Nuuskommentaar: Zuma se bande en Marikana: Gelykheid voor die gereg vir ʼn ses?

Stakende mynwerkers by Lonmin verlede jaar. Foto: Taurai Maduna, EWN

Diegene wat tydens die Marikana-skietery net meer as ‘n jaar gelede gewond en gearresteer is, moet hulle nou op die getuienisleier verlaat in die werksaamhede van die Kommissie van Ondersoek na die gebeure. Die Grondwetlike Hof het nou besluit die staat hoef nie die regskostes te betaal nie, en die staat het boonop te kenne gegee hy is te platsak om nog by te dra. Of anders gestel, sy belastingbasis is te platsak.

Dat die rand tot sy laagste vlak in vier jaar getuimel het, en die ekonomie skynbaar te winduit is om in terme van verhoogde uitvoere behoorlik munt daaruit te slaan sodat die minister van finansies sy kommer daaroor uitgespreek het, is aanduidend dat die staat noustrop trek. In Newcastle gebruik die polisielede nou al dae lank hul motors as kantoor nadat die eienaar van die gebou waarin die polisiestasie gesetel is na twee jaar die polisie weens wanbetaling van huur uitgesluit het. Dit mag die gevolg van slegte administrasie of selfs die vaslê van die huurgeld wees, maar niemand weet vir seker nie want niemand mag praat nie…

Hierteenoor het dit pas bekend geword dat pres. Jacob Zuma besluit het om te appelleer teen die hooggeregshofbeslissing dat die sogenaamde spioenasiebande aan die DA oorhandig moet word. Sonder die beskikbaarstelling van die bande, so lyk dit, sal dit nie moontlik wees om te bepaal  of die NVG-besluit om Zuma nie meer te vervolg nie, ‘n suiwer juridiese besluit was. As openbare figuur, is die kiesers geregtig daarop om te weet.

En wie gaan vir Zuma se regskostes met die appèl instaan?

En hoe ver is gevorder daarmee om Jackie Selebi se regskostes te verhaal na hy sy saak verloor het?

Na maande se kruisondervraging voor die Farlam-kommissie deur van die land se voorste regsgeleerdes wat uit verskillende bronne betaal is, en naasbestaandes wat teen groot kostes die verrigtinge bygewoon het – is daar nog enige sin in dat die belastingbetaler verder moet opdok? Waar word die grens getrek?

Die eerste ooglopende probleem is dat een ding nie by die aanvang as ‘n grondwetlike verpligting beskou kan word, en dan later, as verrigtinge langer duur as wat gemeen is en die geldkas leeg is, besluit kan word dit is nie meer ‘n grondwetlike verpligting nie.

Om ‘n eenvoudige analoog te gebruik. Gestel dit sou waar wees dat die Seriti-kommissie ‘n tweede agenda het om ongerymdhede in die wapenskandaal toe te smeer, dan kan die grondwetlike hof se beslissing – na ‘n skikking – dat daar so ‘n kommissie ingestel moet wees, in wese doodgemaak word deur die beskikbare begroting te benut om voorkeur te gee aan getuies wat kom getuig oor die noodsaak van die aankoop van die wapentuig. En nogal die grondwet as grondslag aanvoer om die noodsaak te motiveer. So iets behoort nie werklik deel van die kommissie se ondersoek te wees nie. Die hoofprobleem is ook nie of die belastingbetaler dalk selfs gelukkig was om minder vir die wapentuig te betaal as wat andersins die geval is nie. Die vraag is of daar gunslone na veral die besluitnemende politici en selfs die ANC as politieke party gegaan het, wat ‘n misdaad sou wees, en waarvoor die skuldiges, indien daar was, vervolg moet word.

Net so kan die Farlam-kommissie nie sy sake afsluit sonder om behoorlik agter die kap van die byl te kom nie. Suid-Afrika betaal nog elke dag ‘n swaar ekonomiese prys aan die nagevolge van die skietery, wat baie gou internasionaal die bynaam van die ANC se Sharpeville gekry het. Suid-Afrika spog wel met ‘n groeiende toerismebedryf, maar word die land se toerismepotensiaal gemeet teen die toerismepotensiaal van Meksiko en Egipte blyk dit hoe ver ons land agter geraak het te midde van vreemde optredes en uitsprake van politici, diensleweringsbetogings, gewelddadige stakings, die geweldsmisdaadkoers wat plaasaanvalle insluit, Suid-Afrika se kreeftegang op die korrupsiepersepsie-indeks, en vele meer.

Egipte het voor die Arabiese domino-rewolusie meer as 12 miljoen toeriste per jaar ontvang. Dit is meestal prima-toeriste omdat Egipte streng grensbeheer uitoefen sodat relatief min mense van buurlande oor die grens kan kom en as toeriste gereken kan word.

Meksiko ontvang jaarliks meer as 22 miljoen toeriste.

Suid-Afrika het verlede jaar meer as nege miljoen toeriste ontvang. Hoewel dit ‘n effense toename op die vorige jaar was, word dit effens getemper deur die gemiddelde afname in hoeveelheid dae wat in Suid-Afrika gespandeer word. Die gemiddelde toeris spandeer net meer as sewe dae in die land, kwalik genoeg tyd om net ‘n fraksie van die land se toerismepotensiaal te kon geniet.

So lank Marikana en ander vrae nie opgeklaar en die land se buitelandse beeld nie opgeruim word nie, gaan die land moeilik aan sy groeiverwagtinge kan voldoen.

En dan praat ‘n mens nie eens van die gevolge as daar ‘n tweede Marikana plaasvind, wat deur ‘n behoorlike ondersoek en doeltreffende voorkomingsmaatreëls voorkom kon wees, plaasvind nie. Miskien moet na prioritisering gekyk word, soos hoeveel bespaar kan word aan luukse vakansie, op belastingbetalerskoste, vir die president en sy gevolg, die grootte van afvaardigings na die buiteland en die beperking daarvan tot lede wat werklik bydraes kan lewer, die luuksheid van motors vir politici en ondergrondse bunkers by privaat wonings, sodat die grondwet se bepalings van gelykheid voor die reg net ‘n titseltjie meer haalbaar kan wees.

En sommer terloops – indien die staat beter in regsadvies belê, hoeveel kan nie aan verkwiste hofsake waar die staat die onderspit delf spandeer word nie? Was dit nou werklik nodig dat die staat die DKD-Solidariteit-hofsaak op belastingbetalerskoste verdedig om ‘n skeefgetrekte vertolking van die grondwet as juridiese suiwer praktyk te probeer vestig?

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae