2 dood, verskeie beseer toe bakkie rol

Die wrak van die bakkie in Vanderbijlpark. (Foto: ER24)

Twee mans is dood en sewe ander beseer toe ’n bakkie Donderdagaand in Vanderbijlpark in Gauteng gerol het.

Dít terwyl vyf ander om en by dieselfde tyd beseer is gedurende ’n botsing in Johannesburg.

In die Vaaldriehoek het paramedici omstreeks 18:48 met hul aankoms op ’n toneel in Barrageweg in Vanderbijlpark verskeie mans aangetref wat verspreid buite die wrak van ’n bakkie gelê het.

“Paramedici het die pasiënte ondersoek en bevind dat twee mans noodlottige beserings opgedoen het. Niks kon vir hulle gedoen word nie en hulle is dood verklaar,” het Russel Meiring, woordvoerder van ER24, in ’n verklaring gesê.

Volgens Meiring het nóg ’n man kritieke beserings in die voorval opgedoen terwyl ses ander mans ligte tot matige beserings aangemeld het.

Dié mans is almal op die toneel behandel voordat hulle na ’n plaaslike hospitaal vervoer is vir verdere mediese behandeling.

Die plaaslike owerhede was op die toneel om ondersoek in te stel.

Die wrak van die taxi in Glenanda, Johannesburg. (Foto: ER24)

Paramedici het Donderdagaand op nóg ’n ongeluk gereageer wat byna op dieselfde tyd elders in die provinsie plaasgevind het.

Volgens Meiring is vyf mense beseer toe ’n bakkie en ’n taxi in Glenanda in Johannesburg gebots het.

Paramedici het omstreeks 18:46 op die toneel in Amandastraat aangekom waar hulle ’n taxi aangetref het wat teen ’n boom tot stilstand gekom het. ’n Bakkie het ’n kort afstand daarvandaan gestaan.

“Paramedici het vyf pasiënte op die toneel ondersoek en bevind dat een [van die pasiënte] ’n ernstige besering aan sy been opgedoen het terwyl vier ander matige beserings opgedoen het.”

Die pasiënte is almal op die toneel behandel voordat hulle na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in die stad vervoer is vir verdere mediese behandeling.

Die owerhede was ook hiér op die toneel om ondersoek in te stel, het Meiring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.