“Ek glo dat dagga medisinaal is. Ek maak tee daarvan vir my asma,” het Calitz (50) aan die Saturday Star gesê. “Dit is ʼn natuurlike plant en ek dink nie dit moet onwettig wees nie.” Calitz wou nie kommentaar lewer oor die hofsaak nie maar het haar gebruik van dagga verdedig. “In plaas daarvan om die e-tolstelsel op ons hofweë te sit, wettig dagga en belas dit,” het sy aan die Saturday Star gesê.
Calitz en agt ander mense is vroeër vir dwelmbesit in hegtenis geneem en het Maandag in die Hatfield-distrikshof verskyn. Hulle is op borgtog van ʼn R1 000 elk vrygelaat en die saak is tot 30 Januarie uitgestel vir verdere ondersoek. Calitz en haar voormalige vriend Bruno Pelizzari is op 26 Oktober 2010 deur seerowers ontvoer terwyl hulle aan die kus van Tanzanië met hul seiljag gevaar het. Hulle is in Junie vanjaar vrygelaat ná ‘n gesamentlike operasie deur Suid-Afrika, Somalië en Italië.