‘n Groep sakelui van Pelgrimsrus gaan Dinsdag ‘n dringende aansoek by die Pretoriase hooggeregshof indien om hul uitsetting te verhoed. Dié aansoek is teen Dikeledi Mahlangu, provinsiale minister van openbare werke.
Maroela Media het op 6 Julie berig dat dié departement in Mpumalanga 17 van die 21 huurders uitgeskop het nadat nuwe tenders vir okkupasie aanvaar is. Die geboue in die dorp behoort aan die departement. ʼn Woordvoerder van die departement, David Nkambule, het gesê winkelhuurders is betyds in kennis gestel rakende die verval van hul huurkontrakte. Die betrokke ondernemings moet binne 30 dae die onderskeie persele verlaat.
Van die huurders voer aan dat die departement nie op hul aansoeke reageer het nie. Volgens berigte het een van die tenderaars vyf van die nuwe kontrakte gekry. Drie ondernemings, die Royal Hotel en die polisiekantoor, word nie geraak nie. Die Vryheidsfront Plus het intussen die openbare beskermer, Thuli Madonsela, versoek om ondersoek in te stel of die korrekte prosedures gevolg is met die toeken van die tenders.