1996 het gebel … en hy soek sy kalender terug

1996 en 2024: Een en dieselfde. (Foto: X)

Hopelik het jy nie daardie kerk-kalender wat in 1996 agter die badkamerdeur gehang het weggegooi nie: daardie einste kalender kan nou – byna 30 jaar later – hergebruik word.

En al is die Spice Girls en eenstuk-baaikostuums à la Baywatch dalk nie in 2024 meer hoogmode nie, is die 1996-kalender wel terug: 1996 was nes 2024 ʼn skrikkeljaar en albei jare het op ʼn Maandag begin, wat beteken die kalender is nommerpas vir die nuwe jaar.

Die Amerikaanse presidensiële verkiesingsdatum is boonop op ʼn Amerikaanse 1996-kalender korrek vir 2024 as 5 November gemerk. Die Olimpiese Spele vind ook vanjaar plaas – nes in 1996. Die datums vir die Spele in 1996 en dié van 2024 strook wel nie.

Talle nostalgiese sosialemediagebruikers het hul reeds na sosiale media gewend om hul aanhangers op die eienaardigheid te wys en een só ’n video op TikTok is al meer as 1,5 miljoen keer gekyk.

Intussen verkoop tweedehandse webwerwe soos Ebay honderde 1996-kalenders met temas wat wissel van Star Wars en Barbie tot Pamela Anderson aan Amerikaners. Pryse wissel van $50 (sowat  935) tot $200 (sowat R3 750).

ʼn Pocahontas-kalender sal jou vanjaar ʼn allemintige $149,99 (sowat R2 800) uit die sak jaag.

Die kalenders sluit aan by ʼn vlaag modeneigings en haarstyle wat tans deur die 1990’s geinspireer word.

  • Luidens die webtuiste Time and Date kan die ouer garde ook hul kalenders van 1968 en 1940 in 2024 hergebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OU SAAR ·

Ai, hoe spyt is ek nie nou dat ek tog maar my ou kallenders gebêre het nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.