Die ouers van ʼn tienjarige sportster verskyn Vrydag weer in die Bloemfonteinse landdroshof nadat hulle haar glo só hard laat oefen het, dat hulle van poging tot moord en kindermishandeling aangekla word.
Die Volksblad het vroeër berig die meisie se 38-jarige ma en haar 31-jarige stiefpa is Maandag met ʼn waarskuwing vrygelaat nadat hulle, tydens hul eerste hofverskyning, hulself in die landdroskantoor aan die polisie oorgegee het.
Volgens die berig spruit die aanklag van poging tot moord uit ’n voorval in Oktober verlede jaar toe die meisie vir lank in die Krugerdriftdam moes swem terwyl haar ma en stiefpa toegekyk het. Toe sy later nie meer kon swem nie, is sy glo geslaan en gedwing om weer te swem. Die ma word ook van aanranding met die opset om ernstig te beseer, aangekla. Die landdros het die ma gewaarsku dat sy ʼn minimumvonnis van 10 jaar opgelê kan word vir ʼn eerste oortreder.
Die meisie is in pleegsorg geplaas.
– SAPA