Dit is Sondag al 1 000 dae sedert die 27-jarige Siphokazi Booi se verkoolde liggaam in ʼn asblik langs die Mbekweni-spoorlyn in die Paarl in die Wes-Kaap aangetref is. Tog het geregtigheid nog steeds nie geskied nie, sê Kaylynn Palm, hoof van Action Society se provinsiale aksiesentrum.
Booi se gewese kêrel, Sithobele Qebe, het in Desember verlede jaar skuld op haar moord beken. Hy het ook skuldig gepleit op aanklagte van regsverydeling, aanranding met die doel om ernstig te beseer, die skending van ʼn liggaam en versuim om aan borgtogvoorwaardes te voldoen. Hy is egter nog nie gevonnis nie.
“Siphokazi se moord is simbolies van Suid-Afrika se verrottende regstelsel en hoe dit voortgaan om geregtigheid aan slagoffers van geweld te ontsê. Dit wys ook hoe misdadigers die regstelsel met talle onnodige uitsteltegnieke misbruik.”
Palm sê voorts dat uitgerekte hofprosesse soos dié boonop van die lyding getuig wat slagoffers se geliefdes moet verduur terwyl hulle op geregtigheid wag.
Booi se saak is al herhaaldelik uitgestel en gaan op 13, 14 en 17 Mei in die Paarlse streekhof voort.
“Ons loof haar familie se onwrikbare deursettingsvermoë, veral haar sussie, Notando, wat weier om op te gee en aanhoudend vir geregtigheid veg.”
Palm sê Action Society, ʼn drukgroep, sal ook voortgaan om Booi se naam lewend te hou en om haar geliefdes by te staan totdat Qebe finaal uit die samelewing verwyder is.
Booi is egter nie die enigste een wat deur die regstelsel gefaal word nie, aldus Palm.
“Siphokazi is nie alleen nie. Sedert haar dood is 80 000 Suid-Afrikaners al vermoor (80 per dag). Vertragings met die oplos van moorde en die vervolging van moordenaars speel ʼn beduidende rol in dié statistieke.
“Wanneer oortreders gevang word, kan hulle dikwels met ander ernstige misdade verbind word. Die werklikheid is egter dat die slakkepas van geregtigheid tot die dodetal bydra.”