Nuuskommentaar: Sal die regte VSA (arm en/of ryk) asseblief opstaan?

vsa-vlag-amerika-amerikaans

Foto: Samuel Branch/Unsplash.com

Is die VSA ʼn ryk of ʼn arm land? Verskriklik arm, voer ʼn Vlaamse skrywer in ʼn nuwe boek aan waarvan die voorpublikasieweergawe tans bekend gestel word. Op die oog af lyk dit of hy ʼn punt beet kan hê, al word die VSA met berge skuld en al steeds deur die meeste gesagsliggame as een van die rykste land ter wêreld, indien nie die rykste nie, beskou.

Die rykdom van ʼn land kan op verskillende maniere bepaal word. As ʼn mens die BNP in terme van die bruto per capita uit druk, of te wel die gemiddelde inkomste per burger, dui dit inderdaad nie die VSA as die rykste land aan nie, maar wel die piepklein landjie, Luxemburg, met ’n gemiddelde inkomste per capita van $119,719. Op dié lys, vir 2020, is die VSA in die no. 7-posisie.

Maar, skryf Steven De Foer, joernalis van die Vlaamse dagblad De Standaard, oor sy boek Arm Amerika: “Patiënt Amerika is ziek en een vaccin is nog niet gevonden. Witte Amerikanen verdienen gemiddeld dertien keer zoveel als zwarte. De levensverwachting daalt. Luchthavens en het wegennet zijn in verval. Hoe is het zover kunnen komen?” (Die pasiënt, Amerika, is siek en ’n teenmiddel is nog nie gevind nie. Wit Amerikaners verdien gemiddeld 13 keer soveel as swart mense, die lewensverwagting daal en lughawens en die padnetwerk is in verval. Hoe het dit gebeur?).

Wat die dalende lewensverwagting in die VSA betref, word mans in dié land gemiddeld 78 jaar oud, en vroue 81 jaar, wat twee tot drie jaar minder is as in België en Nederland, en ses jaar minder as in Switserland en Japan. Dié daling het nog wat statistieke betref, niks met Covid-19 te make nie. Die oorsake hiervoor is Amerikaanse eetgewoontes, die gebruik van dwelmmiddels en selfmoord.

De Foer lig ook die enorme inkomsteverskille uit, asook die feit dat die verskille dikwels in terme van ras uitgedruk kan word: “In de recentste grote peiling was het mediaanvermogen 11.000 dollar voor zwarten, 13.000 dollar voor latino’s en 142.000 dollar voor blanken. U leest dit goed: het vermogen van een witte Amerikaan is dertienmaal groter dan dat van een zwarte, en elfmaal groter dan dat van een hispanic.”

Maar wat dink die Amerikaners self, soos uitgedruk in die ekonomiese vertrouensindeks? Dié maand het dit tot die laagste vlak in ses jaar gedaal en staan nou op 93,7, teenoor ’n hoogtepunt van 147,8 in Januarie vanjaar. Op 21 April rapporteer Rasmussen dat sy jongste peiling aangetoon het dat 40% van die Amerikaanse volwassenes sê hulle of naby familie is hul werk kwyt weens die Covid-19-pandemie kwyt. ʼn  Maand tevore was dit nog 32%.

Feitlik deurgaans toon opeenvolgende peilings dat daar ʼn verband is tussen ekonomiese data en pres. Donald Trump se hantering van die Covid-19-pandemie, asook Trump se gewildheid en sy kanse om later vanjaar vir ʼn tweede termyn verkies te word.

Daar is omtrent die situasie geweldig baie ooreenkomste tussen Suid-Afrika en die VSA, met Suid-Afrika wat die voordeel het om te sien hoe die kiesers op hul regeringsoptrede reageer. Die vernaamste hiervan is dat die VSA later vanjaar reeds stembus toe gaan, onder meer vir ’n presidentsverkiesing, terwyl Suid-Afrika veronderstel is om volgende jaar vir die landswye munisipale verkiesings op te ruk na die stembus. Die Covid-19-pandemie het albei in die weegskaal geplaas, terwyl naas die pandemie ʼn arsenaal ander probleme Suid-Afrika ook in die gesig staar.

Pres. Cyril Ramaphosa moet ook nou erg vinger trek om sy populariteit binne ʼn uiters komplekse konteks te herwin. By tye is daar belowende tekens, en verwys politieke kommentators selfs oor die Ramaforia wat herstel word. Daardie kersies word gewoonlik gou deur onder meer ongehoord swak ministers wat die grootste stommiteite aanvang, veral rondom die inperkingsregulasies gedwarsboom, en nie skroom om rassespanning met blatante rassisme en flagrante kluitjies aan te blaas nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Therese ·

Indien Amerika werklik verval, en ek ‘n mening kan waag, sou ek reken die VSA se agteruitgang is in ooreenstemming met die vóóruitgang van China.
Verlies van vervaardiging en intellektuele ‘diefstal’ deur China, onder die stille goedkeuring van skatryk Amerikaanse globaliste, was en is nog steeds die probleem. Ironies dat die Chinese Wuhan-virus Amerika se doodsteek kan wees.
President Trump probeer wal gooi, maar word eerder verguis as bedank vir sy moeite.

Jakes ·

Ek dink de Foer moet dalk eers kyk wat in die EU aangaan dit is maklik om drie lande in die EU te noem, maar wat van die res…..Spanje,Italie, Griekeland ens.
Trump en sy span is tans besig om die Bush, Clinton en Obama gemors wat hulle aangejaag het te probeer regstel.

Adam ·

Amerika het by verre die grootste ekonomie en China het vroeg vanjaar reeds die swakste in meer as 50 jaar presteer. terwyl die Amerikaanse ekonomie voor die Covid pandemie gefloreer het. Verlede week het Mike Garcia die eerste keer in meer as 20 jaar die Kaliforniese setel in sy county vir die Republikeine verower Die verkiesing sal ongetwyfeld handel oor Trump se hantering van die Covid pandemie, maar met al die geraamtes in die Demokrate se kas, en Obama se droewe nalatenskap, glo ek daar sal weer ‘n rooi gety oor Amerika spoel. Om SA met die VSA te vergelyk is soos om ‘n Volksie teen ‘n Formule 1 motor op Kyalami te laat meeding.

Jaco ·

Arm of nie, Amerika is steeds SONDER beurtkrag, vuil swak staatshospitale, swak of geen munisipale dienslewering ens ens ens. Ek wens ramaphosa wil ons wit mense soontoe deporteer. Hy hou tog eintlik nie van ons nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.