Tiaz Sooliman, die stigter van die humanitêre welsynsorganisasie Gift of the Givers, het Maandag gesê die organisasie se verteenwoordiger in Jemen, Anas Al-Hamati, gaan Dinsdag na die gebied vlieg waar Pierre aangehou word en persoonlik met die ontvoerders, wat glo aan Al-Kaïda verbind word, vergader.
Al-Hamati sal ook afskrifte van Pierre se Suid-Afrikaanse paspoort vir hulle neem om te bewys dat hy nie ʼn Amerikaanse toeris is nie, en dat die losprys dus buitensporig is. Die vergadering is vir 11:00 (Suid-Afrikaanse tyd geskeduleer).
Maroela Media het Vrydag berig Pierre se vrou, Yolande, is met behulp van die organisasie vrygelaat. Sy en haar man is in Mei 2013 in Taiz ontvoer nadat hulle glo as Amerikaanse toeriste aangesien is. Die ontvoerders het Vrydag $3 miljoen (ongeveer R30 miljoen) binne agt dae geëis vir Pierre se vrylating. Die groep het aanvanklik $2 miljoen vir Yolande geëis, maar het haar sonder ʼn losprys vrygelaat.
Dis vir my onverstaanbaar dat sommige Suid-Afrikaners hulle begewe in lande wat duidelik gevaarlik is en hulle blykbaar nie steur aan waarskuwings dat hulle die gevaar loop om ontvoer of erger nog vermoor te word deur radikale elemente nie.