17-jarige leeu gegroet

Argieffoto (Foto: Rassie Wentzel/Facebook)

ʼn 17-jarige leeu, wie se toestand al sedert Desember 2023 gemonitor word, is by die Bergkwagga- nasionale park in die Oos-Kaap van kant gemaak.

JP Louw, woordvoerder van SANParke, sê die leeu kon nie meer vir homself sorg nie en die besluit moes ongelukkig geneem word om hom met chemiese middels om die lewe te bring.

“Die bestuur van die nasionale park, geleë buite Cradock, het die leeu al vir ʼn paar maande lank dopgehou. Sy toestand het oor ʼn periode van twee maande nie verbeter nie. Dit is by SANParke se veeartsenydiens (VWS) aangemeld.”

Die leeu is teen die einde van Februarie met ʼn verdowingspyl geskiet sodat hy van nader ondersoek kon word.

“Die leeu se gevorderde ouderdom van 17 jaar is in ag geneem. In die natuur word leeus gemiddeld slegs tussen agt en 16 jaar oud. Sy liggaamlike toestand en swak gesondheid (huiwerigheid om te beweeg en swak tande) is ook in ag geneem. Hy kon nie meer vir homself sorg of homself verdedig nie. SANParke se veeartseny- en parkebestuur het die besluit geneem om hom eerder om die lewe te bring, aangesien hy waarskynlik nie sou verbeter nie.”

Louw benadruk dat dit nie ʼn opsie was om die leeu na ʼn ander ligging te skuif nie. “In ʼn groot oop stelsel sou hy nie kon meeding nie. Ander leeumannetjies of jonger mannetjies sou hom waarskynlik doodgemaak het.

“Dit sou ook oneties gewees het om ʼn dier, wat sy lewe lank vry rondbeweeg het, skielik uit sy bekende omgewing te skuif sonder die ondersteuning van sy trop.”

Die bestuur van die wildtuin beplan om twee leeumannetjies by te voeg.

“Die verwydering en vestiging van leeumannetjies by die Bergkwagga- nasionale park speel ʼn belangrike rol om inteling in dié bevolking te voorkom. Dit hou ook die genetiese integriteit van die leeubevolking in stand.”

Louw sê die optrede deur die wildtuin strook met die organisasie se wetenskaplike benadering tot bestuur en normale prosedures van SANParke se bestuur van karnivore en roofdiere.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Cassie Carstens ·

Baie dankie tog. Hier is nog mense in ons land wat diere se belang en lewenskwaliteit voorop stel.

Eiervrug ·

Ek dink dit was die regte ding om te doen. Ons hoef nie te kyk hoe diere ly nie….

Papsak ·

Ja is regte ding gedoen moenie dat diere ly nie dannkie vir die wat om gesien het na hom baie dankie

Danie ·

Dit was die regte besluit.
Dankie aan alle betrokkenes vir hul insig en optrede om die dier se lyding te beeindig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.