14 sterf in brande in Kaapstad

Familielede en lede van die gemeenskap deursoek die puin waar ses lede van dieselfde huishouding Saterdagoggend omgekom het in ʼn brand by die Blowy- informele nedersetting in Khayelitsha (Foto: Vincent Lali/GroundUp)

Kaapstad se brand- en reddingsdiens het minstens 14 sterftes oor die naweek aangemeld, insluitend sewe minderjariges.

In een van die jongste voorvalle is twee volwassenes Sondagaand oorlede, vermoedelik weens koolstofmonoksiedvergiftiging in New Woodlands, Mitchells Plain. Volgens die bure het die gesin ʼn drom warm kole in die huis ingedra. Hulle is oorval deur ʼn gebrek aan suurstof, sê JP Smith, burgemeesterskomiteelid oor veiligheid en sekuriteit.

Twee slagoffers is op die toneel dood verklaar. Twee kinders is na ʼn hospitaal geneem vir behandeling. Die polisie het intussen bevestig dat die kinders ook oorlede is.

“Dit is die tweede soortgelyke voorval in net meer as twee weke. Op 13 Julie is vier persone bewusteloos aangetref by hul huis in Uitsig. Hulle moes na ʼn hospitaal geneem word vir behandeling,” voeg Smith by.

In ander voorvalle oor die naweek is 12 mense dood in vyf brande in Khayelitsha, Delft en Houtbaai. Elf huise is verwoes. In een van die voorvalle is ses mense, insluitend drie jong kinders van een huishouding, Saterdag in die vroeë oggendure oorlede tydens ‘n brand by die Blowy- informele nedersetting.

“Die verlies aan lewe is absoluut hartverskeurend. Die stad se rampbestuursentrum koördineer die betrokke dienste om te reageer op die trauma en om humanitêre bystand te verleen.”

Smith sê die voorvalle word deur die polisie ondersoek, maar die publiek word gemaan om altyd brandveiligheid in gedagte te hou. Klik hier vir veiligheidswenke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Christina ·

So jammer vir die families met die verlies van hulle geliefdes en besittings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.