Nuuskommentaar: Ramaphosa veroordeel plaasmoorde

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die debat oor die begrotingsrede in die Nasionale Vergadering (17 Julie 2019). (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Liewer laat as nooit!

Pres. Cyril Ramaphosa het uiteindelik plaasmoorde veroordeel, en die Vryheidsfront Plus het die president se ommeswaai verwelkom.

Tot dusver was die president se standpunt dat dit die werk van die betrokke ministers moet wees, maar dié argument sou slegs water hou indien plaasmoorde statisties in pas met die land se gemiddelde moordkoers is.

Die moordkoers onder boere en hul gesinslede in Suid-Afrika is heel waarskynlik die hoogste moordkoers ter wêreld vir ’n identifiseerbare groep. Tradisioneel was dit die bruin mans in die Wes-Kaap, maar dié syfer was as sowat 90 per 100 000 per jaar aangegee, terwyl die moordkoers op boere en hul gesinslede al ’n hele paar jaar hoër as 100 per 100 000 per jaar is, en steeds styg.

Terwyl die aantal kommersiële boere wat op hul plase woon, al minder word. Die veiligheidsituasie op plase is beslis nie al rede hiervoor nie, maar is ’n belangrike bydraer. Die swaard van onteiening sonder vergoeding sal oor die landbou se koppe bly hang, en die land se ekonomie bly knyp solank planne om artikel 25 van die Grondwet te wysig, nie laat vaar word nie.

Kortom, die landbou verdien ’n politiek-vriendeliker omgewing saam met ’n ekonomie wat meer begrip het vir die harde werklikhede waaronder Suid-Afrikaanse boere ’n bestaan moet maak en tot veral landelike welvaart moet bydra.

Die volgende aanhaling uit ProAgri demonstreer die harde werklikhede: “Agt jaar gelede het oom Piet van Patensie ’n nuwe lemoenboord uitgemerk, mooi gaan praat met die bankbestuurder, weer eens sy plaas as sekuriteit aangebied, studies gedoen om die beste kultivar te kies, die nuutste grondvoorbereiding- en planttegnieke ingespan, die beste besproeiingstelsel wat hy kon bekostig, geïnstalleer en die boord vertroetel tot in volle produksie.

“Hy moet aanslae van witvlieg en sewe ander nuwe plae hanteer, nuwe uitvoerregulasies, stygende elektrisiteitstariewe vir die pakhuis, duurder diesel vir vervoer, hael en droogte en vele ander monsters. Uiteindelik is die trokke met ’n lieflike vrag lemoene weg hawe toe en oom Piet kan ontspan. Of kan hy? Nee, want die dokwerkers staak en die lemoene wat daar bly staan is net sy probleem…”

En dis maar een voorbeeld.

Ramaphosa se wegspring met die landbou was nie baie goed nie. Vroeg na sy verkiesing het hy in effek ontken dat boere in Suid-Afrika vermoor word, en in die proses vir pres. Donald Trump van die VSA weerspreek. Nuanses en bedoelde nuanses daargelaat, sy woordkeuse was ongelukkig.

Intussen verskuif die politieke klimaat in heelwat van die saakmakende lande soos die VSA, asook Nederland en Vlaandere in België. Plaasmoorde in Suid-Afrika en die wreedheid waarmee dit gepaard gaan, kry al hoe meer publisiteit in die buiteland, die beplande onteiening sonder vergoeding het hom in ’n mosie daarteen in die Nederlandse Tweede Kamer vasgeloop, en ras raak ’n al hoe meer bespreekte onderwerp in die Westerse media. In die jongste uitgawe van Trouw, ’n Nederlandse dagblad, word breedvoerig bespreek oor hoekom daar veel meer openbare en media belangstelling is as ’n blanke vrou wegraak as wanneer ’n swart vrou wegraak.

Pres. Donald Trump. Foto: AP Photo/Evan Vucci

In die VSA ondersoek peilingsagentskappe gereeld persepsies oor rassisme. Volgens die jongste Rasmussenpeiling meen 47% van die Amerikaanse kiesers dat Trump ’n rassis is – effens minder as die 50% wat in Januarie verlede jaar so geglo het. Nog ’n interessante bevinding uit hierdie peiling is dat ’n derde van die Demokratiese Party se ondersteuners meen dis rassisties om ’n swart politikus te kritiseer.

Laasgenoemde bevinding herinner aan die optrede van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie wat hom blatant aan onewehandige optrede teen mense van verskillende kleur skuldig maak (en dit ontken). Dit herinner ook aan die OVK se onewehandigheid, soos sy volharding om die BLF, in weerwil van sy verbod op wit lidmaatskap, en in weerwil van wetlike afkeuring daarvan, as politieke party te registreer. Dis eers na die verkiesing en onder appèl van die Vryheidsfront Plus omgekeer. Die ironie is dat die BLF links en regs ander van rassisme beskuldig, en ook nou hof toe wil gaan oor hul deregistrasie.

Kortom, daar is ’n skynbaar ooglopende groeiende bewuswording (indien nie ook simpatie vir die wit mense in SA nie) in die buiteland oor die groeiende anti-wit‑rassisme in die land, wat net te gereeld ook statutêr gevoed word.

In die aanloop tot Ramaphosa se ommekeer oor plaasmoorde, het verskeie partye die president daaroor in die parlement aangevat. Hieronder tel die leier van ’n party wat in die verlede self geweier het om plaasaanvalle te veroordeel, en dit aan provinsiale woordvoerders oorgelaat het. Die party het egter byna geen provinsiale verteenwoordiging nie, en waar daar wel nog is, is daar ’n afwesigheid van kritiek op plaasaanvalle.

Eerw. Kenneth Meshoe van die ACDP se skynbare ommekeer is daarom ook te verwelkom. Ook die DA se leier, Mmusi Maimane, se sterk standpunt hieroor na dit lank in wese ook ’n “provinsiale funksie” was, is te verwelkom.  Moontlik kan die party van sy verkiesingsverliese hiermee mettertyd weer goed maak.

Nou moet gesien word of hierdie ommekeer ook in die ANC volhoubaar gaan wees, en tot minstens verbeterde veiligheid en ’n meer simpatieke klimaat teenoor die landbou in Suid-Afrika sal kan bydra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Frederik ·

Gebalanseerde beriggewing uit ‘n onbetrokke oogpunt. Ek sien hierdie min gebeur. Nou voel ek weer gerus om elke berig van Maroela media te lees. Dankie vir hierdie berig

Pieter ·

Hy se maar net wat ons blankes wil hoor daar sal niks van kom nie wanneer gaan ons wakker skrik seker nooit

Abe ·

Frederik,
Jy is reg. Ten spyte van baie pesimistiese opinies oor hierdie saak op hierdie blad, dink ek daar is baie om verheug oor te wees. Ten minste is daar baie goeie tendense en mens kan net bly wees daar is tekens van verbeterde politieke klimaat .

thinus erasmus ·

Nou dat CR dit onwiilig erken het, en waarskynlik geen nuwe maatreëls daarteen gaan implementeer nie, moet ons aandring op die herinstelling van kommando/ burgermag en ook reserviste vir stedelike gebiede.

Allan ·

“Focus on farm murders shows ‘distance we need to travel’ to reconciliation, equality – Ramaphosa” maw dit wil voorkom of hy bedoel dat daar ‘n rede is vir die moorde, en dit is weereens die blankes se skuld

Andreas ·

Herman, Cyril Ramaphosa was gister soos ‘n weerbarstige bul wat kwaad was omdat hy homself moes repudieer en toe haal hy dit op Dr Groenewald uit terwyl hy hom kapittel. Dr Groenewald, binne én buite die parlement, maar juis ook alle ander mense wat dit veil vir die boere en die saak het, Solidariteit, Afriforum, sal maar toenemend vir hulle ‘n baie dik renostervel moet groei as hulle oor hierdie aangeleenthede die president en die ANC-regering aanvat.

Hulle moet die kop laat sak en hulle nie deur ‘n gekapittel van ‘n president wat diesulkes die vark in die verhaal probeer maak, laat afskrik nie. Hulle moet met hom ter gelegener én ter ongelegener tyd aanhoudend daaroor worstel.

Andreas ·

As diesulkes wat met hom worstel in die proses uitputtend raak, laat dit so wees.

Poot ·

Dis een ding om plaasmoorde te veroordeel. Dis n ander ding om iets daar omtrent te doen. Loop doen nou iets mnr Ramaposa.

Ag ja ·

Enigste rede waarom hy dit veroordeel, is omdat daar druk op hom geplaas is. Hy bedoel dit nie regtig nie

Andreas ·

Nee Cyril Ramaphosa en die ANC-regering sal nie, want meeste boere is wit, ongeag die moordkoers, selfs as dit sou verdubbel sal hulle nog steeds vir jou sê almal in die land is gelyk, maar hulle sal veg om te keer dat daar weer aan enige blanke groepering wat die meerderheid vorm aandag gegee word. As jy as wit mens nie toevallig in ‘n sekere gebied woon waar polisie is nie, sal hulle nie ‘n kantoor daar opsit nie, daar moet jy maar self sien kom klaar.

Ben Potgieter ·

Politikusse speel met woorde.Lees mooi tussen die lyne.Minister Didiza en die president noem weereens dat versoening en mense verhoudings aangespreek moet word.Dus die boere moet hul kant bring dan sal dinge beter gaan.Niks van die wreedheid word aangespreek nie,dis vir hulle’n las om die dinge aan te spreek.Daar moet ‘n kinkel elke keer wees wat vinger wys na die blankes.Wat my krap is die mense wat in ekstase gaan oor die noem van plaasmoorde deur CR en absoluut niks gebeur nie.As iets gedoen word sal ek reageer.Kan net bid en vertrou,maar glo nie dinge gaan verander onder die ANC nie.

Rina Kotze ·

Praat is een ding, Mnr President, DOEN, is ‘n ander ding!

Totdat jy regtig iets doen aan jou kosvoorsieners vir jou land, om hulle en hul gesinne en
plase te beskermm gaan jy, Mnr President, een van die dae nie kos hê om te koop ne.

Violet ·

Mnr President, u benadeel nie net vir ons nie, maar al jou eie mense sal ook teen jou draai wanneer daar niks te koop of te eet is nie.

Jan Publiek ·

‘Distance’ en ‘reconcilation’ het niks daarmee te doen nie – hy soek net verskonings – dit is pure rassehaat – en hy keur dit nie af nie.
Hy probeer net sy stemme behou.
So rugraatloos.
Hy voel duidelik ‘n veer

wraggies ·

Ek stem nie saam dat hy of die ANC enigsens plaasmoorde veroordeel het nie, dit was net ‘n woordespel.

Vintcent ·

Indien hy ‘n man was, en nie ‘n handpop nie, sou hy sy gesig wys by landbou(boere)-vergaderings. Koffie drink saam met ANC-meelopers, op Stellenbosch, tel nie…

Denise ·

Hahaaa…ek sal julle monde,graag wil hoor as die EFF aan bewind kom..!!!

Heinrich ·

DIt laat my dink aan ‘n vrou wat haar man forseer om te sê dat hy haar lief het, maar nog steeds later in sy skelmpie se arms inhardloop. Om iemand te forseer om iets te sê is al ‘n stap in die regte rigting, maar om hulle sovêr te kry om iets hieraan te wil doen is iets anders. Volhou en aanhou ouens, moenie bewusmaking verslap nie!

Mossie ·

Tog was hy gedruk om iets daaromtrent te sê en ander lande wie se oë begin oopgaan neem notisie van wat gesê word. Nog niks het verander nie, maar deur volgehoue druk toe te pas, bly ons blanke Suid-Afrikaners se stem deursypel soos n laste muskiet in die nag. Ons is n bedreigde spesie, MAAR ons is NOG NIE uitgewis nie. Hou aan om daardie lastige wit stemmetjie te wees!

Rubber ·

Al wat geskryf het is “Piet Retief” en Maroela haal dit af. Vryspraak is daar nie meer nie. As Ramaphosa ernstig was het hy Boere moorde tot prioriteit misdade verklaar. Hy sê dit om die buiteland te paai.

Regs! ·

Cyril Rama-lame duck sê maar net so omdat hy onder druk geplaas word om dit te sê. Hy sal ook niks daaraan doen nie! Dit is dan die ANC se plan van die begin af!!!

Andreas ·

Vir ‘n begin kan CR vir die minister van polisie en die kommisaris opdrag gee om ‘n dinkskrum te vorm, plaaslike belanghebbendes en kundiges te betrek, al moet hulle oorsee gaan kersopsteek en dan met antwoorde na hom terugkom. Wat dink jy?

Magaretha van heerden ·

Ramaphosa word nou eers wakker. Seker na die ryk manne vergadering in Europa! Hulle het hom seker bietjie geroer. Nou word dit gdoen ter wille van die “ekonomie”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.