Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, sê reddingswerkers kon daarin slaag om ‘n groot rots wat ʼn gedeelte van die opening na die myn versper het, te verwyder. Daar is glo nog ʼn stuk beton wat die opening versper. Volgens Vermaak sal die onwettige mynwerkers hopelik binnekort gered kan word. Reddingstoerusting is na die toneel gebring en die grond is gestabiliseer. Vermaak sê reddingswerkers kan met nagenoeg 30 van die onwettige mynwerkers wat aan die bokant van die myn vasgekeer is kommunikeer. Diegene wat aan die bokant van die myn vasgekeer is, het aan reddingswerkers gesê dat nagenoeg 200 mense in ʼn tonnel ondertoe vasgekeer is. Die Ekurhuleni-metropolisie het Sondagoggend op die onwettige mynwerkers afgekom terwyl hulle besig was om die gebied te patrolleer. Hulle is glo sedert Saterdagoggend in die verlate myn vasgekeer. Die SABC berig dat die onwettige mynwerkers glo deur ʼn ander groep onwettige mynwerkers beroof is waarna laasgenoemde glo die opening na die myn versper het.
Lees ook:
Honderde onwettige mynwerkers glo ondergronds vasgekeer