soos volg: “Yesterday, police acting under the orders of Police General Mphalatji, and without a warrant, court order, provincial or national instruction, staged what can only be described as a coup d’etat at the Mogalakwena Municipality in Limpopo.

Volgens die DA het die polisie toe die aanstelling van nege nuwe proporsionele raadslede afgedwing (in die geval van wyksraadslede wat hul ampte ontruim, moet tussenverkiesings gehou word).

Behoorlike kommunikasie met onder meer die opposisieraadslede en die media sou baie van die angel verwyder het, maar dit lyk inderdaad of die generaal hom hier as in diens van die ANC beskou. Dis ʼn tipiese kenmerk van ʼn piesangrepubliek. Die opposisieraadslede sou onverwyld hul provinsiale en nasionale strukture presies kon inlig oor wat gebeur, en hoekom, en die media sou dan minstens via die opposisie dadelik en deeglik in die prentjie gebring kon word.

Soos sake nou staan, lyk dit of die polisie ingegryp het om die ANC se beskerming van ʼn persoon wat volgens ʼn oudit na bewering korrup is, se posisie te verskans. Diegene wat die korrupsie wou aanspreek, is soos in Tlokwe (Potchefstroom) met die banvloek geslaan – en die polisie wat veronderstel is om in diens van geregtigheid te wees, is in Mokopane ten bate van die onreg ingespan.

Dis nog ʼn kenmerk van ʼn piesangrepubliek. En dit was in Suid-Afrika.

En dit is nie al nie. In die Mangaung-munisipaliteit (Bloemfontein), vind nou al twee maande lank geen munisipale raadsvergaderings plaas nie. Dit word uitgestel en uitgestel en afgestel. Die opposisie is in die duister, en vermoed dit hou ook met tweespalt binne die ANC verband. Die ANC trek skouers op en sê volgens wet hoef raadsvergaderings net een keer in drie maande plaas te vind. Probeer nou belastingbetalers oortuig dat raadslede wat maandeliks enorme salarisse en byvoordele verdien, en waarvan baie weinig meer doen as om bloot by vergaderings op te daag en die spyse te verorber, net een keer in drie maande sy bas hoef te versit om daardie gelde te verdien.

En dit in ʼn munisipaliteit waar die opgaardamme so goed as dolleeg is, die departement van waterwese vroeg vanjaar reeds waterbeperkings in die Staatskoerant afgekondig het, maar die munisipaliteit nie so ver kan kom om die proses van openbare deelname in werking te stel om die waterbeperkings te begin implementeer nie.

So kan die een munisipaliteit op die ander gelys word waar sake die karakter van ʼn piesangrepubliek aangeneem het. Soos Oudtshoorn, waar sake ook reeds ʼn draai deur die hooggeregshof geneem het.  Munisipaliteite wat die spartelende Eskom R10,85 miljard skuld. In die Vrystaat skuld munisipaliteite Eskom meer as een miljard rand, en waterrade omtrent net soveel.

Intussen het minister Pravin Grodhan, wat vir munisipale sake verantwoordelik gemaak is, die ondankbare taak om te probeer walgooi dat arm munisipaliteite ophou om geld wat vir armoedebestryding bedoel was, eenvoudig op die begroting vir die aankoop van luukse motors te plaas. Min dinge is so kenmerkend van ʼn piesangrepubliek soos die elite wat met hul blink vuurwaens deur die armoede ploeg.

En dan volg die ontkenningspeletjie. Soos die voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor kommunikasie wat gemaak-verbaas wil weet watter ANC-kaders dan nou in die SAUK ontplooi is. Terwyl mense wat nie betaal-TV kan bekostig nie, gefrustreerd moet aanskou hoe die nuusitems dikwels op die oog af per agenda geselekteer word. Of, soos in die dae toe die SAUK darem nog oor die musiekfees by die Voortrekkermonument berig het, gemeld het dis deur “honderde mense” (in werklikheid sowat 15 000 daardie jaar) bygewoon is. ʼn Kaderlose SAUK sou seker oor die jongste gebeure by Mokopane berig het. ʼn Elektroniese soektog deur RSG se nuusbulletins het vanoggend nog dadels opgelewer.

Of dalk daaraan gedink het om te berig dat emeritus aartsbiskop Desmond Tutu ʼn petisie geteken het wat vra dat Spanje die referendum oor Katalaanse onafhanklikheid moet erken.

Of word gewoon van die publiek verwag om agteroor te sit en te sing: “Dis lekker om ʼn piesang te is, te is”? Met ʼn regte, egte piesangrepubliekpresident. En dan verbaas te wees dat daar ʼn klomp dwarstrekkers is wat “Die Stem” wil sing.

Vanoggend skryf Henry Jeffreys in Netwerk24 dat die ANC homself moet bevry. Hy het ʼn stewige lysie beet wat hoofsaaklik met die Cosatu-verwikkelinge te make het, maar tot die ANC die gees van die grondwet gaan begin adem, is dit alles praatjies in die wind. Links-liberale akademici verskans in hul ivoortorings moet onthou dat ʼn bitter groot deel van die bevolking die voetsoolvlak slaan – daar knaend in riool trap, knaend ervaar hul belowende kinders se toegang tot geleenthede loop gevaar om in die sand uit te loop omdat beurse in ʼn samelewing waar almal gelyk en ongelyk tegelyk is, ook deur rasbeheptheid geslaan is.

En van die universiteite wat die hardste noot insit oor akademiese uitnemendheid (maar eintlik ʼn fiksasie met rasbenepe transformasie het) op wêreldranglyste nie eens onder die top 400 in die wêreld kom nie.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jan du Toit ·

Hoe lank gaan die gewone ou op straat met al die dinge tevrede wees. Die hoe misdaadsyfer. Reg in eie hande neem, Polisie vermoor is dit nie die simtome van iets groter nie?

Sarel Roets ·

Ag man dis lekker in Orania!

Alles werk!
Byna GEEN misdaad
0% werkloosheid
n Hegte Boere gemeenskap
En n langtermynplan!

Pa ·

Ja nee kyk. Die dae dat n serene in die aand af gegaan het is verby verby. Hulle regeer nou hierdie grond wat ons Sa noem. Ons land nie meer. Ons kon dit nie voorspel nie, maar wat het ons nou eintlik verwag. Grond dom plunder hulle eie land.

Adoons ·

En iewers in Afrika, ek weet nie in watter land nie, het ‘n paar skelms sommer helder oordag ‘n paar polisiemanne se wapens afgeneem en hulle in hulle eie vangwa toegesluit. ‘n Piesangrepubliek sowaar!

Hermanus Potgieter ·

Ek wil skryf aan “Pa” hierbo. Ons HET dit verwag. Ons HET gesien wat het in elke ander Afrika land gebeur nadat die europeërs bewind oorgegee het. Die HNP HET ons al dekades tevore daarop gewys.
Die NP HET ons daaroor belieg en bedrieg. Ons HET geweet dit kom toe meer geld uitgegee is op HOP huise as op infrastruktuur. Ons HET dit geweet toe name teen miljoene verander is. En die wat dit nie wou glo nie, HET nou tot ontnugtering gekom. Groete Hermanus Potgieter van POTGIETERSRUS (mokopane)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.