Nuuskommentaar: Wigte en teenwigte nou in drukgang – Seriti-kommissie voor hof gesleep

Gripen-vegvliegtuig Foto: gripen.com

Gripen-vegvliegtuig Foto: gripen.com

Twee nie-regeringsorganisasies, wat die bevindings van die Seriti-kommissie van ondersoek na die wapentransaksie in die hof tersyde wil stel, plaas weer die fokus op hoe belangrik die onafhanklikheid van die regbank is. Dit geskied egter teen die agtergrond van toenemende kommer oor die onafhanklikheid van die konstitusionele hof, veral na die meerderheidsuitspraak teen AfriForum in ʼn saak wat oor Pretoria se straatname handel.

Die nuus dat die Right2Know-veldtog en Corruption Watch die hof gaan nader om die bevindings van die Seriti-kommissie ongeldig te verklaar, kom nie as ʼn verassing nie. Dié kommissie het die belastingbetalers meer as R100 miljoen uit die sak gejaag om (na ʼn bevinding van die konstitusionele hof dat dit moet gebeur) ondersoek na die land se groot wapenskandaal in te stel.

Dit het egter baie gou gelyk asof die kommissie slegs een uitkoms nastreef, naamlik dat daar geen omkopery of ander ongerymdhede was nie. Die mede-voorsitter het baie gou bedank en is nie vervang nie en heelwat ander personeellede het bedank en hul monde uitgespoel oor hoe bewyse en getuienisse geplooi, oorbeklemtoon is, of toegesluit in houers gebly het sodat die “gewenste” bevindings gemaak kon word.

Dit het duidelik geblyk dit sou onhoudbaar wees, nadat twee howe reeds ander bevindings gemaak het, naamlik om pres. Jacob Zuma se eertydse sakevennoot, Shabir Shaik, tronk toe te stuur weens sy aandeel in ʼn gekonkel wat met die transaksie verband gehou het en die ANC-grootkop, Tony Yengeni, wat ook in die tjoekie beland het hieroor. ʼn ANC-optog, onder andere gelei deur Lindiwe Sisulu, het Yengeni nog as ʼn held by die tronkdeure gaan afsien. Hulle kon byna ook maar net ʼn rukkie gewag het om hom weer te ontvang, so vinnig is hy ontslaan en weer by belangrike ANC-afvaardigings ingesluit.

Geen wonder Shaik het na die “bevindings” van die Seriti-kommissie aangedui hy gaan regstappe oorweeg om sy naam skoon te kry nie. Die kommissie het dan bevind daar was geen fout met die transaksie nie en dan het hy mos ook niks verkeerd gedoen nie.

Daar was ook belangrike verwikkelinge oorsee waaruit dit geblyk het dat minstens sekere dele van die transaksie aan grootskaalse ongerymdhede onderhewig was. Dit is gekompliseer omdat omkopery in Afrikalande aanvanklik nie as misdaad in oorsese lande gereken is nie, omdat dit as enigste manier beskou is om sake in Afrika te doen.

Maatskappye het dan ook hierdie uitgawes op kwalik verskuilde wyse vir die doel van belastingaftrekkings in hul finansiële state aangedui. Maar juis gedurende hierdie transaksie het veral Europese lande, in ʼn verskerpte veldtog teen korrupsie, ook hierdie gekonkel met Afrikalande aan die ban gedoen. Skielik wis die maatskappye gʼn sout of water meer van die “aftrekkings” nie.

Totdat die Seriti-kommissie se bevindings deur ʼn hof getoets is, sal dit in die oë van die publiek ʼn toesmeerdery wees en andersins eerbare mense wat hul gewete verkrag het om Zuma se ontwil. Om dit so te hou, is dit belangrik om die sogenaamde spioenasiebandesaak in die NVG-regsdoolhof vasgevang te hou en uiteindelik die nekslag te probeer toedien.

Dit sal interessant wees om te sien of nog individue en instansies hulle as vriende tot die saak gaan toevoeg. Daar is net te veel mense wat erge skade deur die oënskynlike gekonkel met die transaksie gely het en daarna verneder is toe hulle reg en geregtigheid probeer nastreef het. Hulle is nie liggewigte nie. Aan die ander kant impliseer die bewyse wat geïgnoreer is, ook getuienis uit die buiteland, verskeie grootkoppe van die ANC – BBP’s wat boonop nie vriende van mekaar is nie, maar die geledere sluit om te keer dat die saak behoorlik oopgevlek word.

Terwyl die breë publiek dalk nie meer soveel herinneringe aan die transaksie dra nie (dit word byvoorbeeld al minder in berigte oor ANC-skandale as ʼn voorbeeld opgedis), is daar mense en instansies wat nie sal rus totdat dit minstens as klad aan die betrokkenes sal kleef nie. Die instansies wat nou die hof nader, vra byvoorbeeld nie dat die saak weer ondersoek word nie, maar bloot dat die bevinding tersyde gestel word.

Of dit dan steeds houbaar sal wees in terme van die konstitusionele hof se bevinding dat dit ondersoek moet word, is onduidelik.

Maar wat word in so ʼn geval van die reputasie van regter Willie Seriti? Hy is nou ʼn regter van die appèlhof en dit is bykans onhoudbaar dat iemand, wie se integriteit so ʼn duik sou weg hê (mits die hof sy kommissie se bevindings tersyde sou stel), in hierdie hof sou bly.

Dit bring egter nog vrae. Ons hoor gereeld die howe is die enigste van die wigte en teenwigte wat nog funksioneer. Dit is redelik gedemp deurdat adv. Thuli Madonsela as Openbare Beskermer baie vertroue ingeboesem het, maar haar termyn verstryk eersdaags en ons hou asem op om te sien of haar opvolger ook sterk integriteitsgebonde en dapper genoeg sal wees om vertroue te regverdig.

Dit plaas voorlopig die bal weer sterk in die baan van die howe en dis hier waar die saak weer ʼn groot slaggat getref het. Dit handel veral oor ʼn uitspraak van die konstitusionele hof, gelewer deur regter Mogoeng Mogoeng, in ʼn saak waar die Tshwane-metroraad en AfriForum koppe gestamp het. Hoewel dit slegs oor ʼn sydelinge kwessie gehandel het, oor ʼn saak wat nog in die hooggeregshof hersien moet word en die voortydige implementering van besluite, het die meerderheid regters (almal swart) ʼn uitspraak gelewer wat sterk staan teen die minderheidsuitspraak (slegs wit regters), wat talle regskenners onthuts het.

Dave Steward, voorsitter van die FW de Klerkstigting, wys byvoorbeeld in ʼn artikel op die problematiek van die uitspraak: “Dit wil inderdaad voorkom of dit wit Suid-Afrikaners ontneem van hul grondwetlike reg om baie aspekte van hul kultuur te geniet en opper ernstige vrae betreffende Suid-Afrika se toekoms as ʼn samelewing wat die diversiteit van al sy gemeenskappe eer. Soos Regters Cameron en Froneman daarop wys in hul minderheidsuitspraak, is die gevolg van die eerste uitspraak dat enige steun deur wit Suid-Afrikaners, veral wit Afrikaners, op ʼn kulturele tradisie verskans in die geskiedenis, nie erkenning in die Grondwet geniet nie, omdat daardie geskiedenis op onderdrukking geskoei is.”

Die FW de Klerkstigting, wat die Sentrum vir Grondwetlike Regte insluit, het tevore reeds verskeie sake gelys en bespreek waar die konstitusionele hof na hul mening gefouteer het.

Dan was daar nog die onlangse sogenaamde Lesufi-saak, wat ʼn geskarrel afgee. Ook die Renate Barnard-saak word nou internasionaal getoets, nadat dit deur ons howe gewoer-woer en uiteindelik in die konstitusionele hof gesneuwel het.

Boonop word die deel van die publiek, wat veronderstel is om deur die wigte en teenwigte beskerm te word, gereeld deur appèlle van hoëprofielsake verontrus. In die sogenaamde leeukampsaak is die (wit) beskuldigde deur ʼn (swart) regter tronk toe gestuur vir moord, hoewel die forensiese getuienis daarop gedui het die persoon was reeds dood nog voordat die betrokke beskuldigde nog op die toneel was. Dis onder appèl reggestel.

In die sogenaamde Reitz-saak, is die studente deur die (swart) hooflanddros gevonnis vir iets waarvoor hulle nie eens aangekla was nie en dus nie skuldig bevind is nie en dis eers onder appèl in die Hooggeregshof (ook ʼn swart regter) reggestel.

Daar moet eenvoudig gesorg word dat die regspraak bo (rasse)-verdenking staan.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Leendert van Oostrum ·

Die effek van die Grondwetlike Hof se uitsprake in die betroke sake is dat ons nou twee regstelsels het – een vir Afrikaners en een vir die res.

Die howe dwing byvoorbeeld die reg om in Engels onderrig te word konskwent en ywerig af, terwyl die reg om in Afrikaans onderrig te word regdeur bevraagteken word.

JC ·

Ons sal sien wat gebeur nou met die saak teen UV Leendert. Een ding is beslis waar; dit wil voorkom uit die stuk asof die motiewe en onafhanklikheid van die regbank al hoe meer onder verdenking kom, wat uiters betreurenswaardig is. Indien die KH bv. sou besluit teen Afriforum in die saak teen UV sal hulle GEEN INTEGRITEIT MEER IN MY OE HE NIE, (en baie, baie mense) EN IS DIE GRONDWET DAN ‘N GRAP EN IS EK AS AFRIKANER NIE MEER DEEL VAN DIE “SIEK” SA DROOM NIE! Ek dink die enigste uitweg sal dan wees selfbeskikking-sien Orania-en die voorgenome volkstaat aan die Weskus- uiteindelik ons eie land en republiek sonder inmenging!! (in ons eie APARTE gebied[land]) waar mens jou kulturele en volkeregtelike regte kan uitoefen. Die KH sal ‘n grap wees indien hulle in UV se guns beslis, met enige sweempie van respek en integriteit daarmee heen. As hulle wil he die land moet uitmekaar uit skeur dan moet hul dit wragtig doen!! EK KAN EGTER NIE DINK DAT DIT OOIT SAL GEBEUR NIE.As die KH wil he SA moet werk en respek afdwing en dat hul nie geag word ‘n grap te wees nie sal hulle art 29(2) van die GW MOET AFDWING en nie toegee aan siek, links- polities korrekte en ideologiese druk nie MAAR DIE GRONDWET TOEPAS EN AFDWING.

Jan maak n Plan ·

Weereens n goeie berig Herman. Ek glo vas, dat as iemand soos bevoorbeeld Mnr O’Sulliavn wat geen bandjies met enige regerings instansies het, op hierdie saak losgelaat word om dit behoorlik te ondersoek, sal dit baie goedkoper en deegliker gedoen word en dat daar ook ‘n hele ander perdeby nes oop gekrap sal word.

HANS ·

Al sou O’Sullivan met vers en kapittel kon bewys dat daar ongerymdhede was, sal die huidige heersers dit afmaak as n verslag opgestel deur n witmens wat hunker na die glorieryke dae van apartheid en kolonialisme.

arrie ·

sereti komissie word in verband gebring met straatname in pretoria? Dit klink vir my net soos die adjunk redakteur van n baie bekende afrikaanse skinder tydskrif wat deesdae artikels skryf as n politieke kommentator nogal!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.