Nuuskommentaar: Tussen die duiwel en die diep blou see lê Clifton-strand

Argieffoto

“Between a high wall and a very hard rock.” So verwys die Amerikaanse peilingsagentskap Rasmussen na die dooiepunt tussen pres. Donald Trump en die Demokraties beheerde Huis van Verteenwoordigers. Die dooiepunt bly groot nuus, maar bevind Suid-Afrikaners, veral in ’n verkiesingsjaar, hulle nie ook dikwels tussen die duiwel en die diep blou see nie?

Of bietjie anders gestel: “Tussen Duiwelspiek en die diep blou see lê Clifton se vierde strand.” Die kwessie is hier in ʼn nuuskommentaar op Maroela Media onder die loep geneem, en afgesien daarvan dat dinge nie staties is nie, bly die basiese feite en argumente nog in hoofsaak dieselfde.

Soos gebruiklik, speel politieke korrektheid ’n rol wanneer dit kom by die openbare diskoers oor waar Suid-Afrikaners vanjaar hul kruisies moet trek. Fopnuus is alledaags. Pas het die nuus gekom dat die DA volgens nog ʼn peiling aansienlik steun verloor het. Die DA stem nie saam met die peilings nie.

Ander ontleders meen die peilings is gedoen toe die DA in die sleurstroom van verdelende kwessies was soos die uitval met Patricia de Lille, en die manier waarop Helen Zille behandel is. Dit het onder meer vrae laat ontstaan of die DA-leier, Mmusi Maimane, nie dalk bietjie lig in die broek vir ’n gedugte taak is nie. Die DA mik na en werk hard vir groei, soos om beheer oor Gauteng oor te neem, en ideaal gesproke ook oor die Noord-Kaap.

’n Paar jaar gelede is die indruk gewek dat heelwat media demokrasie vertolk as dat jy vir enige party kan stem, solank dit die DA is. Binnelanders het immers gereeld in onder meer koerante se briewekolomme getuig van hoe ’n wonderlike ervaring en selfs openbaring dit was om ’n vakansie in die Wes-Kaap deur te bring, en behoorlik funksionerende munisipale dienste te ervaar. In die ANC-beheerde deel van die land het dit ’n rariteit begin word, en dis boonop geboekstaaf deur verdoemende verslag op verdoemende verslag deur die ouditeur-generaal.

Voorts het die Zuma-era so sleg vir die land verloop dat baie kiesers stram begin raak het om ANC te stem. Baie jong mense doen eenvoudig nie die moeite om as kiesers te registreer nie, en wegblyers by die stembus het veral die ANC geknou.

Indien die peilings korrek is dat die DA aansienlike steun verloor het, kan verskeie redes geopper word. Die verkiesing van Cyril Ramaphosa tot president het by baie Suid-Afrikaners nuwe hoop gebring, en daar is selfs ’n gevoel wyd in omloop dat dit aangewese is om “vir Cyril te stem om sy hande te versterk”.

Die denkfout is natuurlik dat dit stemme vir die ANC beteken, en die lysproses het duidelik getoon dat die ANC nog nie van sy korrupte kanker genees is nie. Die Zuma-spook trek saam.

Voorts het Ramaphosa se halsstarrige geklou aan die kwessie van grondonteiening sonder vergoeding hom waarskynlik baie wit stemme gekos. Dit lyk of die ANC gaan bloed sweet om by sy pas verklaarde doelwit van veelrassigheid uit te kom, veral in die lysproses.

Maar moet die hoofredes nie by die DA self gesoek word nie? Die DA het immers sommige beleidsrigtings van die ANC ook aangeneem, en dié verskynsel word deur verskeie ontleders beskou as dat die DA neig om ’n “ANC Light” te word.

Opnames het lank reeds getoon dat baie van die DA-kiesers om wat hulle pragmatiese redes noem vir die DA stem, en nie oor beleid of beginsels nie. Dit is by geleentheid in ’n leserskommentaar goed gedemonstreer toe ’n leseres ’n erg rassistiese inskrywing gedoen het, en vervolg het die wit mense moet saamstaan en vir die DA stem. Dié inskrywing is weens die rassistiese aard daarvan verwyder. Dit is uiteraard gevaarlik om ’n tendens van een uiterste geval af te lei, maar uit heelwat leserskommentare kon soortgelyke sentimente waargeneem word, al was dit veel meer diskreet.

Maar sal hierdie soort kiesers steeds vir die DA stem? Voeg hierby die toestroming van behoudende gewese NNP-ondersteuners toe die party deur die ANC ingesluk is. Liberale kommentators het dié ondersteuners gereeld as ’n bedreiging vir die DA beskryf, en as potensiële vyfdekolonners voorgehou.

Mmusi Maimane. Foto: ANA

Die opkoms van die gemeenskapsmedia het ook ’n splinternuwe speelveld geopen vir partye wat in Afrikaanse stemme, en veral Afrikanerstemme, belangstel.

Gemeenskapsmedia, veral radiostasies, word statutêr beperk om ’n groot inkomste te verdien. Die personeel is dikwels erg onder werksdruk, en vertalers is ’n ongekende luukse. Nuusskrywers is onder groot druk, en daarom is dit moeilik om nuusverklarings wat slegs in Engels ontvang word, te vertaal. Dit bly dan dikwels in die slag.

Penorent Nuus, wat onlangs ontbind het, het volledige nuusbulletins in Afrikaans aan gemeenskapsradiostasies voorsien met ’n gesamentlike luistertal van ’n miljoen. Penorent was nie al nuusbulletinvoorsiener in die spel nie, maar dit kan gesê word dat ’n party soos die DA, wat vir alle praktiese doeleindes sy nuusverklarings, veral op nasionale vlak, slegs in Engels uitreik, sy toegang tot ’n miljoen Afrikaanse kiesers erg aan bande gelê het. Voeg hierby die lesers van gemeenskapskoerante waar die nuusskrywers ook noustrop trek.

Hierteenoor volg die Vryheidsfront Plus ’n uiters professionele media-aksie en boks ver bo sy gewigsklas. Dit is uiters verbruikersvriendelik. So ook die mediaverklarings van die TLU-SA wat ook ’n ander asem adem in die politiek korrekte media-omgewing. Voeg hierby die mediavermoë van die lede van die Solidariteit Beweging wat ook sorg dat ander stemme as die tradisioneel politiek korrekte gehoor word. Dit dra alles by dat die DA moontlik minder staat kan maak op verstekstemme.

Dit is amper vanselfsprekend dat dit sou suurdeeg na kiesers wat algaande bewus raak daarvan dat hulle in effek hulself ontkieser deur nie vir ’n party te stem wat hul eie beginsels onderskryf nie. Die gedwonge koalisies vervang ook die negatiewe siening van kleiner partye deurdat verskeie kleiner partye binne die koalisies werklik uitblink, en ook sorg dat die DA op sy tone bly.

Die aanslag teen kleiner partye bly egter in sommige kringe fel, soos prof. Amanda Gouws wat ’n drempel van stemme voorstaan voor ’n party parlementêre verteenwoordiging kry. Terwyl dit sin maak om die oorvloed dinky toy-partytjies te beperk, laat dit die demokrasie ernstig skade ly as sektorale beginselpartye ook uitgeskakel word. Die waarde van koalisies in die proporsionele stelsel wat in Suid-Afrika geld, word nog ver onderbemark en selfs teengestaan.

Ja, die DA werk so hard en het soveel deskundiges aan boord dat heelwat skade voor die verkiesing waarskynlik ongedaan gemaak sal wees.

Een van die maatstawwe wat gebruik word om die vlak van persvryheid in ’n land te meet, is die mate waarin die media aandag skenk aan die politieke diversiteit in ’n land, juis omdat dit ’n verbondenheid tot demokrasie weerspieël. Kleiner partye kla gereeld dat hulle mediagewys afgeskeep word. In dié stadium lyk dit of kleiner partye, veral dié wat fokus op sektorale belange en minderheidsregte, soos die Afrikaanse Christen-gemeenskap, of charismatiese Christen-fundamentalisme, deur ’n verloop van omstandighede ’n sonderlinge geleentheid het om hul regmatige kleim af te steek. Danksy koalisiepotensiaal gaan niemand ook skade ly nie – trouens, almal kan net wen.

Suid-Afrikaanse kiesers hoef werklik nie te voel hulle bevind hulle tussen die duiwel en die diep blou see nie. Hulle kan met vrug hul stemme uitbring waar dit beginselgewys hoort, en daardie stemme gaan beslis nie “gemors” word nie.

En diegene wat in die verlede so kliphard stemming vir ’n de facto-tweepartystelsel soos in die VSA gemaak het, kan gerus kyk wat die huidige situasie vir die VSA in die sak bring. Dit ten spyte daarvan dat die Amerikaanse verteenwoordigers nie aan dieselfde koukusgebondenheid as hier gebind word nie. Met ’n tweepartystelsel word baie kiesers in wese ontkieser omdat niemand hul beginsels verteenwoordig nie.

Hierdie oorsig is ver van volledig en die verskillende aspekte van ons kiesstelsel, soos die gepastheid van ’n unitêre grondwet vir ’n heterogene land, sal tussendeur in meer detail tot die verkiesing onder die loep geneem word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

J ·

Al kom watter party aan bewind. SKADE is reeds te ver gevorder in ons land. Sal 1000 000 jaar vat om te herstel. Geen jong man of dame sal ooit weer in SA werk kry nie na hy matriek geslaag het.

LB S ·

Ai, maar jy is darem maar pessiemisties so vroeg in die nuwe jaar. Bog man, dit is nie soooo erg nie.

jaco ·

is die skrywer van dié artikel regtig korrek dat die ANC veelrassigheid as doelwit het? wat dan van regstellende aksie en ‘n hele rits ander wette en uitsprake TEEN wit mense en wat dan van gevalle waar Indiërs en Kleurlinge wat werk soek, dikwels moet hoor “sorry no job for you, because you are not black enough”.
Ek suig nie dié goed uit my duim nie. Ek het bewyse.

Ps ·

FN (Nasionaal) en Cope (Provinsiaal), jy kan nie verkeerd gaan nie. Altwee partye is besig om te groei en daar is groot verwagting en hoop in albei partye! X-X

J ·

Dink mooi oor Cope en aan 1994 wat was M.L. Se woorde toe hy nog in die ANC was spesifiek oor die wittes. Stem eerder Vryheidsfrond. DA trust ek glad ook nie meer nie. Gaan doen huiswerk. Ek was daaityd nog n jong kind toe hy die uitlating gemaak het.

Andrea van Vuren ·

Na my beskeie mening is daar nie ‘n beter en sterker leier as dr. Pieter Groenewald van VF+ nie. Maar helaas, hy moet terugstaan teen Dan Kriek en Omri van Zyl wat Cyril ondersteun om die land vernietig weg te gee sonder vergoeding.

Animal Farm ·

Politici is net daar om hulself te verryk, hulle voel vere vir die mense wat vir hulle stem. Kyk maar hoe gaan als agteruit, maak nie saak watter party regeer nie. P.E. se strandfront bewys die verval. Kla jy, dan is daar altyd sewe verskonings, maak nie saak watter party regeer nie. Leiers is skaarser as hoendertande!

Koos ·

Vinkel en koljander – die een is nes die ander !!!

Geen verskil tussen die sg. twee of meer groot partye nie!

DINK voordat jy vanjaar ‘n kruisie trek agter ‘n betrokke party se naam – maak seker jy weet hoekom jy daardie kruisie daar trek – moenie dat rookwolke en beloftes jou besluit beïnvloed nie.

ZAR ·

Ek kan nie dink dat ‘n Afrikaner enige iets anders as VF+ stem nie. Dis die enigste party wat ons behoeftes op die hart dra. En dis nie ‘n kleur behoefte nie, maar ‘n behoefte na vrede en groei.

Alida ·

Die VF+ is nog nie sterk genoeg om die ANC te klop nie. Hulle moet saamsmelt met n paar kleiner partye.

Dries du Toit ·

ZAR ek wens net die blankes in hierdie land wil dit besef. Ons moet getel word en dit kan net gebeur as ons een party ondersteun wat jou christelike beginsels en kultuur verwoord. Maar ons ou volkie dra n doodswens binne onsself.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.