Die Wes-Kaapse hooggeregshof het Dinsdag ʼn selferkende pedofiel se vonnis van vyf jaar tronkstraf ter syde gestel.
Ian Appleton (72), ʼn afgetrede onderwyser, het verlede jaar in die Paarl streekhof erken dat hy ʼn sewejarige seun herhaaldelik verkrag het in 2007 en 2008. Appleton was glo jare lank vriende met die seun se ouers. Hy is vroeër vanjaar vyf jaar tronkstraf opgelê. Regters Vincent Saldanha en Daniel Dlodlo het egter Dinsdag die saak terugverwys na die Paarl streekhof en beveel dat Appleton se nuwe vonnis tronkstraf en korrektiewe toesig insluit. Appleton het nie gister se hofverrigtinge bygewoon nie. Hy is steeds uit op borgtog.