Nuuskommentaar: Van Kruistogte tot kalifaat

Argieffoto

Argieffoto

Europa, en veral Frankryk, is nog geensins gevrywaar van terreurbedreigings deur die IS nie, waarsku ’n kenner. Maar hoekom is Frankryk so ’n “gewilde” IS-teiken? Herman Toerien het gaan ondersoek instel.

Dit kan geen gemaklike gevoel vir die Franse wees om agter te kom dat hul land deur die IS as die vernaamste buitelandse teiken uitgesonder word nie. Dit het veral aan die lig gekom toe die vermeende terroris, Mohamed Abrini, tydens ’n verhoor laat blyk het dat die terreuraanvalle op 22 Maart in Brussel eintlik vir Frankryk as teiken beplan was.

Hoekom haat die IS Frankryk so in die besonder?

In die Franse Februarie 2015-uitgawe van die IS-mondstuk, Dar al-islam,  word die sluier gelig. Daar moet in die geskiedenis teruggedelf word na die eerste Kruistog (1096-1099), wat as ’n hoofsaaklik Franse onderneming beskou is. Deur die eeue het Frankryk die “titel” van “vyand van die Islam” verwerf. Die IS hou die Franse kolonisasie van Arabiese lande, in besonder Algerië waar baie bloed gevloei het, baie sterk teen die Franse.

Natuurlik swyg Dar al-islam oor dit wat omgekeerd gebeur het, soos die Moslem-inval in Europa wat die verowering van Spanje insluit, en waartydens verdere uitbreiding slegs gestuit is deur Karel Martel (’n Fransman) se oorwinning oor die Moslems by Poitiers. Dar al-Islam swyg ook oor die Moslem-strooptogte tot diep in Frankryk wat daartoe gelei het dat tot ’n miljoen Franse as slawe weggevoer is.

So skryf die bekende Sylvain Ephimenco, wat self as kind van Christenouers in Algerië grootgeword en die wreedhede gepaardgaande met Algerië se onafhanklikheid beleef het – ’n verlede wat die polities korrekte wêreld gerieflikheidshalwe onder die mat ingevee het.

Die feit dat Frankryk onder meer ’n burka-verbod ingestel het, help ook nie veel om dié land nié as teiken uit te sonder nie.

Die sterftes en inhegtenisnemings van verdagtes, onder meer in België van waar heelwat van die aanvalle in Frankryk beplan en uitgevoer is, beteken egter nie dat die stryd nou gewonne is nie, Pieter van Ostaeyen, skrywer van Van kruistochten tot kalifaat.

Hy meen Abdelhamid Abaaoud, Salah Abdeslam en Mohamed Abrini was te belangrik in die beplanning van nog meer terreuraanvalle om hulself ook in selfmoordbomaanvalle aan flarde te laat skiet. Abaaoud is vyf dae ná die aanslag in Parys in ’n skietery met die polisie dood toe daar probeer is om hom aan te keer, en die ander twee is intussen in hegtenis geneem.

Dit alles verklaar egter nog nie hoekom daar binne een van die vertakkings van die Islam so ’n beheptheid met geweld is, terwyl ander Moslems meen hul godsdiens is juis een van vrede nie.

Daar heers nog wye onkunde, skryf Halim el Madkouri, ’n kenner van die Islam.

Hy grond sy menings daarop dat die Franse owerheid ná onlangse terreurdade skynbaar sonder onderskeid tussen verskillende Islamitiese faksies, huise van Moslems deursoek het. En dit skep ’n wrewel by diegene wat hulle nié met die terreur vereenselwig nie.

Madkouri lê baie klem op die rol van die Salafiste, ’n sekte van die Soenni-Islam. Hy skryf dat nie alle Salafiste terroriste is nie, maar alle terroriste is Salafiste. Nie almal sal volkome hieroor met hom saamstem nie.

Die Salafiste is een van 73 faksies in die Islam, en hulle glo al die Moslems in die ander 72 faksies is op pad hel toe. Die Salafisme vorm die ideologiese ruggraat van die IS, van Al-Kaïda, die Taliban, Al-Shabaab, Boko Haram en ander. Volgens Madkouri is die Salafiste erg teen demokrasie gekant, iets wat hulle as duiwels beskou.

Heeltemal so eenvoudig soos dit is dit ook nie. In die verlede was die Salafiste se teenpool, die Fatimiste, juis die meer radikale groep. Daar was ook uit Sjiïtiese kringe selfmoordbomaanvalle nog voordat die Salafiste hulle hiertoe gewend het. Trouens, sommige kenners van die Islam meen dat daar eerder na die huidige manifestasie van die gewelddadige Salafisme as neo-Salafisme verwys moet word – juis omdat dit so drasties verskil van vroeëre kenmerke.

Deur alle Moslems oor dieselfde kam te skeer, veral waar hulle in Westerse lande woon, voed gewoon die Salafiste, volgens Madkouri.

Veralgemenings is baie gevaarlik. Die Franse, wat hulself seker as die land in Europa beskou waar die post-Christelike die verste gevoer is, sal waarskynlik moeilik verstaan waarom juis hulle nou gestraf moet word vir die soms onmenslike wreedhede wat die Kruisvaarders teen Moslems gepleeg het.

Om post-Christelik (ateïsties) te wees skep natuurlik in beginsel vir alle Moslems, en nie net die Salafiste nie, ’n probleem omdat Mohammed ’n onderskeid getref het tussen ware godsdienste soos die Christendom en die Jode, en ander, veral animiste. Christen- en Joodse gemeenskappe in gebiede wat deur die Moslems verower is, kon dus voortbestaan hoewel diskriminasie in die praktyk, soos ’n spesiale belasting, dikwels tot die wegkwyn van sulke gemeenskappe gelei het.

Aanhangers van die ander godsdienste is gedwing om Moslems te word.

Maar net so erg veralgemenend is dit om IS- en Al-Kaïda-terreur voor die deur van alle Moslems te gaan lê. Vir hoeveel Westerlinge is die woord “Salafisme” nie ’n vreemde begrip nie, al is dit al meer as ’n dekade lank die spilpunt van die vernaamste en wreedaardigste aanslag op die Weste? Trouens, onder Westerlinge loop nog veel meer samesweringsteorieë oor hoekom dinge in die Midde-Ooste so kook as om die vinger na die rol van die Salafisme te wys. Trouens, van hierdie samesweringsteorieë kan ook maar net vlerke kry omdat te maklik veralgemeen word.

En so word in die hande gespeel van diegene wat die Weste met bloedvergieting wil laat vergaan en in die kalifaat laat opneem.

Nie dat die Weste sondeloos is nie, maar hierdie euwels moet intern aangespreek en reggestel word – dit is naïef verby om te reken die regstelwerk kan aan die Salafisme oorgelaat word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Johannes Meintjes ·

Ek self staan verstom oor die baie kortsigtige insigte van baie gelowiges en kerkeleiers rondom die volle geskeidenis van al die gelowe, en invoede in die Christelike kerk. Dit laat ons afgestomp, maklik manipuleerbaar en nie in staat om tot volle potensiaal en insigte as Christene vrugte te dra en waarheid te deel nie. Na mening is dit ons elkeen se plig om ons-self deeglik te vergwis van geskeidenis en feite, en nie alles as blote soetkoek op te eet nie. Dit laat ons in versuim en dit laat ons samelewing met wankelende fondasies sonder diep morele en etiese waarde, voer ek aan.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.