11-jarige slaan seuns vir ʼn ses

Sy is al van jongs langs die krieketveld. Foto: Verskaf.

Sy is net 11 jaar oud, maar wanneer Laerskool Hartenbos se Mi-Jeanne Botha ’n kap- of trekhou speel, rond sy dit met ’n swierige swaai van haar KH Ignite-kolf af.

Amper soos ’n Brian Lara of ’n AB de Villiers.

“Ek het al van kleins af ’n liefde vir krieket gehad en ek was altyd langs die veld wanneer my ouer broer gespeel het. Ek onthou hoe ek altyd sy beenskutte, handskoene en helm aangetrek het,” vertel Mi-Jeanne.

Sedertdien – en om vir Demi Lee Moore effens verkeerdelik aan te haal – eet, slaap en herhaal sy krieket.

Sy skaaf dwarsdeur die jaar aan haar vaardighede en is ’n lid van die High Performance Future Star-akademie in Mosselbaai. Nodeloos om te sê oefen sy ook saam met haar skoolspan gedurende die krieketseisoen.

“Ek is baie bevoorreg dat my pa vir ons ’n krieketnet by ons huis opgesit het en so tussen my huiswerk deur kan ek ’n paar balle slaan en boul. Ek hou ook daarvan om tydens skoolvakansies krieketklinieke by te woon.”

Sy spog met ’n hoogste telling van 64 onoorwonne lopies vanaf slegs 42 aflewerings vir haar skool se o.11-span.

Rek die seuns se oë wanneer sy die bal op die voorvoet na die grens jaag?

Foto: Verskaf.

Haar spanmaats is eintlik al gewoond aan haar kolfwerkvernuf en sy vertel dat sy baie lekker saam met hulle oefen en kuier.

Die spreekwoordelike pôpô tref veel eerder die fên wanneer sy teen onbekende teenstanders speel.

“Hulle dink gewoonlik dat hier ’n maklike paaltjie kom; totdat die bal vir die eerste keer sy pad na die grens vind. Dán raak dinge interessant. Eintlik is dit eerder die pappas wat nie so baie daarvan hou nie!” vertel sy laggend.

“Tog is dit ook wat krieket so ’n lekker sportsoort maak. Dit maak nie saak of jy ’n seun of dogter is nie; solank jy net die telbord aan die gang hou, paaltjies neem en raakvang.”

Sy droom daarvan om eendag vir Suid-Afrika op die krieketveld te verteenwoordig. Om soos Suné Luus en Marizanne Kapp die Protea-hemp aan te trek en voor ’n volgepakte stadion te speel. O ja, dan wil sy ook baie graag vir David Miller ontmoet!

Benewens haar krieketavonture speel sy ook netbal, hokkie en tennis terwyl sy ook in die atletiekspan opgeneem is.

“Ek speel ook elke pouse sokker en ek wens gereeld dat die skool vroeër sal uitkom sodat daar meer tyd vir sport is.”

Maar krieket is ongetwyfeld haar groot liefde. Jy is deel van ’n span, maar jou individuele vaardighede dra ook tot die uiteindelike sukses by.

Sal sy krieket bó iets soos ’n redenaarskompetisie verkies?

“Beslis! Ek doen redenaars omdat my ma sê dit sal van nut wees om eendag voor baie mense te kan praat. Maar tydens so ’n kompetisie moet almal doodstil sit terwyl elkeen sy toespraak lewer. Om stil te sit is nie my sterkpunt nie.”

Krieket is goed vir Mi-Jeanne. En Mi-Jeanne is goed vir krieket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

George ·

Ek onthou Mignon van die vrouens span het ook so op skool vir die seuns club spanne gejol en blerrie goed gedoen, sterkte, sien jou een van die dae in Protea kleure.

TRP ·

Hou talentvaol is die meisie nie. Hou aan groot droom, wat jy insit is baie dus sal jy uitkry wat jy insit. Sterkte, hoop om weer eendag van jou te lees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.