Nuuskommentaar: Staatskaping en Brexit: Kleintjies kan grotes hard laat val

Lungisa Fuzile. Foto: ANA

’n Voormalige direkteur-generaal van die tesourie getuig voor die Zondo-kommissie hy is vooraf deur die ANC se hoof van finansies ingelig hy gaan ’n “Gupta-minister” kry wat sy eie raadgewers gaan saambring. Die brokkie getuienis las verskeie aspekte van die groot kanonne se getuienis mooi aanmekaar. Intussen dreig Spanje om die Brexit-konsepooreenkoms op 25 November te laat vasval wanneer dit veronderstel is om finaal bekragtig te word, en dit oor ’n saak wat die ander lidlande as te nietig beskou het om as hoofsaak uitgeklaar te word – die politieke toekoms van die enklawe Gibraltar.

Met die getuienis voor die Zondo-kommissie oor staatskaping is dit duidelik dat die groot kanonne soos Pravin Gordhan en Barbara Hogan oor die nodige inligting beskik om ’n indrukwekkende verhaal oor staatskaping aan mekaar geflans te kry.

Maar wat ook duidelik is, is dat dit dikwels die klein vissies is wat oor die stukkies beskik wat nodig is om die groot tafereel aan mekaar te slaan. So het Lungisa Fuzile, voormalige direkteur-generaal van die tesourie, voor die Zondo-kommissie getuig hy is kort voor minister Nhlanhla Nene se afdanking deur Enoch Godongwana, die ANC se hoof van ekonomiese sake, meegedeel hy gaan ’n “Gupta-minister” kry wat saam met raadgewers daar sal opdaag. Min dinge kan hierdie brokkie inligting troef as bewys van die omvang wat die Zuptakrasie toe reeds ingeneem het.

Namate die skynbaar onsamehangende brokkies hul lêplek vind word die omvang van die staatskaping duideliker, en wil ’n mens ook weet: “Nou waar is al die oranje pakke?”.

Maar juis dit verklap ook hoe omvangryk staatskaping was – dat bykans niemand wat burger van die alternatiewe Zuptaryk was, hom weens onwettige optrede vasgeloop het nie. Selfs die grondwetlike meganisme dat ’n president net twee termyne mag dien, was geen kopkrapper vir die staatskapers nie – die opvolgerpresident moes bloot ook ’n Zuptaïet wees.

Twee spreekwoorde kom lynreg teen mekaar te staan: “Geld wat stom is, maak reg wat krom is,” en “Al loop die leuen hoe snel, die waarheid agterhaal hom wel.”

’n Mens wil hierby ook die waghondrol van ’n onafhanklike media inwerk. Die pen is magtiger as die swaard. Maar ’n volwasse grondwetlike demokrasie ken ook die mag van burgerlike instellings. Hul rol in die bereddering van ’n groot mate van persvryheid in die donker dae toe die ANC allerlei mediabeperkings soos ’n tribunaal en ’n snoerwet deur die parlement gestoomroller het, of minstens beleidsgewys omarm het, het die Zupta-bewind onder druk geplaas. Skielik bly die snoerwet ongeteken op die president se lessenaar lê en wanneer daar navrae hieroor was, is ’n bonte verskeidenheid “redes” aangevoer.

In die proses het Suid-Afrika se posisie op die persvryheidsindeks begin verbeter.

Hoe dit gebeur het dat Suid-Afrika ook op Transparency International se korrupsie-persepsie-indeks begin verbeter het, gaan nog lank by die organisasie spook namate die werklike stand van sake oor hoe endemies korrupsie in Suid-Afrika onder die Zuptakrasie geword het.

Het die Zupta-bewindhebbers die mag van die media (sosiale media ingesluit) onderskat? Of is daar ’n verband met die feit dat Verslaggewers Sonder Grense (VSG), ’n wêreldwye organisasie, kniediep in ’n finansiële oorlewingstryd was.

Skielik droog die pleidooie vir skenkings op, en Suid-Afrika se posisie op die indeks verbeter. Dit klink verdag, soos dat VSG nie feitefoute in hul verslae regstel nie, nadat die regte feite onder hul aandag gebring is. So verklaar VSG ’n belangrike “rede” vir Suid-Afrika se verbetering op die indeks as sou Zuma “weier” om die snoerwet te onderteken. Amptelik was die rede egter dat die president nog regsadvies oor die grondwetlikheid inwin. Hy was uiteraard die hoofdryfveer dat die wetsontwerp deur die parlement gestoomroller is.

brexit

Foto: Pixabay.com

Die wêreld sal binne dae sien hoe ’n groot rol ’n kleintjie kan speel om ’n grote te laat sneuwel. Onlangs is met groot fanfare aangekondig dat Brittanje en die Europese Unie tot ’n Brexit-vergelyk gekom het met ’n konsepooreenkoms van 585 bladsye. Sedertdien bevind die Britse premier, Theresa May, haar in die dryfsand.

En nou, enkele dae voor die beoogde finale bekragtiging daarvan op 25 November, opper Spanje ’n probleem wat nie eens as ’n moontlike probleem beskou is nie, naamlik hoe Brexit Gibraltar gaan raak. Word die saak net effens onder die vergrootglas geplaas, kan ’n mens nie anders nie as om bedenkinge te hê oor ’n EU-woordvoerder se optimisme dat die saak teen 25 November uitgepluis sal wees.

Agter al die komplekshede wat Spanje nou opper, steek Spanje se wrewel dat Brittanje ’n stukkie van “sy grondgebied” besit. Brittanje besit Gibraltar, nou ’n selfregerende gebied, reeds sedert 1713. Die inwoners het per referendum aangedui dat hulle eerder Brits wil bly as deel van Spanje word. In 2016 het die inwoners egter amper eenparig in ’n referendum besluit om deel van die Europese Unie te wees.

Sou Spanje as gevolg van hierdie kwessie teen Brexit stem, gaan Brittanje geen Brexit kry nie, omdat dit deur al die lidlande goedgekeur moet word.

Ironies, as daar nou ’n land is wat die Britte se sentimente oor Gibraltar behoort te verstaan, is dit Spanje. Spanje besit naamlik twee enklawes in Noord-Afrika, die stede Ceuta en Melilla. Albei het ’n bevolking van ongeveer 80 000, meestal Spaanssprekend en Rooms-Katoliek. ’n Berbertaal vorm ’n belangrike minderheid, en albei het groot Joodse gemeenskappe.

Soos Gibraltar geniet die twee stede nou selfregering, maar Marokko maak daarop aanspraak. Spanje administreer hulle as deel van die provinsie Cádiz.

Gaan Spanje ’n belangrike ooreenkoms soos Brexit se turf laat sit om ’n enklawe met ’n onwillige bevolking onder sy gesag te probeer kry?

Op Suid-Afrikaanse bodem is dit uiters belangrik dat ook die “kleintjies” wat oor stukkies van die staatskaping-legkaart beskik, hul getuienis voor die Zondo-kommissie gaan aflê.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Genieve ·

Wonder wie is die volgende getuie sekr ou zuma want hy het mos alles so te se toegelaat amper ons land aan die guptas verkoop. Wonder waar het hy skool gegaan en graad hoeveel het hy klaar gemaak.

humor ·

Daar is dikwels al gese z het net graad 3, maar ek is seker iets uit die bose onderwereld is nog steeds sy leermeester. En hy loop dag en nag sonder onderbreking klas.

aj ·

STAATSKAPING = VERRAAD

Wat is die lot wat landsverraaiers toekom?

Vuurpeloton!!

… sonder baie woorde … want baie woorde “verduister” die saak.

Stephan de S ·

Dankie Herman vir oa die interessante inligting oor Spanje se enklawes in Noord Afrika…….nie geweet nie. Verbasend dat Spanje so sterk voel oor Gibraltar terwyl hulself enklawes het. Is dit nie tipies van ons menslike natuur nie?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.