Nuuskommentaar: Sport en rassekwotas al weer / nog steeds

Argieffoto

Argieffoto

Net meer as ’n jaar gelede, op 4 Augustus 2014, het Maroela Media ’n omvattende nuuskommentaar geplaas onder die opskrif, Ras, kwotas en die blinde sambok. Hierin is probeer om alle – ook die internasionale – aspekte te betrek. Daar is onder meer op gewys dat Samoane “oorverteenwoordig” is in senior geledere van Amerikaanse voetbal (Amerikaans-Samoa is deel van die VSA se gemenebes). Trouens, in haas elke groot Amerikaanse sportsoort is die rassesamestelling skeefgetrek. Elders in die wêreld word dit “mode” om minstens twee Polinesiese spelers in beroepsrugbyklubs in te sluit, terwyl die aantal lande wat met ’n Polinesiese speler of twee in sy geledere toetsrugby speel, ook al meer word.

Die nuuskommentaar wys ook daarop dat die meeste sportkodes op internasionale vlak onbuigsame reëls het wat regeringsinmenging in daardie sportsoorte verbied, en daarby ook rassisme. Fifa het verskeie lande al oor regeringsinmenging geskors, waaronder Kenia, Griekeland, Iran en Nigerië, terwyl selfs die magtige Brasilië bepaalde voorwaardes moes nakom. In die onlangse verlede moes verskeie sokkerklubs hul belangrike tuisligawedstryde voor leë pawiljoene speel weens strafmaatreëls oor rassisme onder hul ondersteuners.

Maar kom dit by Suid-Afrika is regeringsinmenging vanselfsprekend inbegrepe. Trouens, in so ’n mate dat die regering, eerder as Safa, onder die vergrootglas is oor die oënskynlik duidelike betaling van omkoopgeld aan Fifa-amptenare om die wêreldbekertoernooi vir Suid-Afrika te verseker.  Met die vorige toernooi het Suid-Afrika teen Duitsland uitgeval – tot die duidelike verbasing van Suid-Afrika se verteenwoordigers – en nou aangesuiwer met bewerings oor ’n tas vol geld wat van hande verwissel het … maar toe was dit skynbaar mense van die private sektor wat met die gekonkel verbrou het.

Sedert die nuuskommentaar (byna ’n omvattend nagevorste verhandeling) van ’n jaar gelede het min verander en is dit eerder ’n geval van net nog meer van dieselfde onverkwiklikhede.

Verskeie Suid-Afrikaanse sportkodes, soos rugby en krieket, is reeds by die internasionale liggame verkla oor rassisme (kwotas) en regeringsinmenging. Die reaksie was gewoonlik soos iemand wat per ongeluk ver van die geriewe ’n bol in die broek gemaak het en nou hard probeer om die onafwendbare verleentheid te voorkom.

Aan die kern van die saak bly die vraag of kwotas en sportmangees met mekaar versoen kan word. Van Suid-Afrika se voorste swart en bruin sportlui het al heftig beswaar gemaak dat daar na hulle as kwotaspelers verwys is – tot die ontsteltenis van regeringslui.

Pas het Cosatu in die Wes-Kaap bekend gemaak dat vyf swart Springbokspelers gekla het dat hulle nie speelkans in Heyneke Meyer se toetsspan kry nie. In die verloortoets teen Argentinië (sonder 11 van hul gereelde spelers) het net een swart en een bruin speler saam met die beginspan op die veld gedraf. Vooraf is oor die algemeen verwag dat die Bokke maklik die wa deur die drif gesleep sou kry, maar dit was die naweek waartydens selfvertroue ’n duur prys betaal het. Die Wallabies het die All Blacks op hul eie eiland gaan afstof, die Pumas het die Haaie op droë grond uitgesleep, en die Cheetahs het geleer dat spelvryheid nie die noodsaaklikheid om dodelik te verdedig uitsluit nie, en dat aanslane en mamparraskoppe met ’n prys gepaardgaan.

Dan is daar nog iets soos die gemotiveerdheid van die ander span. Vra maar vir die Bokke.

Dit is byna onafwendbaar dat die kwessie van kwotas weer ná die Bokke se (tydige) loesing ter sprake sou kom. Heyneke sou weet die kwessie om slegs twee spelers van kleur in te span sou selfs ná ’n oorwinning onder skoot kom, want die ANC en sy meelopers se rasbenepe standpunt hieroor het immers nie verander nie. Lippediens aan “transformasie” voorkom nie dat die telraam met sy wit, bruin en swart balletjies deurlopend ingespan word nie, en die Proteas se krieketspan weet van die vergrootglas op hom. Daar was al ’n paar storms hieroor, veral ná ’n verloorslag. Ontkennings en bevestiging van inmenging in die kies van spanne vlieg rond.

Enige regering wat sy sout werd is, weet dat sportprestasies van sy burgers tot ’n nasionale trots bydra, wat veral vir lande met ’n heterogene samestelling van groot belang is. In Suid-Afrika het dit selfs ’n amptelike naam, nasiebou, maar word op haas elke ander terrein deur die regering gesaboteer, veral deur rasbenepenheid in die ekonomie en die gevolglike strooptogte op werksgeleenthede.

Ook wil die Bafana Bafana nie “regkom” nie, en kuier maar algaande agteruit op die internasionale ranglys. Ironies genoeg is van die Karibiese lande wat moes baat vind by die $10 miljoen wat Suid-Afrika betaal het vir diaspora-gemeenskappe se sokkerontwikkeling in die Karibiese Seegebied nou hoër as Suid-Afrika se posisie op die ranglys – en dit sonder ’n sweempie van ’n aanduiding dat ’n duit van daardie geld wel vir sokkerontwikkeling aangewend is.

Ook net meer as ’n jaar gelede skryf AfriForum soos volg in ’n nuusverklaring: “AfriForum het sy regspan opdrag gegee om voorbereidings te tref om ’n amptelike klag teen die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) se rassekwotabeleid by die Internasionale Rugbyraad (IRR) in te dien en ondersoek in te stel na die moontlikheid om ook ’n saak daarteen te voer by die internasionale hof vir sportarbitrasie. AfriForum se reaksie volg op die nuus dat Saru se president, Oregan Hoskins, pas aan die Springbok-afrigter, Heyneke Meyer, opdrag gegee het dat ras voortaan ’n groter rol in die samestelling van die Springbokspan moet speel. Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, verbied die IRR se reëls uitdruklik enige vorm van rassediskriminasie en politieke inmenging in rugby.”

Sedertdien was AfriForum gereeld in die nuus oor sy planne van internasionalisering van die regering se rasbeheptheid. Die rasbeheptheid blyk uit die fyn detail van kwotas wat soms op die tafel beland – in ’n stadium 50 persent “swart” deelname (wat bruin en Indiër insluit) maar 66 persent van die “swart” moet “etnies swart” wees.

In Bloemfontein was daar die afgelope winter vrae oor hoe dit gebeur dat die Hoërskool Sentraal, wat op die rugbyveld maklik met die Hoër Tegniese Skool Louis Botha afgereken het, Aspoestertjie-behandeling van die keurders gekry het toe die Cravenweekspan aangekondig is. Die rede was eenvoudig dat HTS Louis Botha wesenlik ’n swart skool is, en dat ’n rassekwota vir die Cravenweekspanne geld. Die Vrystaatse span, wat ’n trotse rekord op die Cravenweek het (of moet ʼn mens nou aanvaar dit moet die Mbalula-week heet?) het nie waffers gevaar nie.

Krieketspanne kry ook al strenger raskwota-voorskrifte.

Die vreemdheid is dat hierdie sportsoorte wat die regering so graag vol swart spelers wil sien, inderdaad van die SABC-kanale verdring word. En die SABC sou immers ’n belangrike werktuig kon wees om dié sportsoorte onder die agtergeblewe gemeenskappe te bevorder. Op hierdie kanale word egter baie aandag gegee aan rykmansportsoorte soos gholf en swem (waar [wit] Suid-Afrikaners gereeld presteer) terwyl rugby, krieket en atletiek feitlik die domein van betaal-TV geword het, en buite die bereik is van die gemeenskappe onder wie die sportsoorte bemark moet word.

Soos in die ekonomie, werk kwota-“kortpaaie” soos Langenhoven se goedkoop is duur koop. Net die rykes kan dit bekostig, want ’n vragmotortjie wat iewers goedkoop opgeraap is, kos ’n fortuin om aan die loop te kry en dan aan die loop te hou. En in Langenhoven se geval kon selfs die voorhamer en koevoet wat einde ten laaste ingespan is, nie die lorrie aan die loop kry nie.

En die regering kan maar gerus bietjie kers by Langenhoven gaan opsteek.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

Winston ·

Hou in gedagte dat die regering nie wil kers opsteek by voorheen bevoordeeldes nie. Langenhoven was een. Maak n swart span met net wit spelers op reserwe wat sit en kyk. Dalk werk dit om iets te bewys?

cais ·

Wat de hel maak dit saak wie speel,politiek sal nie die rugby beter maak nie net slegter,maak die span vol met met die ander speler en kan n mens sien of dit beter kan gaan.Weet julle hoekom gaan dit so swaar met die bokke,die manne wat kan rugby speel sit almal oor see.Hoe kan n man vir n ander land in die wereld beker rugby speel as hy nie eers vir sy eie land gekies kan word nie.Jy kan maar kyk die bestes sit oor see en daar gaan nog baie oor gaan.Politiek is soos kanker dit gaan die rugby dood maak

Bloues ·

Ek wonder of daar nie wel swart spelers is wat beter sou doen nie. Heinrich kon maklik vervang gewees het met oupa. Ons tweede hakker is ook lankal nie meer die tweede beste nie.
Dan hou ons die opwinde senter paar en daar is twee swart spoedvraate op die punte. Hier is klaar 4 swart spelers wat net so goed of beter kon gedoen het. Om Janjies n kans te gee op loskakel kan dalk ook n opsie wees.

arie steyn ·

ek stem volkome saam met michael , stuur n volle swart span vir saterdag se wedstryd dat ons kan sien wat gebeur , dit sal dalk ou tony se mond stil maak soos tolla gese het, mindyou, ek wonder of hy iets weet van rugby ?

Louis ·

Weet ook nie wat die antwoord is nie maar verstaan nie hoekom daar altyd n klomp swart spelers in n oefegroep is en dan kry hulle nooit kans nie. Heineke Meier het baie geleenthede gehad in die laaste 4 toetse om van die ouens te probeer. Ek dink maar aan Jantjies, Ntubeni, Mvovo ens. Ek glo hulle is goed genoeg maar nooit kans gegee nie. Ek se nie hulle sou suksesvol wees nie maar kon dit swakker gaan as met bv n Pollard of Strauss wie se spelpeil effe af is of n uit posissie Kriel. Om te se stuur n net swart span is dom want jy wil eintlik he hulle moet sleg doen en dan kan jy mos se – ek het julle gese.

david ras ·

‘n Stukkie perspektief oor die vereiste dat 60% (of enige ander syfer) uit swart spelers moet bestaan :

Gedurende dei apartheidsjare was daar op baie plekke een of ander kennisgewing wat gelui het: “gereserveer vir blankes/reserved for whites”
Wit apartheid .
Nou wil die ANC 60% van ‘n span “reserveer” vir swartes—
Swart Apartheid.!
Ek wonder hoe word hierdie saak aan die IRR en die rugbywereld aangebied.
Word daar bv klem gele op die feit dat selfs kinders deur hierdie swart rassisme getref word ?
En die IRR wat blykbaar maar liefs anderpad kyk as dit by SA kom. wat doen ons daaromtrent ?
Wat van: “gaan julle die IRR grondwet toepas, of gaan ons julle dwing om dit te doen ?”
Hoe klink ‘n hofbevel van ‘n Britse Hooggeregshof ? Dit kan gedoen word .

Maar nouja, dis weer wereldbeker tyd, en mens kan nie die bootjie te veel skommel nie, of hoe Kallie ?

Bloues ·

Louis, ek stem volkome saan met jou. Daar is swart spelers wat enige tyd net so goed of miskien beter sou vaar as van die wittes wat op die veld was.

Ouman ·

Kyk na Cosatu se amptelike verklaring. Wonder wie se hulle voor. Is dit dalk ‘n oud springbok afrigter?

Johan ·

Die oud afrigter het vanoggend op RSG gepraat! Hy het vir Jantjes gespeel, maar hy het ook nie die mas opgekom nie. Ek stem saam met Louis Heyneke kon al ander spelers kans gegee het.

Jaco ·

Ek kyk nie meer veel rugby nie maar stel belang hierin as iemand wie werk met groepsdinamika.

Dit pla my dat die vyf swart spelers hul spanmaats en spannaam so maklik kan verneder deur na Cosatu te gaan. Hoekom nie direk by hul spanleierskap kla nie? Dit is ‘n voorbeeld van geen integriteit: ‘a hissy fit’ omdat hulle mos kamtig beter weet as die afrigters en bestuurslede. Pleks hulle fokus op hul spel. Hoe kan daar ooit weer lojaliteit van hulle verwag word? Pleks dat hulle met hul maats gesels, gaan hulle en maak dit ‘n moerse politieke non-scandal by Cosatu. Wat wil hulle bereik daardeur? Regtig, wat het hulle gedink doen hulle. Cosatu gaan hulle nou soos elke ander ou gebruik vir eie politieke win. Soos Tony Ehrenreich en sy pêl ook eendag gaan agterkom – die ANC het ons kleurlinge ook net gebruik.

Laat ‘n mens wonder hoekom sportspelers as helde deur die publiek afgemaak word wanneer hulle eintlik vir ego en geld opdraf. Gelukkig is daar nog ‘n kern van goeie manne wat die spel bo hul salarisse ag. Hoop ek.

Alec Dick ·

Die probleem met die spingbokke is nie die getal swart of kwota spelers nie maar eerder die afrigter wat vasbeslote klou aan n klomp ou en oor die muur spelers wat ondervinding het. Frik du Preez het ook ondervinding hoekom kies hy hom nie. HM het genoeg tyd gehad om jong spelers n kans te gee maar het nie so nou haal dit hom in. Die wedstryd teen die Pumas was dit dit wit spelers wat nie op vorm was nie. Nou kies hy net n klomp swart spelers vir die volgende wedstryd omdat hy onder druk is. Al wat ons rugby publiek vra is kies die beste span op vorm ongeag of die speler pienk bruin blou of geel is. So sal daar transformsie wees sonder dat wette en kwotas moet wees.

Polaris ·

Rassekwotas word as ʼn instrument gebruik om die blankes te neutraliseer. Hulle rep geen woord wanneer blankes nie deel uitmaak van ʼn groep nie. Blankes staan in die pad van die ANC/COSATU aliansie se toekomsvisie vir hierdie land.
Dit is nou al afgesaag hoe die skeidsregters se interpretasie van die spel gereeld die Bokke benadeel.
Die Bokke gaan die wêreldbeker wen.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.