20 jaar vir poging tot mensehandel

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplashed)

ʼn Vrou van Manguzi in KwaZulu-Natal is 20 jaar tronkstraf opgelê nadat sy probeer het om ʼn albino‑kind aan ʼn plaaslike tradisionele geneesheer te verkoop.

Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag het die vrou (34) in Junie 2016 vir James Mthembu, ʼn tradisionele geneesheer, genader en gesê sy kan ʼn 11-jarige kind in haar gemeenskap in die hande kry, sou hy die kind vir tradisionele medisyne wou gebruik. Sy wou R100 000 vir die kind hê en het gesê hy moet haar kontak, sou hy met die transaksie wou voortgaan.

Mthembu het die polisie oor die beplande transaksie ingelig en dié het hom vergesel na sy ontmoeting met die vrou. Die vrou, self ʼn ma, is gevolglik in hegtenis geneem.

“Mthembu, die betrokke polisielede en die kind se ma het teen die vrou in die hof getuig. In ʼn slagoffer impakverslag sê die ma van die kind sy vrees vir haar kind se veiligheid en haar kind is ook baie bang. Sedert die voorval laat sy hom nie toe om die huis se erf te verlaat nie,” sê Natasha Ramkisson-Kara, streekswoordvoerder van die NVG in KwaZulu-Natal.

Die ma het ook gesê sy is lief vir haar kind en beskou hom as ʼn geskenk, maar dat dit moeilik is om hom te beskerm, aangesien sy weet daar is baie mense wat hom leed wil aandoen. Sy sê ander ma’s met albino‑kinders deel haar vrees.

Die hof het die beskuldigde gevolglik tot 20 jaar direkte tronkstraf gevonnis en ook ʼn maatskaplike werker opdrag gegee om haar huis te besoek en ondersoek in te stel na die welstand van die skuldige se eie kinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.