417 geskorste staatsdienswerkers kry steeds volle salaris

(Argieffoto)

Altesaam 417 staatsdienswerkers verdien steeds hul volle salarisse al is van hulle al vir langer as drie jaar geskors.

Die geskorste werkers se salarisse het reeds belastingbetalers byna R70 miljoen uit die sak gejaag.

Die departement van openbare werke en administrasie het onlangs in antwoord op ʼn parlementêre vraag deur die DA onthul hoeveel staatsdienswerkers verbonde aan provinsiale en nasionale departemente op dissiplinêre prosesse wag om teen hulle afgehandel te word, maar steeds hul volle salaris trek.

Een van die departement van openbare werke en administrasie se eie werknemers is reeds vir twee jaar en sewe maande geskors, maar in hierdie tyd R4,4 miljoen betaal.

Op provinsiale vlak is ʼn werknemer verbonde aan die Vrystaatse departement van menslike nedersettings vir twee jaar en agt maande geskors. Hy is in hierdie tyd altesaam R3,6 miljoen betaal.

Mimmy Gondwe, die DA se woordvoerder van openbare dienste en administrasie, sê wat veral kommerwekkend is, is dat 42 staatsdienswerkers geskors is wat senior posisies beklee. Elk van hierdie werkers verdien meer as R1 miljoen per jaar, maar “sit net by die huis en word vir niks betaal nie”.

“Hierdie klas werkers het in miljoenêrs verander wat semi-aftrede geniet op belastingbetalers se onkoste,” sê sy.

Gondwe voer aan dat die slegte stand van sake ʼn groot verleentheid is vir die staatsdiens en wys op die gebrekkige dissiplinêre bestuurstelsels in staatsdepartemente oor die hele land.

“Hoewel die land se arbeidswette alle werknemers se reg op billike dissiplinêre verhore waarborg, is die staatsdiens se versuim om dissiplinêre prosesse betyds af te handel ʼn bewys van ʼn stelsel wat dringende herstrukturering benodig,” sê sy.

“Boonop beïnvloed langdurige skorsings dienslewering aangesien ander werknemers van staatsdepartemente gedwing word om die ekstra werklas te dra.”

Volgens Gondwe word die departement van openbare dienste en administrasie nou verplig om dissiplinêre stelsels in die staatsdiens te hersien en aanbevelings te maak oor hoe dit aangepas kan word.

Die DA het ʼn beroep op min. Noxolo Kiviet gedoen om dringend ʼn duidelike plan bekend te maak oor hoe hierdie “administratiewe krisis” aangepak gaan word en die kultuur van maande en jare lange skorsings met volle betaling verander gaan word.

“Dit is onaanvaarbaar om te verwag dat belastingbetalers – wat tans deur een van die ergste lewenskostekrisisse worstel – geskorste staatsdienswerkers se miljoenêrleefstyle finansier.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Carl ·

Die gebrek aan dringendheid is skokkend. Dit spreek van n traak my nie agtigheid. Dit sou dalk ander gewees het as onbevoegdheid en luiheid met afdankings gepaard geggaan het of as die ondersoekers sowel as die geskorstes se pensione gebruik is om hulle te betaal tydens die tydperk van skorsing.

Amelia ·

En hoeveel van die geskorste mense met betaling werk vir n 2de firma ook teen n groot salaris Die belasting betaler betaal vir als en sukkel elf om kop bo water te hou sodat die mense in Hoee oiste n heerlike gerieflike lewe kan lei

Stofdonkie ·

Ek wonder of die poste van die “geskorsde” werkers al gevul is? Sou die poste gevul wees beteken dit dus dat daar twee salarisse betaal word vir een pos, indien die poste nie gevul is nie beteken dit dat daar ‘n groot tekort aan werkers is en dat werk sodoende net nie gedoen word in die poste nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.