Nuuskommentaar: Wie vermoor Afrikaans?

toe mondDit gebeur gereeld dat Afrikaanssprekendes ervaar dat hulle meegedeel word hulle kan nie in Afrikaans bedien word nie. Op die oomblik is daar ‘n diskoers nadat iemand ‘n bloutjie met Afrikaans op die polisie se noodnommer geloop het, en die polisie by die Lyttelton-polisiekantoor glo geweier het om ‘n verklaring in Afrikaans af te neem.

Dit is reeds ou nuus dat vele staatsinstellings doodgewoon nie mense in Afrikaans kan, of wil bedien nie, maar al hoe meer ervaar Afrikaanssprekendes dat private instansies waaraan hulle behoort, soos mediese fondse, en selfs instellings waarvan hulle aandeelhouers is, hulle nie meer in Afrikaans kan, of wil bedien nie. Instellings is immers onder druk om transformasieteikens te haal, en gekoppel aan die kaderontplooiingsbeleid, is dit nie altyd maklik om ook Afrikaans te akkommodeer nie.

Sommer vroeg in sy bestaan het die taalwaghond, Pansat, bevind dat die staat self die grootste oortreder van die grondwetlike bepalings oor taal is.

Die kern van die debat het ook nie beperk gebly oor die regte van tale, soos in die grondwet verskans is nie, maar oor hoe daarop reageer moet word.

Uit Afrikaanse geledere was daar nou kritiek teen AfriForum se klagtelyn wat na die noodnommer-kwessie ingestel is. Die wese hiervan is dat “by verre” die meeste Afrikaanssprekendes hulle heel goed in Engels kan uitdruk, en daarom liefs die rooi taal moet inspan om nie gesindhede te sloop nie.

Die interessante is dat hierdie argument gewoonlik kom uit die geledere van diegene wat gereeld voorhou hoe ‘n goeie grondwet Suid-Afrika het. Die einste grondwet wat die taalbepalings bevat waarop sommige Afrikaanssprekendes aandring. Dieselfde soort teenstydigheid is gevind toe die einste grondwet ingespan is om Julius Malema vir haatspraak aan te kla.

Is die hele doel van ‘n grondwet dan nie dat dit ten volle tot uitvoer gebring word nie? Of hang die “aktivering” van sommige taalbepalings af van wie aan bewind is?

Of handel dit oor die manier waarop aangedring word dat die grondwetlike taalbepalings ten uitvoer gebring word? Ja, dit is so dat daar baie ghwarre los rondloop en deur hul styl onberekenbare skade aan Afrikaans aanrig, onder meer deur growwe en konfronterende internetkommentaar.

Of word eintlik maar vreeslik ter wille van politieke korrektheid al om die kern gepraat, eerder as om tot die kern self deur te dring? Pas het oud-pres. Thabo Mbeki opnuut uitgevaar teen die herrysenis van tribalism. Dié keer het hy redelik uitgeborduur, en dit kom daarop neer dat die fokus op die kultuurgoedere, soos taal, ten koste van die algemene sambreel van swart wees, ‘n onding is.

Die neersien op tribalism is kenmerkend van die oorgang van ‘n “minderwaardige” kultuur na die kultuur waarna opgesien word. Alexander die Grote het nie sy eie taal, Macedonies, in die gebiede wat hy verower het versprei nie, maar Grieks wat as die hoogste kultuurtaal beskou is. Ook in Egipte, waar die regerende elite soos Cleopatra eintlik Masedoniërs was, was alles in die hoogste kringe Grieks, en nogmaals Grieks.

Dié rol is later grootliks deur Latyn oorgeneem. Talle mense het naas hul eie name, ook Latynse weergawes daarvan gehad, soos Andries van Wesel wat Andreas Vesalius sou kon word.

Met die deurvoer van Milnerisme in Suid-Afrika het heelwat Afrikaanssprekendes ook geoordeel dit is deftig om te verengels, maar daar het terselfdertyd ook ‘n opvatting ontstaan dat so iets die toppunt van kômmingeit behels – veral as hierdie nuwe “Engelse” skielik nie meer ‘n woord Afrikaans kon verstaan nie, en Engels erg krom en skeef ingespan het. Soos die spottery oor “miesies Wên der Baail” wat glo oor die kombuis se onderdeur vir die kinders geskree het: “Tjildrin, kam out ôf de aaftirjaart. Joe wil trêmp ien de houndest*&nt!”

Dit word dikwels gestel dat die Afrikaanssprekende gemeenskap die enigste inheemse taalgroep in Suid-Afrika is wat meen dat sy eie taal nié ‘n teken van agterlikheid is nie, of minstens, dat die gebruik daarvan minstens nie vir die koloniale taal agteruit moet staan nie. Afrikaans is immers baie vinnig na dit amptelike status gekry het, ook tot volwaardige wetenskap- en vaktaal ontwikkel, met ensiklopedieë en ander literatuur wat feitlik oornag beskikbaar was.

Meertaligheid is gewoonlik onder Afrikaanssprekendes as ‘n groot bate beskou –  en meer as om net Engels magtig te wees. Duits was lank ‘n gewilde skoolvak, en vir baie ‘n paspoort tot universiteitstoelating. Daar was verskeie pogings om ook ‘n swart taal tot die leerplan toe te voeg, maar die proses het selde geslaag.

Dat Afrikaans selfs sonder ‘n negatiewe gesindheid wat daaroor gekoester word – hetsy die opvatting van “taal van die verdrukker,” of ‘n neersien daarop soos wat die sprekers van moedertale soos Tswana en ander soms op hul eie tale neersien wanneer hulle meen hulle het Engels genoegsaam onder die knie; dit sou naas Engels as een van die wêreldtale noodwendig onder druk kom.

Die druk wat die invloed van Engels op Afrikaans uitoefen is daagliks op enorme skaal te sien, onder meer in selfs die heftigste pro-Afrikaanse kommentare in die kuberruim. Hoeveel keer het ons byvoorbeeld nie oor die Kerstyd gelees dat mense eis dat vuurwerke “verban,” eerder as “verbied” moet word nie? Die spoor van die Engelse “ban” is duidelik te sien. Die ironie is dat die Engelse “ban” ook nie “verban” beteken nie – daarvoor het hulle onder meer die woord “exile”. Van die heftigste pro-Afrikaanse webwerwe spel selfs hul eie naam verkeerd deur woorde wat vas geskryf moes word, onder die invloed van Engels los te skryf. Die toppunt is waarskynlik die padpredikant buite ‘n Vrystaatse dorpie wat in “Engels” aandui dat die pad na die “Sportground” daar afdraai, en die “Afrikaans” wat aandui dat die pad na die “Sports Gronde” daarlangs loop.

Daar is op Litnet en elders gereeld ellelange debatte oor in hoe verre ‘n mate Afrikaans onder die invloed van Engels gesond soepel bly, of verdring word.

Dan is daar nog die puriste wat deur hul aandrang daarop dat Afrikaans in ‘n verstarde, verhewe vorm gebesig word, en betekenisklarigheid nie deur bekendheid nie, maar deur verbrede taalkennis in die taalstamomgewing verwerf word, en sodoende die taal buite die sprekers se bereik plaas. Of soos Blik Oor sou sê: “As ouma-goed daai woorde moes inkry, het sy vir haarself ‘n dop bloubottel loop injaag.”

Daar was al hewige ontsteltenis toe uit opposisiegeledere aangebied is om die LP’s wat so graag Engels inspan, met die rooi taal vertroud te maak. Dit is as erg vernederend ervaar. Die Engelse taalpuriteine moet maar verlief neem met die “Engels” wat lui dat “we are hêwwieng a problem with the teachas not going to whôk.”

Daar is ‘n balans waar Afrikaans deur ‘n kombinasie van regte opeis en styl, lewend uitgeleef kan word. Maar daardie balans is nie altyd ewe maklik om gevind te word nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Niel ·

Tog vreemd dat daar bekommernis is oor ons taal terwyl daar so baie Engelse woorde gebruik word deur die meeste sprekers bv “actually, awesome, e-mail, great ens.

Skenier ·

So lief soos ek vir my taal is, so realisties moet n mens ook maar oor die dinge wees. Engels is Suid-Afrika se besigheidstaal en deur n universele taal vir die hele land te he om mee handel te dryf en administratiewe take te verrig, kan almal op dieselfde bladsy bly.

Meeste van ons het ook werke of besighede waar ons met die publiek te make het. As ons wil aandring daarop om in Afrikaans bedien te word, dan kan die Sotho- of Tswana- of Zulusprekende seker ook maar dan aandring dat ons hom in sy taal bedien. As dit volgens die grondwet jou reg is, goed dan, maar hoe prakties sal dit wees as elke liewe besigheid of restaurant of watookal die geval mag wees, moet voorsiening maak om elkeen in hul eie landstaal te bedien?

H J Bester ·

Skenier – jy het eintlik die mees praktiese benadering naamlik om slegs een amptelike taal te hê – in hierdie geval Engels omdat dit ‘n universele taal is. Dit gaan ‘n klomp twis en toutrekkery tot ‘n einde bring.

Daarenteen hoef alle Afrikaanssprekendes nie op te hou om Afrikaans te praat nie – inteendeel hou aan om dit oral te besig en om dit op so ‘n manier te doen dat anderstaliges dit ook graag wil praat. Afrikaans is mos mooi asook maklik om aan te leer.

Hier waar ek woon is Engels reeds vir 24 jaar die enigste amptelike taal terwyl dit maar slegs die moedertaal van ‘n geringe deel van die bevolking is. Tog word Afrikaans steeds baie wyd gebruik deur alle taalgroepe – inteendeel, ‘n vorige sensus het daarop gedui dat Afrikaans die enigste taal is wat groei getoon het.

Maar ons leer ook so ietsie van die tale van die ander bevolkingsgroepe en kan daarin groet, asseblief en dankie sê, ens. Dis juis hierdie uitreik wat meebring dat Afrikaans nie vertrap en versmoor word nie maar tot ‘n groot mate die gebruikstaal gebly het. Is ons nie soms dalk die grootste moordenaars van ons taal nie ?

Marelize ·

Wat was die uitslag van die sensus tov huistaal in SA?
As ek reg onthou was Afrikaans die derde grootste, naas Xhosa en Zoeloe en was Engels maar vierde….

Sou ons kyk na die taal wat wêreldwyd die grootste huistaal-sprekers het, is dit Mandaryns.

Soos “Chinglish” moet ons baie versigtig wees dat ons nie, vanweë swak vertaalde skoolhandboeke, oorgebruik van die internet en televisie, uiteindelik ‘n swak “Afringlish” of dalk ‘n “Englikaans” besig nie.

petro ·

Dit is die Afrikaanssprekende se eie skuld dat Afrikaans in so n toestand is! Luister bietjie na sogenaamde taalvegters as daar onderhoude met hulle gevoer word, hulle meng hulle taal so dat jy later wonder hoekom het hulle nie maar die onderhoud in Engels gevoer nie! Afrikaans is besig om n stille dood te sterf! Dit is so jammer!

Nico ·

Ek stem saam met skenier dat mens moet realisties wees. Al 11 tale kan nie amptelike tale wees nie. Ek werk vir die staatsdiens en wat gaan ek maak as ‘n lid van die publiek by my aandring om in Zoeloe bedien te word.

En wat verbastering van Afrikaans betref. Niemand gaan dit keer nie. Afrikaans sou nie bestaan het as ons voorouers hulle taal suiwer gehou het nie. Selfs Engegls is ‘n baster taal onder invloed van al die volke wat in die Britse Eilande gewoon het deur die eeue. En soos nie Engels of Afrikaans meer gepraat word soos jare terug nie, so sal Afrikaans oor 100 jaar ook nie meer gepraat word soos ons op skool geleer het nie. Ek sê nie ek stem daarmee saam nie, ek noem dit as ‘n feit wat gaan gebeur.

anita ·

Telkom het vir een jaar op my telefoon rekening ‘n fout gemaak. Steeds het ek pos aan Telkom gestuur, maar NOOIT geen erkenning van my klagte nie.
Op laas het ek na die naaste Telkom besigheid gegaan om die saak persoonlik uit te sorteer.
Op klagte dat geen briewe beantwoord word nie was ek die volgende mee gedeel” U WEIER OM ENGELS TE PRAAT DAAROM HOOR U NIKS NIE”

Ek het ONTPLOF en hulle moes iemand vra om my in Afrikaans te bedien. Die fout is uit gesorteer
maar die afwysing teen my na aanleiding van Afrikaans bly steek.

Dit is ons eie skuld, want ons gaan outomaties oor in Engels. Die Franse weier om Engels te praat
hulle is trots op hulle taal.

Ansie van Heerden ·

Ons moet trots op ons taal wees en probeer om suiwer Afrikaans te praat en te skryf.
Alhoewel my man van ‘n Engelsprekende agtergrond kom is ons huistaal wel Afrikaans en ons kinders gaan Afrikaans skole toe. As famile praat ons net Afrikaans met mekaar. So ver moontlik by ek by Afrikaans en weier om oor te skakel na Engels toe.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.