‘SA moet help met Rusland-Oekraïne-konflik’ – België

Pres. Cyril Ramaphosa word aan die koning se kabinet voorgestel. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

België het ʼn beroep op Suid-Afrika gedoen om sy verhouding met Rusland te gebruik om te help om die oorlog tussen dié land en Oekraïne te beëindig.

“Gegewe Suid-Afrika se sterk historiese bande met Rusland, sal ons verheug wees as julle dit oorweeg om julle kommunikasiekanale te gebruik om ʼn pad na vrede te bevorder,” het Hadja Lahbib, die Belgiese minister van buitelandse sake, Donderdag tydens ʼn perskonferensie in Pretoria gesê.

Lahbib vergesel koning Philippe en koningin Mathilde van België op ʼn vyf dae lange staatsbesoek aan Suid-Afrika.

“Ons het nog altyd opgekyk na Suid-Afrika as ʼn sleutelvennoot vir vrede en die verdediging van menseregte,” het Lahbib gesê.

Pres. Cyril Ramaphosa het in reaksie hierop gesê dat hy voortgaan “om die kanaal wat ons met Rusland het te gebruik om te praat oor hoe die konflik beëindig kan word”.

Suid-Afrika het sedert die aanvang van die oorlog geweier om Rusland se inval in Oekraïne op die internasionale verhoog te veroordeel en gesê hy verkies om neutraal te bly om samesprekings te fasiliteer om die oorlog te help beëindig.

Koning Philippe en koningin Mathilde van België saam met Ramaphosa. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

België se versoek kom byna ʼn week nadat die Internasionale Strafhof ʼn lasbrief vir die Russiese president, Wladimir Poetin, se inhegtenisneming uitgereik het.

Naledi Pandor, minister van buitelandse sake, het Donderdag aan media gesê dat die lasbrief “natuurlik ʼn saak van kommer is”.

Suid-Afrika sal in Augustus ʼn beraad vir die BRICS-lande aanbied. Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika vorm deel van dié groepering.

Pandor het bevestig Poetin is na die beraad genooi.

Suid-Afrika is deel van die Internasionale Strafhof en sal van verwag word om die inhegtenisnemingsbevel uit te voer sou Poetin die land betree.

Pandor het gesê die kabinet sal vergader “om te besluit presies hoe ons gaan reageer”.

Suid-Afrika se bande met Rusland strek sedert die tyd wat die Kremlin die ANC bygestaan het voor die eerste demokratiese verkiesing in 1994.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.