3 sterf in N4-botsing

Argieffoto

Drie mense is vroeg vanoggend in ʼn ongeluk op die N4 tussen Middelburg en Witbank (Emalahleni) in Mpumalanga dood.

Moeti Mmusi, woordvoerder van die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid, het gesê drie voertuie was betrokke in die botsing wat omstreeks 01:00 plaasgevind het.

Volgens Mmusi het die bestuurder van ʼn motor vermoedelik beheer verloor waarna die voertuig van die pad gegaan en reg van voor teen ʼn aankomende bakkie gebots het. Die motor het in die proses ook teen ʼn vragmotor gebots.

Die bestuurder asook ʼn passasier van die motor het in die voorval gesterf. ʼn Passasier van die bakkie het ook in die voorval omgekom.

Mmusi verduidelik daar was saam met die bestuurder altesaam sewe insittendes in die bakkie toe dit teen die motor bots. Vyf van die ander passasiers is ernstig in die voorval beseer. Een van die insittendes asook die bestuurder van die vragmotor is ongedeerd.

Die beseerdes is almal na Witbank-hospitaal gehaas vir verdere mediese behandeling, het Mmusi gesê.

ʼn Ondersoek na die presiese omstandighede rakende die botsing is van stapel gestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.