Nuuskommentaar: Plaasaanvalle gee nie skiet; neem buiteland nou kennis?

Enkele van die name op die gedenkmuur by Nampo van mense wat in plaasaanvalle gesterf het. Daar is tans 2 643 name op die muur gegraveer. (Foto: Twitter via @Mariand00179030)

Met die aandag so op die algemene verkiesing en die afloop daarvan gefokus is dit te wagte dat “gewone nuus” meer op die agtergrond sou kon skuif. Maar plaasaanvalle en die uiters wrede moorde wat daarmee gepaard gaan, het nie skietgegee nie, indien dit nie selfs ’n toename oor die verkiesingstyd getoon het nie.

Nampo-oesdag met sy muur van herinneringe en die groot aantal name wat feitlik deurlopend aangebring word, het ook die aandag na hierdie ramp getrek.

“In Suid-Afrika word wit boere met onteiening bedreig, hul plase is aangeval en baie van hulle is brutaal vermoor, dikwels nadat hulle lank met boormasjiene gemartel is. Tans word ʼn plaas elke dag aangeval en ʼn boer word elke sewe en ʼn half dae vermoor. Die oudste slagoffer vanjaar was 88. Baie wit boere het die afgelope twee dekades geëmigreer en die Suid-Afrikaanse boerepopulasie het met sowat die helfte tot 30 000 gekrimp.”

Hierdie aanhaling kom nie uit ’n nuusverklaring van AfriForum of die TLU SA nie. Die outeur is ’n Fransman wat vir verskeie Nederlandse koerante en ’n radiostasie skryf, Sylvain Ephimenco. In sy jongste rubriek in die dagblad Trouw skryf hy oor die wrede moord op Anette Kennealey, wat hy as menseregteaktivis beskryf. Kennealey was bekend as aktivis teen plaasmoorde.

Ephimenco (’n verfransing van ’n Oekraïnse van) wys daarop dat die wêreld die apartheidsregering erg vir die destydse beleid teengestaan het, maar nou is die wêreld (te midde van die plaasaanvalle) stil. Trouens, die opskrif van sy rubriek spreek boekdele: “Waar is de verontwaardiging nu blanke boeren worden afgeslacht?”

(’n Afrikaanse vrye vertaling van die rubriek is onderaan die nuuskommentaar geplak.)

Ephimenco, wat in Frans en Nederlands skryf, het ook minstens twee romans die lig laat sien – een oorspronklik in Nederlands geskryf. Hy is in Algerië gebore toe dit nog ’n Franse oorsese direktoraat was, en het as kind die onafhanklikheidsoorlog beleef. Hy het ook by geleentheid ’n massaslagting van wit mense (ook vroue en kinders) beleef, en later in ’n rubriek daarop gewys dat allerlei slagtings vandag deur die internasionale gemeenskap gedenk word, maar oor die slagting, wat hy in detail beskryf het, word politiek korrek nie ’n woord gerep nie.

Tool Wessels is in Mei 2019 op ‘n plaas buite Bonnievale vermoor. terwyl sy vrou, Liezel, deur die aanvallers gemartel is. (Foto: Verskaf)

Dit is asof hy nou ’n parallel raaksien met die slagting van Suid-Afrika se boere.

Terwyl Ephimenco uitwys dat die wêreld stil is oor die plaasmoorde, het hy self daaroor geskryf en waarskynlik baie lesers in Nederland aangeraak. Feit is, hy het feite oor die slagting bekom, en dit gepubliseer. Hy toon aan dat hy Facebook geraadpleeg het, onder meer die blad van Kennealey. Hy kon dit net sowel bekom het deur van AfriForum se inligtingstukke.

Lesers van Maroela Media rig gereeld deur die gerief vir leserskommentare versoeke aan Maroela Media om spesifieke artikels en rubrieke, soos ook nuuskommentare, in Engels te vertaal sodat dit oorsee versprei kan word. Via Google kan egter gesien word dat daar periodiek private inisiatiewe is om juis dit te doen, veral pennevrug wat oor plaasaanvalle handel.

Boonop lyk dit soms of die probleem nie soseer by die buiteland lê nie, maar eerder binnelands, soos toe pres. Donald Trump na die moorde verwys het en pres. Ramaphosa ontken het dat dit plaasvind. (Ramaphosa het wel na ’n spesifieke konteks verwys, maar nogtans groot ontsteltenis veroorsaak.)

Ook hieroor laat Ephimenco hom uit: “Daar is baie onverskilligheid in Suid-Afrika. En ook ʼn swart suprematistiese party genaamd Black First Land First (BLF) wat gelei word deur Andile Mngxitama, wie se slagspreuk op T-hemde lui: “Land or Death” (wat beteken: gee jou land en plaas aan swartes of sterf). Hierdie maand het Justisie die BLF gevra om sy slagspreuk te laat vaar, maar Mngxitama het geweier.”

Elke Afrikaanssprekende kan help om die boodskap oorsee te versprei. Al is dit nie baie nie, is daar tog Nederlanders en Belge wat gereeld Afrikaanse nuus op die internet volg. Deur die objektiewe oor te hê van mense soos Ephimenco kan veel meer mense bereik word.

Annette Kennealy (Foto: Facebook)

Vrye vertaling 

“Net gister het my blik op Anette Kennealey se foto geval: Geliefdes het dit op haar Facebook-bladsy gedeel. ʼn Mooi vrou in haar vyftigerjare, glimlaggend in haar pers rok, met haar linkerarm leunend op die rug van haar stoel. Kennealy is gisteraand op haar plaas in Suid-Afrika vermoor.

“Ek het gaan inloer op die Facebook-blad van hierdie menseregte-aktivis wat die afgelope jaar bekommerd was oor die lot van wit Suid-Afrikaanse boere. Die profiel was nog oop. Kennealy het Sondag om 09:49 twee boodskappe gepos. Ongeveer 24 uur voor haar dood. Die eerste het gelui dat tien “plaasaanvalle” binne vier dae plaasgevind het. Die tweede was dat 126 plase in Suid-Afrika aangeval is en dat van Januarie tot April 16 boere vermoor is.

“Die eerste boodskap bevat 81 reaksies. Byna almal bevat meegevoel wat Kennealy nie kan lees nie. Ongemaklike surrealisme. Sy is Dinsdagoggend deur haar familie in ʼn plas bloed met ʼn verbryselde skedel gevind. Langs haar was ʼn hamer en ʼn ysterpyp. Of Kennealy vermoor is as gevolg van haar aktivisme, is onbekend. Sy het dikwels ʼn 9 mm Astra-pistool gedra, maar kon dit nie vir haar verdediging gebruik nie.

“In Suid-Afrika word wit boere met onteiening bedreig, hul plase is aangeval en baie van hulle is brutaal vermoor, dikwels nadat hulle lank met boormasjiene gemartel is. Tans word ʼn plaas elke dag aangeval en ʼn boer word elke sewe en ʼn half dae vermoor. Die oudste slagoffer vanjaar was 88. Baie wit boere het die afgelope twee dekades geëmigreer en die Suid-Afrikaanse boerepopulasie het met sowat die helfte tot 30 000 gekrimp.

“Ek is herinner aan daardie jare van wrede apartheid toe die wêreld terselfdertyd teen die rassistiese regime gemobiliseer het. Nou is die wêreld stil.

“Daar is baie onverskilligheid in Suid-Afrika. En ook ʼn swart suprematistiese party genaamd Black First Land First (BLF) wat gelei word deur Andile Mngxitama, wie se slagspreuk op T-hemde lui: “Land or Death” (wat beteken: gee jou land en plaas aan swartes of sterf). Hierdie maand het Justisie die BLF gevra om sy slagspreuk te laat vaar, maar Mngxitama het geweier.

“Ek lees op die NOS-nuusdiens se webwerf dat daar glad nie bewyse is dat moorde op wit boere om politieke of ideologiese redes gepleeg word nie. En bowendien maak hulle jaarliks ’n fraksie uit van 19 000 ander moorde.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Anoniem ·

Grondwet van Suid-Afrika Hoofstuk 2
Artikel 11

Bepaal dat elke Suid-Afrikaanse Burger die REG het om te LEWE

Dit skied egter ver te kort as ons na die plaasmoord statistieke KYK van ONS MOOI LAND SUID-AFRIKA (wat ‘n ‘grim’ weergawe !)

Donderstorm ·

Gaan soek op mau mau tanzania dan sien jy wat tans in suid afrika aangaan

Stephen Namibia ·

Afriforum ek admireer julle pogings om hierdie gruweldade aan die buiteland voor te le maar baie meer kan gedoen word. Die berigte moet aan Suid Afrikaners oorsee gestuur word wat dit versprei. Tucker Carlson van Fox Nuus in die VSA is een wat die blanke goedgesind is en hy gee die Liberales opdraend.
Stuur die berigte aan hom hy is vir niemand bang nie. Lanklaas het n berig my ontstel soos die twee jongmense wat so brutaal vermoor is Sondag.
As die berigte n stortvloed word sal dit die wereld (en CR) dwing om sy kop uit die sand te haal en kennis te neem.

Daniel ·

Ek is woonagtig in die buiteland en moet daarop wys dat ek verseker nie hoopvol is vir enige daadwerklike buitelandse ingryping nie. Alhoewel hier kennis geneem word van die misdaadsituasie in SA (meer spesifiek plaasmoorde), het politici en andere hier geen daadwerklike belang of verwysingsraamwerk om die volle omvang van die krisis te peil nie. Voorts het elke land sy eie probleme en uitdagings wat voorrang geniet. Die enigste uitsondering vir moontlike ingryping is waar ‘n land se belange in die buiteland ernstig bedreig word.

Henk ·

In 1978 is ‘n Viscount vliegtuig van die destydse Rhodesian Airways deur Zipra terroriste met ‘n SAM missiel afgeskiet. Van die oorlewendes is later deur die teroristeop ‘n verskriklike wrede manier vermoor. Tydens die begrafnis diens het John da Costa wat die diens gelei het , verwys na ” The deafening Silence ” van die afwesigheid van reaksie van “beskaafde ” lande wat hierdie optrede veroordeel. Lesers kan gerus Viscount down en The deafening silence gaan Google en dit lees. Die punt is dat reg of verkeerd , dit is nie polities korrek vir hierdie lande om hul maaksels te kritiseer nie.

Swerwer ·

Dit lyk of die wit Boere gedryf word om iets te doen, dan is daar mos n rede vir n burgeroorlog. Soos dit nou gaan , is die “tipping point” baie naby. Dit kort net een wit ou om beheer te verloor, dan is hier groot moeilikheid!

Ella ·

Ek kan verstaan dat mense in die land kan doodgaan aan n gebroke hart. Dit voel of my hart wil breek van leed vir almal wat al deur hierdie wrede mense gebreek en vermink is.
Kan ons dan niks doen om die regering te oortuig van die erns van die saak?
Moord en doodslag heers in SA want die regering sê nie “dit is nou genoeg.”

Jean ·

Kan n mens die miskien in Engels kry? Ek wil dit graag hier in Australia versprei en mense inlig oor die wrede gebeure daar in Suid Afrika teenoor die blankes!

Dirk ·

2, 643 Boere is vermoor ten spyte van plaasbeveiliging. Iewers is iemand besig om die regte ding nie reg te doen nie. Dit blyk al vir n geruime tyd dat iets fout is met plaasbeveiliging, asook n kombinasie van ander kritiese faktore wat hierin n rol speel. Die pleidooi val egter op dowe ore omrede dit meestal bejeen word as synde, te krities. Ek reken egter dat wanneer dit kom by oneffektiewe plaasbeveiliging en die gevolge wat daaruit voortspruit, dan mag n mens maar erg krities wees, want hoe anders gaan diegene teen wie die kritiek gerig word, ooit iets daaruit kan leer om hulle ooglopende
leemtes te kan regstel!

Erick ·

Ek het lank terug iets gelees van ‘n Britse historikus wat iets gesê van ” The Afrikaner will rather be killed in his own bed than make his own bed ” verwysende na ons afhanklikheid na goedkoop swart en bruin arbeid. Dalk moet dit die eerste knelpunt raak waarna gekyk word by landelike veiligheid.

Wicus ·

Erick, so raak gevat. Wanneer wil ons leer. Dis of die Afrikaner neersien op sekere arbeid. Daai getroue huishulp, daai arbeider wat al jare by ons werk, en so verloor ons toe als. Eie volkstaat, dit gaan nie gebeur nie want wie gaan die vloere vee, die wasgoed was …..

Sny ek gras, spit ek, word ek aangekyk as nie normaal. Hoeveel Afrikaners het nog eelte op die hand …..

Doen als self ·

Dis waar, die “princess lifestyle” bring die dood. Dit neem net bietjie toewyding om als by te bring deur die week, maar ek was als self, van my motor tot my toilet.

Mieliestronk ·

Van Afrika leiers is al aangekla teen volksmoord in Switserland. C R en sy manne moet ook aangekla word want die moorde teen wit boere beweeg na volksmoord. Dit gaan al oor na die jong mense soos die twee wit jongmense van Sondag. En as van die moordenaars gedood word is daardie wittes in die hof soos die 6 wat nou tronk toe sal gaan.

Jeremia ·

Gemaksug en absolute ontkenning is inderdaad is en bly ons ondergang.
Waarskynlik is meeste só deurtrek van gemaksug dat dit die aandrang om te maak asof alles eintlik wonderlik gaan, verklaar.
Daar is ‘n ander baie goeie Afrikaanse woord vir gemaksug.
In Europa het gemaksug al oor ‘n lang tydperk ook sy tol geëis met werkers uit die ou kolonies en ander vreemde arbeid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.