Nuuskommentaar: Plaasmoorde, volksmoord en die internasionale gemeenskap

Argieffoto: AfriForum Jeug

Argieffoto: AfriForum Jeug

Plaasmoorde en plaasaanvalle het dié week opnuut in die kollig beland. AfriForum en TLU SA het halfjaarlikse syfers en gevolgtrekkings oor die euwel bekend gemaak. In verre België woon die Vryheidsfront Plus ook ʼn vergadering van die Unrepresentative Nations and Peoples Organisation (UNPO) by, waar ʼn mosie dien om plaasmoorde in Suid-Afrika tot volksmoord te verklaar.

Die VF Plus redeneer dat waar die gemiddelde moordkoers in die wêreld 7 per 100 000 per jaar is, is dit in Suid-Afrika meer as dertig per 100 000 per jaar, terwyl die moordkoers onder boere en hul gesinslede weer vier keer hoër is.

Boonop dui AfriForum en TLU SA se data daarop dat plaasmoorde en plaasaanvalle grusamer word – iets wat kwalik begryp kan word as voorbeelde deur die jare geneem word, soos die bejaarde boer wie se voetsole afgeskil is om te verklap waar sy kluis is – ʼn kluis wat hy nie gehad het nie.

Dit is nie die eerste keer dat Maroela Media kommentaar oor die euwel lewer nie en dit sal ook nie die laaste keer wees nie. Dis ʼn tragedie waar die regering nukkerig weier om ʼn ooglopende probleem tot prioriteitsmisdaad te verklaar.

Maar, so bewys die Omar al-Basjir-sage, die regering se gedagtes is op swart Afrika gerig. Daarvoor is die regering selfs bereid om politiek voor die grondwet in te span en minagting van die hof te pleeg.

Om opsigtelik die euwel van plaasaanvalle op al die terreine, soos die politieke terrein, aan te pak, spreek gewoon nie tot die gehoor wat die ANC probeer bereik nie. Die regering se aanslag is erg rasgekontamineer, soos onlangs ook geblyk het toe dit bekend gemaak is dat Suid-Afrika $10 miljoen van sy Fifa-toekenning na ʼn Karibiese rekening laat kanaliseer het om sokkerontwikkeling onder Afrikane in diaspora te bevorder. Ironies is twee van die Karibiese eilandstate nou bo Suid-Afrika op die internasionale Fifa-ranglys en die vraag kan met reg gevra word wie se sokker het die meeste ontwikkelingsgeld nodig. Dít terwyl die geld in elk geval nooit vir ontwikkeling gebruik is nie.

Die UNPO-vergadering in België het egter nie net plaasmoorde op die agenda nie. Naas ʼn voorlegging oor plaasaanvalle en plaasmoorde, gaan die VF Plus die organisasie ook vra om kennis te neem van die vertrapping en stelselmatige ‘uitwissing’ van Afrikaans veral in die onderwysstelsel, wat basiese en hoër onderrig insluit.

Die feite praat hard en duidelik. Die regering is horende doof en die vorige minister van polisie, Nathi Mthethwa, het een van AfriForum se aksies oor plaasmoorde as “goedkoop propaganda” beskryf. Daar is geen aanduiding dat die minister se vervanging in die portefeulje met hierdie onvergeeflike opmerking verband hou nie.

Die vreemdheid is dat sekere Afrikaanse rubriekskrywers ook hieroor ʼn “ANC-agtige” houding inneem. Die moordkoers onder bruin mans in die Wes-Kaap (nie veel laer as die moordkoers onder boere nie) word as “konteks” voorgehou dat die plaasmoordsyfers skynbaar nie so erg is nie. Daar word natuurlik versuim om te meld dat die Kaapse syfers met bendetradisies en dwelmsmokkelary verband hou.

Dit is in enige taal erg en daar is tallose onskuldige slagoffers soos kinders wie se “sonde” was dat hulle buite gespeel en in die kruisvuur beland het. Die DA-beheerde Wes-Kaapse regering het in ʼn stadium die regering gevra om die weermag ter ondersteuning van die polisie in te span, maar dis geweier.

Minderhede is nou een maal nie daar om internasionaal erkende minderheidsregte te geniet nie – in elk geval nie in Suid-Afrika nie.

In ʼn interessante verwikkeling het die FW de Klerkstigting onlangs onder Max du Preez ingeklim oor ʼn artikel in Media 24. Die stigting beskuldig Du Preez onder meer daarvan dat hy die massamoord van Dylan Roof in die VSA as ʼn tipe tipiese gedagtegang van die vorige bedeling aanbied. Die Stigting sluit sy verklaring soos volg af: “Such accusations serve only to perpetuate the ANC’s divisive version of history – which Du Preez evidently shares – in terms of which the pre-1994 white establishment was uniformly evil, while all those on the ANC’s side were uniformly good. The ANC uses this white/evil, black/good analysis of history at every opportunity to justify its own increasingly aggressive racial agenda.”

Het die tyd nie aangebreek dat daar onder die minderhede ʼn kritiese konsensus oor sekere sake ontwikkel nie? In baie opsigte verkeer die minderhede nou in dieselfde, of soortgelyke bootjies. Neem nou maar hoe ver ontevrede KhoiSan-leiers die saak moes voer nadat die Noord-Kaape premier, Sylvia Lucas, toe nog in ʼn ander hoedanigheid, na die KhoiSan as “h*tn*tte” verwys het.

Dit bly die taak van kommentators om die lesers en luisteraars te laat dink en te peins oor voorafopgestelde idees. Dis reg dat nuwe grense getoets word.

Maar wat net te veel gebeur is dat van die kommentators in gister en eergister se uitgediende argumente vasgevang sit en hul posisies vir die slyp van klein byltjies gebruik. Die ou koeie word weer en weer opgegrawe en gelooi. En dit verander niks daaraan dat ou sop wat opgewarm en weer voorgesit word, steeds ou sop is nie.

Deur feite sonder historiese politieke (en bevooroordeelde) politieke bagasie in die oë te kyk, soos dat plaasmoorde boos is, dat die regering nie skroom om die grondwet te ondermyn om Afrikaans te bedreig nie, kan hande gevat word en die probleme aangepak word. Ons het nie kommentators nodig wat in gister se denke vasgevang sit nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Winston ·

Goeie artikel Herman. Max du Preez vang net elke keer n sekere windrigting. Hy moet n slag wind af ruik. Dit vrot. Afriforum doen darm nog puik werk en is ek bly ek kan bydra tot hulle befondsing. Sterkte. Iemand gaan ons iewers hoor.

Hansie ·

Is dit nie tyd dat ons vir ‘n slag saam staan nie? Genoeg is genoeg!!

Herman ·

Hansie. Moet dit nie persoonlik opneem, ek beskuldig niemand. Maar ek wonder altyd as ek so die pleidooi sien vir saamstaan, hoeveel van daai mense het al self iets gedoen.
Sluit aan by die buurtwag. Ek het
Betaal maandeliks n klein fooi aan Afriforum on hulle verder te bemagtig. Ek doen
Verder het ek al jare nie meer TV in my huis. Ek weier dat my kinders geindoktrineer raak deur die nuwe SA vervalsings.
Weier om Engels te praat as jy n klient is. Ek dring aan op Afrikaans, al moet ek soms myself te na kom.
Daar is so baie plekke waar ons kan saamstaan voor die groot moeilikheid begin. En as ons eers dit kan regkry, dan is ons gereed vir die ergste. Hetsy dit n massa volsmoord of net verkerpte aanvalle teen ons gaan wees.
ASB AAN ALAML, RAAK BETROKKE.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.