Nuuskommentaar: Transformasie en apartheid

nuwe SA-vlagGister was ongetwyfeld ‘n helder oomblik in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Eers het die grondwetlike hof uitspraak oor die Wes-Kaapse kommissie van ondersoek na die polisie in Khayelitsha gelewer. Die minister van polisie wat die instelling van die kommissie bitterlik teengestaan het, het ook in die laaste bastion waarheen hy appèl teen die Wes-Kaapse premier kon aanteken, die kous oor die kop gekry.

Kort hierna het AfriForum aangekondig dat 100 000 mense binne een dag per SMS vir die behoud van Pretoria se naam gestem het. Hiermee is die burgemeester van die Tshwane-metro, Kgosientso Ramokgopa, wat pas aangedui het dat die ANC hulle in hul planne om die stad se naam te verander, nie deur die howe gaan laat stuit nie, ‘n duidelike punt bewys. Om ‘n perspektief te gee – Verslaggewers Sonder Grense het wêreldwyd handtekeninge gewerf vir ‘n petisie oor persvryheid in Viëtnam, en was uiteindelik baie in hul skik om 25 000 handtekeninge te verkry.

Die grondwetlike hof se jongste uitspraak is uiters belangrik omdat dit die politieke kolonisasie van die grondwet in sy spore stuit. Volgens die grondwet is die polisie ‘n gedeelde nasionale en provinsiale funksie. In federale bedelings is dit ‘n betreklike standaard-praktyk om die gesag van die twee gewapende magte, die weermag en die polisie, nie onder dieselfde politieke gesag te plaas nie – deels ‘n historiese verloop van waar onafhanklike state in ‘n federasie saamgevoeg is, die deelstate ‘n deel van die swaardmag behou om iets in die hand te hê om die soewereine magte wat die deelstaat behou het, te bly verseker. Suid-Afrika is nie ‘n werklike federasie nie, en die historiese verloop was anders. Die provinsiale magte wat die provisies oor die polisie behou, is in hoofsaak die taak om doeltreffende polisiëring in die provinsie te verseker, en die ander magte is in wese hulpmiddels om doeltreffendheid te bereik, soos die eiesoortigheid van die tale wat gemeenskappe praat. Dié magte kom dus uit verskillende dele van die grondwet wat meer pertinent op provinsiale magte fokus.

Die fokus is dus doeltreffendheid deur inhoud te gee aan gemeenskappe se eiesoortigheid.

Dit het die provinsiale regering vroeg reeds in botsing met die nasionale polisiebestuur gebring wat van nasionale vlak Engels as enigste kommunikasietaal probeer opdwing het.

Omdat die ander provinsies deur die ANC beheer word, kon die provinsiale regerings in wese as rubberstempel gebruik word, en is dikwels eers na die tyd aan die provinsiale wetgewers verslag gedoen oor belangrike dinge binne hulle gesagsveld wat reeds gebeur het. Die hofuitspraak gister herstel in beginsel die grondwet se bepalings, maar sal in die praktyk net beteken dat provinsies wat hul eie magte wil uitoefen, dit kan doen.

Die Pretoria-naamkwessie staan teen die agtergrond van die vernaamste brondokumente waarop die grondwetlike bedeling geskoei is. Dit is eerstens ‘n vredesverdrag, bekend as die nasionale vredesakkoord. Hieruit het grondwetlike beginsels voortgespruit, wat deel van die oorgangsgrondwet was, en wat die grondwetlike hof moes sertifiseer in die finale grondwet opgeneem moes wees.

Baie van hierdie grondbeginsels kan, afhangende van die individu se eie politieke bril, baie uiteenlopend beoordeel word. Sommiges kan egter kwalik onduidelikheid oor die bedoeling lewer, soos die beginsel wat die diversiteit van taal en kultuur erken en beskerm, en wat bepaal dat omstandighede vir die bevordering daarvan bevorder en aangemoedig sal word. Die volgende grondwetlike beginsel bepaal dat gemeenskappe op grond van taal, kultuur en godsdiens outonome liggame kan skep solank nie teen ander gediskrimineer word nie. Regsgeleerdes meen die grondwetlike beginsels het minstens die regstatus van konvensie – iets wat heel bindend is.

Hieruit volg dit duidelik dat ‘n grondwet wat op ‘n skikking gebaseer is, van elkeen kompromieë vereis.

So ‘n grondwet lewer nie wenners of verloorders op nie, en is die ANC se aansprake op ‘n “oorwinning” in wese self ongrondwetlik. Dit trek duidelike strepe in die sand waar ‘n grondwetlike demokrasie nie met meerderheidsdiktatuur verwar moet word nie. Trouens, oud-president Nelson Mandela het hom duidelik uitgelaat dat hy net so veel teen wit oorheersing as teen swart oorheersing geveg het.

‘n Hele aantal kompromisreëlings is getref, waaronder dat plekname, tensy dit kwetsend is, behou sal word, maar dat die munisipaliteite ander name kan kry. Nog ‘n kompromisreëling is die elf amptelike tale, wat volgens die grondbeginsels van die grondwet bevorder en uitgebou moet word.

Voorstanders van transformasie besef dat woord “transformasie”, net soos rasbegunstigde bevoordeling (“affirmative action” wat van regstellende optrede onderskei moet word) nie in die grondwet voorkom nie, maar dit dan motiveer dat die “ganse grondwet ‘n transformasie-dokument” is.

Dit lei tot verskillende vertolkings, en ‘n gewilde argument is “om die nalatenskap van Mandela beslag te gee.”

Die interessante is dat die geskiedenis vol voorbeelde is van waar mense wat daarop aanspraak maak dat hulle iemand wat nie meer self ‘n rol speel nie se nalatenskap verteenwoordig, ideologies bitterlik ver uitmekaar staan. Die eertydse Argentynse president Juan de Perron het ‘n magdom sogenaamd Perronistiese organisasies “nagelaat.” Van hulle was ekstreem regs, en ander ekstreem links. Onder die bekendstes was die stedelike terreurorganisasie, die Montenero’s. Nie almal kon tog reg wees nie.

Dit klink verdag baie na die Tshwane-burgemeester se uitspraak tydens Mandela se hospitalisasie dat hy die straatnaamveranderingskwessie in Pretoria “ter wille van Mandela” wil deurdruk. Presies hoe hy dit in verband bring met hoe ander Mandela se droom van ‘n reënboognasie sien, is duister.

Pas is berig dat een van die land se bekendste transformasiedrywers, Kovsies se rektor prof. Jonathan Jansen, tydens die English Academy of South Africa se Percy Baneshik-gedenklesing op sy kampus gesê het: “… eksklusiewe Afrikaanse wit skole hou ’n ernstige gevaar in vir rasverhoudings in Suid-Afrika.”

Voorts… “Swart ouers verkies dat hul kinders in Engels leer… hulle maak die regte berekening dat die hele ekonomie in Engelse terme georganiseer is en daarom is hul kinders se kans op sukses soveel groter in die kolonietaal.”

Jansen het gesê Afrikaanse taalaktiviste verstaan dié beginsel glad nie en probeer daarom om nie-Engelse tale onder ’n “politieke sambreel” in te skuif “in ’n baie simplistiese plan om die een taal te bevorder, wat as ampstaal vir dekades onder apartheid status en finansiering geniet het”.

Hy het Engels as onderrigtaal bepleit en gesê moedertaalonderrig waarborg nie beter resultate nie.

Dié berig vanoggend in Volksblad sal heel duidelik ‘n groot debat ontketen waar die modder gaan vlieg, al is die lesing reeds op 18 September gelewer.

“Lees” Jansen transformasie soos die grondwet voor voorsiening maak reg?

Is hy nog gebonde aan versoening, soos destyds toe die Nederlandse koerant Trouw hom as Mandela se opvolger as nasionale versoener beskou het?

Indien die slegte elemente van transformasie – soos wat tot die DKD-Solidariteit-hofsaak gelei het, die geldende norm van transformasie verhef en opgedwing word, word dit vir sommige gemeenskappe presies dieselfde ervaring as wat die “onbedoelde / tydelike” slegte ervarings van apartheid vir ander gemeenskappe was – met die ironie dat die bruin gemeenskappe die skerp punt van beide voel.

Dan word transformasie vir baie ‘n vloekwoord en kan dit kwalik meer versoening dien.

Die grondwet self verbind hom tot die bepalings en uitleg van die internasionale reg, en minderheidsregte maak hiervan ‘n belangrike deel uit.

Om op minderheidsregte te trap, lei tot soos die Hervormde Kerk onlangs in sy oproepe tot ‘n dag van verootmoediging dit gestel het, dat baie lidmate ‘n gevoel van vervreemding in hul eie land ervaar. Dit is ‘n openbaring om op Facebook te lees hoeveel bruin mense openlik meen hulle is van hul land vervreem, en hoe dit die BBB voed.

Dit dui nie op versoening nie.

Versoening is ‘n komplekse metodiek, waarvan die onderdele in bykans elke lewensfeer teenwoordig is. Maar vertrapping van dit wat vir ander dierbaar is, wat kos op sy tafel sit, is beslis nie deel van versoening nie.

En transformasiedrywers, as hulle dit met versoening erns wil maak, moet fokus daarop om nie deur simplistiese redenasies juis die kragte los te laat wat versoening na die maan stuur nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Werner ·

Die swart bevolking stel nie (meer) belang in vredespraatjies nie. Volgens hul is dit ‘n swart land vir swartes deur swartes, verower “fair and square” en die res kan gaan bars. Behalwe wanneer ons ‘n internasionale sokkertoernooi hou, dan krap hul gou ‘n wit en bruin gesiggie nader. Ek dink nie rasverhoudinge was al so plofbaar nie. Al die ooreenkomste van 1994 was “a means to an end”. Hul het in 94 geglimlag en hande vasgehou. Toe die internasionale media wegkyk- hoog op die “Reenboognasie Euforie”- toe plant hul die dolk tussen die minderhede (en veral Boere) se blaaie. Nou begin hul dit draai… Ek dink ek weet hoe Piet Rietief gevoel het destyds.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.