Nuuskommentaar: SA, die VN-Veiligheidsraad en die Afrika-agenda

Met die aanbreek van die nuwe jaar is Suid-Afrika met ‘n belangrike internasionale verantwoordelikheid toevertrou – die voorsitterskap van die VN se Veiligheidsraad. Suid-Afrika het reeds aangedui dat dit die maandlange voorsitterskap gaan gebruik om die sogenaamde Afrika-agenda te dryf.

Hoewel min mense ‘n herhaling van die vorige rondte, die Khumalo-katstrofe, verwag, moet dit in gedagte gehou word dat die ambassadeur uiteindelik net die sigbare gewig van die pendulum is wat vanuit die Kabinet en Lethuli-huis swaai, en verrassings – wat verleenthede insluit – is nie noodwendig uitgesluit nie. Wat die sogenaamde Afrika-agenda betref, is Suid-Afrika na ‘n lang Eurosentriese geskiedenis eintlik ‘n relatiewe laatkommer in ‘n Afro-sentriese omgewing, en die oënskynlike pogings om meer Rooms as die pous te wil wees, is seker te wagte.

Maar is daar werklik ‘n Afrika-agenda? Suid-Afrika se verduidelikings tot dusver, soos hoe die wêreld skynbaar teen Afrika-wense in, in die Ivoorkus en veral Libië opgetree het, maak weinig sin. Afrika bestaan uit ‘n magdom ongelooflike sterk regionale belange. Die Noorde van Afrika is grootliks Arabies, en nege van die 22 lidlande van die Arabiese Bond is Afrikalande. Boonop is die Arabiese Bond deel van ‘n groter familie van Islamitiese state, wat lande soos Tsjad, Mali en Niger insluit. Nog ‘n groot aantal Afrikalande het groot, of selfs oorwegende Islamitiese bevolkings soos Ethiopië, Nigerië, die Ivoorkus en Sierra Leone.

Egipte het in die duisende jare van sy bestaan groter kulturele bande met die Midde-Ooste gehandhaaf, terwyl die Arabiese lande aan die Middellandse See deur die eeue van Kartaagse, Gotiese, Romeinse, Bisantynse, Ottomaanse en Europese invloede betreklik min deur Afrika suid van die Sahara beïnvloed is. In ‘n stadium het die Sultan van Oman selfs sy hoofsetel na die eiland Zanzibar verskuif, terwyl Mosambiek se naam afgelei is van ‘n Arabiese heerser, Musa ibn Biki op ‘n eiland aan die hedendaagse Mosambiekse kus. Madagaskar is baie lank gelede hoofsaaklik vanuit Indonesië bevolk, en Mauritius meer onlangs hoofsaaklik uit Indië.

Wat die omverwerping van Ghaddafi in Libië betref, ontgaan dit Suid-Afrika skynbaar dat Afrika-lidlande van die Arabiese Bond lank reeds Ghaddafi se omverwerping gesteun het voor die Afrika-Unie die realiteit suur-suur aanvaar het. Die nie-Arabiese deel van Afrika word hoofsaaklik verdeel in ‘n Franssprekende en Engelssprekende deel. Die Franse gemeenskap, nou bekend as die Francophonie wat die Franse gemenebes in 1954 vervang het, se bande tussen Frankryk en eertydse kolonies is oor die algemeen heg. Anders as met die Statebond werk besluitneming eerder op konsensus, en al is dit formeel ‘n losser instelling, belê die Francophonie in effek tien keer soveel geld per burger as die Statebond. En geld praat. Maar danksy Frankryk wat sy invloed uitoefen, word Afrikane wat uit Franssprekende Afrika kom, in groot getalle aan Franse universiteite opgelei, en Frankryk sien ook toe dat Franssprekende Afrikane invloedryke poste in internasionale liggame soos die IMF verkry. Altesaam 28 Afrikalande is lid hiervan, en Ghana het assosiaat-lidmaatskap en Mosambiek het waarnemerstatus. Onder die lidlande tel ook Egipte. Vier Afrikalande is ook lidlande van Opec, nadat Gaboen in 1995 sy lidmaatskap opgesê het.

Verder is 15 Wes-Afrikaanse lande, waaronder die invloedryke Nigerië, lid van ‘n ekonomiese streekgroepering, bekend as Ecowas. Ecowas se houding oor die Ivoorkuskrisis – een van sy lidlande – het aansienlik verskil van hoe Suid-Afrika die AU se standpunt hieroor aan die wêreld probeer verkwansel het. Die kort en die lank is dat daar weinig van ‘n Afrika-identiteit is wat as ‘n Afrika-agenda neergestip kan word. Trouens, Afrikalande word gereeld aangemoedig om hul ekonomiese potensiaal verder te ontsluit deur onderlinge handel gestimuleer te kry, omdat die meeste Afrikalande verkies om bilaterale ekonomiese bande buite die kontinent te smee. En mekaar met doeane-reëlings keel af te sny.

Dit is dus onduidelik wat Suid-Afrika as die Afrika-agenda beskou – tensy dit deur ‘n Sadek-bril is waar Suid-Afrika ‘n leierskapsrol speel maar deur Mugabe aan die neus gelei word. Die beklemtoning van ‘n Afrika-kolletief hou boonop die gevaar in dat die negatiewe ook beklemtoon sal word. Die Afrikaland wat die beste posisie op die korrupsiepersepsie-indeks beklee, Botswana, hou die 32ste plek. Suid-Afrika beklee die 64de posisie, na lande soos Namibië en selfs Rwanda. ‘n Afrikaland, Somalië is onderaan die lys, en verskeie ander Afrikalande verseker dat die kontinent aan die muishondkant van die indeks goed verteenwoordig is.

Die Afrikaland wat die hoogste posisie op Verslaggewers Sonder Grense se persvryheidsindeks beklee is Namibië op 21ste, ‘n mening wat Freedom House in ieder geval nie deel nie. Suid-Afrika is in die 38ste posisie en word ook hier deur verskeie Afrikalande afgestof. Benewens dat ‘n Afrikaland, Eritrea, die laagste posisie op die indeks beklee is Afrikalande goed onder die media-muishondlande van die wêreld verteenwoordig. Gelukkig sien min Suid-Afrikaners wat die wêreldmedia en politieke leiers dink van Suid-Afrika se aanbieding van COP-17, en wat die media daar buite oor Suid-Afrika se rol en houding oor die onlangse verkiesing in die DRK te sê het. Natuurlik het Afrika veel om op trots te wees, maar dan moet Suid-Afrika die rasbril afhaal wat die Afrika-agenda as ‘n rubberstempel van die Sadek-omgewing beskou. Afrika is veel, veel meer as dit.

‘n Afrika wat bekendes soos Hanibal, Augustinus, die Ethiopiese dinastieë, bekende Egiptiese Farao’s, magtige Maliese konings en vele meer insluit, is veel meer verteenwoordigend as net van Tsjaka, Mugabe, Ghaddfi en Amin. As die Afrika-agenda duidelik demokratiese en vryheidsideale insluit, duidelik uitgesproke anti-diktatoriaal is en die beste strategiese belang van Afrika in die oog het, is daar met ‘n Afrika-agenda niks verkeerd nie. Val die fokus op die raskwessie – soos Suid-Afrika se bisarre deelname aan Haiti se abortiewe 200-jarige onafhanklikheidsvieringe, en word die narstreke van Dumisani Khumalo by die VN herhaal, gaan Afrika nog lank die persepsie hê van ‘n donker kontinent waarvan enige bisarre logika kan voortvloei. Sommer as vertrekpunt is daar ‘n dure verantwoordelikheid op Suid-Afrika om nie weer die AU se lidlande van die Arabiese Bond in ‘n verleentheid te stel deur oor Sirië en die Al-Assad-bewind ‘n soortgelyke houding as oor Ghaddafi in te neem nie. Dan word die Afrika-agenda ‘n spyskaart waarop lewendige skerpioene die hoofdis is.

Dit sal die regering ook loon om binnelands te kyk. ‘n Oproepe om nasionale eenheid terwyl voortgegaan word om gemeenskappe van mekaar te vervreem, om sommige gemeenskappe te verneder en te bedreig met haatspraakliedere en pleknaamveranderings eerder as die uitoefening van nie-polariserende opsies, die opdwing van nasionale rassekwotas wat blootgestelde gemeenskappe in sekere provinsies nog verder gaan marginaliseer, is ‘n sinnelose gebrabbel. Dit val boonop ooreen met die ANC se eeufeesvieringe, en die land hou asem op oor welke staatshoofde en regeringsleiers as gaste gaan opdaag. Suid-Afrikaners is al gewoond dat hierdie besoekers die karakter van die wêreld se muishondgalery aanneem, maar met pres. Hugo Chavez wat gesê het die VSA gee Latyns-Amerikaanse leiers kanker, kan dit die karakter aanneem van die ou mense se uitdrukking as ‘n sirkus ‘n dorp besoek – die spulle is weer hier.

Oor ‘n maand sal ons en die wêreld weet of Suid-Afrika die Afrika-vlag met trots in die Veiligheidsraad gedra gekry het, of so rasbenepe met die Afrika-agenda omgegaan het dat Afrika as kontinent weer ‘n persepsieknou weg het.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae