Nuuskommentaar: Renate Barnard en die advertensie wat DStv nie wil wys nie

Kol. Renate Barnard. Foto: Reint Dykema

Kol. Renate Barnard. Foto: Reint Dykema

Binnekort dien die Renate Barnard-saak voor die grondwetlike hof. In die aanloop het bykans elke moontlike regsaspek reeds onder die vergrootglas beland, en pas het nog ‘n aspek bygekom – persvryheid.

Dié saak het sy aanloop in ‘n TV-advertensie wat Barnard se vakbond, Solidariteit, vir DStv gemaak het, bespreek het en voor betaal het. Voor die uitsending het DStv egter geweier om dit uit te saai, en taamlike lamlendige redes aangevoer. Sien die advertensie hier.

Wanneer ‘n land se posisie op die persvryheidsindeks bepaal word, word ‘n groot verskeidenheid faktore in aanmerking geneem. Een hiervan is die beperkende rol wat die staat op die verspreiding van inligting deur die media plaas. Onder die ander faktore speel die rol wat groot sakelui speel in wat die media bereid is om te plaas, soos Griekeland, die rol van politici soos in Italië, en die media se eie weerspieëling van politieke diversiteit. Laasgenoemde beteken dat ‘n koerant of ander medium die grootste voorpraters vir mediavryheid kan wees, openlik die liberale agenda kan aanhang, maar in die praktyk juis daardie regte versmoor deur traag te wees om ander standpunte te stel, of selfs vyandig daarteenoor optree.

As iemand ‘n hond wil klop, sal hy gou ‘n lat vind … Beeld skryf in sy hoofartikel waarin hy regter Thokozile Masipa in die Oscar Pistorius-saak kritiseer oor sekere beperkings op die media: “Dit skaad die beginsel van oop geregtigheid in ons regstelsel voor die wêreld se oë.”

Die kritiek op Masipa kom uit dieselfde stal as die besluit om die Renate Barnard-advertensie nie uit te saai nie. Regstappe is nou ingestel.

Een van DStv se besware is dat die advertensie glo politiek van aard is, maar die advertensies van politieke partye word wel gedra. Dit ontgaan DStv skynbaar dat die grondwetlike demokrasie wyer gaan as net die speelveld van politieke partye – onder meer word die media se rol so belangrik geag dat dit al as die vierde, weliswaar nie-amptelike been van demokrasie beskryf is. Maar net so meen staatsregkenners dat ‘n grondwetlike demokrasie nog nie behoorlik ontplooi is voor die burgerlike organisasies nie behoorlik funksioneer nie. En dit is Solidariteit, onder meer.

DStv tas dus nie net persvryheid aan nie, maar skend ook ‘n tweede aspek van grondwetlike demokrasie.

Trouens, dit lyk of dit juis DStv is wat die politiekery bedryf deur beswaar te hê daaroor dat die advertensie oor “regstellende aksie” handel. Maar die hofsaak handel dan juis daaroor om regstellende aksie, soos in die grondwet bepaal, binne die raamwerk van die grondwetlike bedoeling te kry, en onder meer te keer dat dit ‘n nuwe rassisme skep – iets waarteen die grondwet dit ook het.

En tot die grondwetlike hof uitspraak lewer is die appèlhof se uitspraak, wat Solidariteit gelyk gegee het, die geldende reg.

Daar kan geen twyfel wees oor wie nou die morele hoë grond beklee nie.

Nuusmanipulasie handel nie net oor wat aan die groot klok gehang word nie (veral as dit nog effe gedokter of aangedik word), maar ook wat verswyg word.

Tog kan die media nie alleen die blaam dra nie. Die media moet verkoop, en daarom kan die media nie te veel kosbare ruimte of bronne verkwis om selfs belangrike nuus te dra nie, maar wat deur min lesers gelees word. Die afgelope Sondag het Rapport die bevindings van ‘n peiling gedra waarin bevind is dat Suid-Afrikaners se wetenskapkennis maar beroerd is. Die nodige inligting wat die lesers die regte antwoorde sou laat verskaf het, is meestal reeds by herhaling in die media gedra – dit word net nie gelees nie.

Soms kan dié soort onkunde dodelik gevaarlik wees. Na ‘n reeks aanvalle op besoekers op Naval Hill waaroor Volskblad en die ander plaaslike media by herhaling oor berig het, word ‘n paartjie weer aangeval en sê daarna hulle het nie geweet dis gevaarlik daar nie. Of iemand gaan stort om te keer dat hy vigs opdoen. Of iemand gaan draf voor sononder of na sonsondergang deur ‘n parkie waar gereeld verkragtings plaasvind.

Elke nou en dan bly belangrike buitelandse nuus in die slag omdat nog ‘n paar kolomme beskikbare spasie vir nog meer detail oor ‘n opspraakwekkende hofsaak benodig word, byvoorbeeld die Griekwastad-moordverhoor. Is dit by wyse van spreke werklik belangrik watter kleur skoene ‘n getuie aangehad het, as dit opgeweeg moet word teen nuus oor ‘n konflik elders wat die brandstofprys weer skerp laat styg, of die rand nog ‘n paar houe toedien?

Nee, maar die koerant moet verkoop om te kan voortbestaan.

Is die gemiddelde nuusverbruiker in Suid-Afrika nou nie meer van die buitewêreld geïsoleerd as tydens die isolasiejare nie? “Die buiteland” bestaan nie maar net uit moontlike emigrasie- of vakansiebestemmings en inligting daaroor uit brosjures nie. Ontnugtering volg dan gou op die PfP(Pack for Perth).

Let gerus hoe dit dikwels die berigte op nuusblaaie se Facebook-blaaie is wat die mins belangrike inligting bevat, wat dikwels die meeste “likes” kry en kommentaar ontlok. Die media wat namens hul lesers besluit sulke nuus is nie belangrik nie, en dit verswyg, karring aan die dood in die pot. Die geheim is om dit wat belangrik is ook in die nuus in te werk, sodat lesers goed ingelig is, en onder meer ingeligte besluite kan neem wanneer hulle binnekort hul kruisies in die algemene verkiesing gaan trek.

Die mediawêreld is leeuwêreld, en dit verg katvoet loop. Foute word maklik gemaak, en danksy die opkoms van die sosiale media word sulke foute gou, en in oordaad, aan die groot klok gehang. Daarom moet nuusbestuurders besonder sensitief wees dat dubbele maatstawwe nie toegepas word nie, veral nie gedryf deur eie (politieke) agendas nie.

En iemand soos Barnard verdien ‘n monument vir wat sy reeds ter wille van reg en geregtigheid deurgemaak het – nie die klappe van kleinlike politiek nie. Selfs die mees eenogige Super 15-stiefregter sou sien dat DStv nou liederlik onkant speel.

Lees ook:
Eksklusiewe video: Hier is die advertensie wat jy nie mag sien nie
Solidariteit begin met regsaksie teen DStv oor advertensie
‘Die advertensie wat DStv nie wil hê jy moet sien nie’

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.