1 000 beseer in SA myne

Argieffoto

Die United Association of South Africa (Uasa) sê hy is bekommerd oor die toenemende aantal beserings en sterftes wat verlede jaar en vanjaar by die land se myne aangemeld is.

Volgens statistiek is as 1 000 beserings tussen 2020 en 2021 by Suid-Afrikaanse myne aangemeld. Dit is hoofsaaklik toegeskryf aan rotsstortings of ongelukke wat met masjinerie, elektrisiteit of ander mynbou-aktiwiteite verband hou.

Daar is tot dusver 60 meer sterftes in die eerste agt maande van vanjaar aangemeld, in vergelyking met die eerste agt maande van verlede jaar.

Abigail Moyo, woordvoerder van Uasa, sê die toename in sterftes en beserings is veral kommerwekkend omdat daar juis ʼn afname in die vorige jare was.

“Die mynbedryf was jare lank die sektor wat die meeste sterftes aangemeld het as gevolg van ondergrondse ongelukke. Daar was die afgelope paar jaar egter ’n merkbare afname in ongelukke en sterftes weens tegnologiese vooruitgang en werkgewers en vakbonde wat oplossings ontwikkel het om ondergrondse ongelukke te voorkom,” sê Moyo.

Uasa se afdelingsbestuurder en raadslid van die raad vir gesondheid en veiligheid in myne, Franz Stehring, het ’n beroep op rolspelers in die bedryf gedoen om waaksaam te wees en op alle moontlike maniere voldoende veiligheid vir werknemers te verseker.

“Die sektor het al baie werkers se lewens geëis. Ons moet verdere lewensverlies ten alle koste voorkom,” sê Stehring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.