Nuuskommentaar: Virusse en olie, paniek en angs

Foto: (AP Photo/Koji Sasahara)

Die skynbare bonanza met ’n laer olieprys is gewoon nie volhoubaar nie, en die regering se planne met grondgryp sonder vergoeding en die beoogde nasionale gesondheidskema waarvoor daar reeds nie geld is nie, waarborg as’t ware ’n ramp.

Met die Ystydperk wat sowat 20 000 jaar gelede sy onderste piek bereik het, was die gemiddelde temperatuur van die aarde maar sowat 5 grade kouer as vandag. Min of meer dieselfde geld ander ystydperke tot in die verre verlede. Op sommige plekke was die temperatuurverskille egter veel meer, wat beteken dat daar dele moes wees waar die gemiddelde temperatuur skaars van vandag s’n sou verskil. Nogtans was die effek enorm, sodat mense via ’n reuse- tydelike nuwe grondgebied, Beringa, van Siberië na Noord-Amerika kon trek, en mammoete kon wei waar die Noordsee vandag kant en wal lê. Sommige kuste is steeds besig om te styg, en ander sink soos die aarde aanpas by die verdwene swaar yskomberse wat dit bedek het.

Die doel van hierdie beskrywing is om te demonstreer dat selfs geringe veranderings aan syfers, enorme impak kan hê. Op die oomblik word bereken dat die gemuteerde koronavirus, Covid-19, se sterftesyfer sowat 2% is teenoor dié van griep, en veel laer is as die ongeveer 10% van ander korona-mutasies soos Sars en Mers. Die uitbreking van Covid-19 word egter nou as een van die hoofredes beskou dat beurse wêreldwyd oornag duiselingwekkend getuimel het, en die olieprys laer is as baie lande se produksiekoste. Die ander rede is juis die prysoorlog tussen die vernaamste olieproduserende lande.

Soos so dikwels in die verlede gaan politieke wetenskaplikes wat nié in eie reg ook oor kwalifikasies in die ekonomie beskik nie, of minstens groot insigte toon, kleitrap om nou gesaghebbend saam te gesels oor wat aan die gebeur is. Slagoffers van die “verdommingskultuur” wat die gevolg is van ore aan die verkeerde media uitleen, het boonop ’n veel groter invloed as wat andersins verwag sou word. Die opvatting dat die ontstaan en verspreiding van Covid-19 deel van ’n samewering is, en daarby dikwels geglo word pres. Donald Trump is die veronderstelde teiken hiervan, neig om naatloos by ander bestaande ontkennings- en samesweringsteorieë in te pas. In dié stadium weerspreek die Amerikaanse media mekaar feitlik punt vir punt oor wat die president oor Covid-19 sou gesê het wat tot verwarring oor die impak sou bygedra het. Aansprake word gemaak oor leuens, disinformasie, dat die president ’n “menace” is, die maatreëls teen die verspreiding “saboteer” en dat hy ’n disinformasieramp voorkom.

Rasmussen-peilings, wat dikwels daarvan beskuldig word dat dit pro-Republikeins neig, se jongste peilings dui daarop dat Covid-19 nou Trump se herverkiesingskanse later vanjaar benadeel. Volgens uitslae wat vandag bekend gemaak is, sal Joe Biden nou maklik met Bernie Sanders in ’n benoemingstryd afreken, en sou die verkiesing self vandag plaasvind, sal Biden met 48% stemme teen 42% met Trump afreken. In September sou Trump nog met 47% teen 43% met Biden afgereken het.

Maar wat presies het gebeur? De Standaard verwys na outomatiese “schokdempers” wat op Wall Street ingetree het toe die Nasdaq meer as sewe persent gedaal het en die beurs gesluit is. Dit het weer tot nog meer paniek gelei. Dié reaksie het weer gevolg op Europese beurse wat ’n gevaarlike duikvlug onderneem het. Na die heropening het dit verder gedaal tot 7,2 %, ’n reuse 18% laer as tydens die piek op 19 Februarie.

Terme soos dat Wall Street “bloedrooi” gekleur het, en ge-“crash” het, help ook nie om die “korona-paniek” en “oliepaniek” na rustiger vaarwater te stuur nie.

Vanoggend teen 03:45 was die olieprys $32,60 en stadig aan die opwaarts kruip, ná ’n laagtepunt van $30,16.  Op die gevaar af om appels met wilde turksvye te vergelyk, dui beskikbare syfers daarop dat net die Verenigde Arabiese Emirate min of meer kan gelykbreek deur olie teen minder as $33 dollar per vat te verkoop. Olieproduksiekoste vir Saoedi-Arabië is sowat $55 dollar per vat, en Algerië ongeveer $100 dollar per vat. Die fiskale gelykbreekpunt is nog veel hoër en geen land breek meer gelyk nie. Tussen $55 en $60 kan Rusland (Arktiese olie), VSA (skalie) en verskeie ander lande ook nie gelykbreek nie.

Kortom, die bonanza wat invoerlande soos Suid-Afrika sou kon help sal nie lank kan duur nie. Vir Suid-Afrika, waar die reeds baie swak rand nog verder teen die dollar getuimel het, sou ’n langer bonanza baie beteken het. Die regering sou erger skade gely het as die verhoogde en bestaande brandstofheffings in persentasies in plaas van sent per liter bepaal was. Voorlopig, minstens, is daar nou ’n demper op enige optimisme vir die ekonomie wat die beplande ontwikkeling van die Brulpaddaveld sou kon inhou. Diepsee-ontginning is duur. Met die vorige krisis, vanuit die produsente-oogpunt, sou dit Maleisië tot $140 per vat kos om nuwe olievelde te ontgin.

Op die internasionale terrein moet herstelplanne nog boonop klimaatsverandering ook verreken, ook in Suid-Afrika.

Maar plaaslik is daar ander faktore. Die TLU SA dreig byvoorbeeld met ’n boikot op eiendomsbelasting nadat verskeie munisipaliteite die eiendomswaardasies op plase skerp laat styg het, en selfs laat verdubbel het. Die TLU SA wys tereg daarop dat dit ekonomies onversoenbaar is met die regering se planne om grond sonder vergoeding te gryp, en hoër eiendomswaardasies en die beplande verklaring van ’n zero-waarde deur die howe rym gewoon nie. Net so gaan die regering se gesondheidsplan die ekonomie bly kelder solank daar nie genoeg geld voor is nie. Sosialisme slaag immers net solank iemand anders se geld hou, en waar daardie iemand anders gevind gaan word na die huidige glybaan, is ’n goeie vraag.

Hoe lank die ekonomiese yslae gaan bly lê hang af van hoe gou politici na die ekonome gaan begin luister en die bitter medisyne wat die ekonome voorskryf pligsgetrou drink.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan Venter ·

Herman, jy praat onder andere van die virus. Ek wonder of ons owerhede, die ministers van gesondheid en polisie, ook Cyril Ramaphosa, van die volgende weet wat skrikwekkend is, en dit is as mens na die aantal sterftes aan die virus in Sjina kyk, dan sien mens oor dieselfde tydperk is daar meer mense in Suid-Afrika vermoor.

Ons het nie ‘n virus nodig nie, ons doen dit sommer self.

Johan Venter ·

Herman, terwyl jy ook so van landbou praat, dalk het jy die volgende raakgeloop, ek sien Dan Kriek, gewese president van AgriSA het vir Cyril Ramaphosa ‘n stoetbul present gegee. Seker omdat hy knorrig vir Afriforum is oor hul aksie teen die uitvoer van skape na Koeweit in haglike omstandighede.

Therese ·

Die paniek en chaos wat ‘n nuwe griepvirus wêreldwyd, en veral op Westerse effektebeurse veroorsaak, is verstommend. Dit verg regtig nie veel om die “verdommende” samelewing op te sweep in ‘n totale óórreaksie nie.

In Moneyweb verskyn ‘n artikel getiteld: ” China traders making easy money while rest of world panics”, waarin Shanghai – aandele as toppresteerder aangedui word.

Dít verduidelik, aan my dan, hoe China dit reggekry het om die wêreld se vervaardigingsbedryf ongemerk te annekseer … die Chinese is bloot slimmer as Westerlinge.

Die Covid-19 – drama kan één positiewe gevolg hê, om Westerse oë te open vir die vervaardigingskrisis in hul midde. ‘n Reuse% van alle antibiotika is, heel ironies, “Made in China”!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.