Rocky Jr. sterf

Sylvester en Sage Stallone in 'n toneel uit Rocky V

Aspirant akteur en rolprentmaker, Sage Stallone (36), die seun van die aksieheld Sylvester Stallone, is Vrydagoggend dood aangetref in sy huis in Hollywood, Los Angeles.

Lt. Andy Neiman, woordvoerder van die polisie in Los Angeles, sê Stallone se liggaam is aangetref toe die owerhede na die huis ontbied is om na sy welstand om te sien. George Braunstein, ‘n prokureur, sê egter Stallone se liggaam is deur ‘n huishulp aangetref. “Familie en vriende was bekommerd omdat hulle nie die vorige dag iets van hom gehoor het nie. Die huishulp het gaan ondersoek instel en op hom afgekom,” het Braunstein gesê. “Dit is ‘n tragedie. Hy was ‘n jong, talentvolle rolprentmaker en aangename mens.”

Sage Stallone

Sage Stallone het in ‘n aantal rolprente gespeel, onder andere as Rocky Balboa Jr. saam met sy pa in Rocky V in 1990. Hy is die tweede seun van Sylvestor Stallone (66) in sy huwelik met Sasha Czack. “Sylvester is verpletter en bedroef oor die skielike afsterwe van sy seun. Sy meegevoel gaan uit na sy ma Sasha.” Stallone en Czack is ná 10 jaar se huwelikslewe in 1985 geskei.

Daar is nog nie verdere besonderhede beskikbaar oor sy dood nie. “Ons het nog nie besonderhede nie, maar dit moes ‘n tragiese ongeluk gewees het. Hy was vol lewe en het altyd aan verskeie projekte gewerk,” het Braunstein gesê. “Hy was glad nie depressief of enigiets nie.”

Neiman sê dit lyk nie of iemand ingebreek het nie, en hulle vermoed nie gemene spel in dié stadium nie.

Die webwerf TMZ beweer dat Sage aan ‘n oordosis dwelmmiddels gesterf het.

Rocky V amptelike lokprent:
http://youtu.be/H1WGsCE3cB4

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.