Eerste Nasionale Bank (FNB) het Donderdag bevestig hy het ingestem om sy naamgewing- en aanwysingsbordregte vir die FNB-stadion tydens die Africa Cup of Nations (Afcon)-toernooi op te gee.
Tydens die duur van die Afcon-toernooi sal die stadion, ook bekend as Soccer City en waar die finaal van die 2010 Fifa Sokkerwêreldbeker gehou is, as die “nasionale stadion” bekendstaan, berig SowetanLIVE. Die toegewing verstryk sewe dae ná die finale wedstryd op 10 Februarie 2013 wanneer FNB weer sy regte kan opneem.
“As ‘n trots Suid-Afrikaanse bank en in die gees van die nasie om ‘n onvergeetlike Afcon-toernooi te hou, is FNB verheug om op ‘n vreedsame manier tot ‘n vergelyk te kon kom ná ons onlangse gesprekke met die regering en die departement van openbare werke,” het Bernice Samuels, hoofbemarkingsbeampte van FNB, gesê.