Altesaam 55 leerders van die AB Xuma Laerskool in Johannesburg het die 57-jarige veiligheidswag wat hulle na bewering seksueel aangerand het, tydens ʼn uitkenningsparade uitgeken.
Cheryl Slack, staatsaanklaer, het Woensdag in die Protea-landdroshof in Soweto vir landdros Herman Badenhorst gesê nog 44 kinders het die uitkenningsparade voltooi ná die aanvanklike 15 leerders. Uit dié 59 leerders het 55 die man uitgewys as die beweerde oortreder.
Die veiligheidswag staan tereg op aanklagte van verkragting en seksuele aanranding nadat hy glo 87 leerders seksueel misbruik het.
Dennis Mabasa, vir die veiligheidswag, was nie in die hof teenwoordig nie, maar het Slack ingelig sy kliënt is steeds van plan om sy borgtogaansoek te laat vaar.
Volgens Slack is die staat besig om die assesseringsproses van die kinders af te handel om vas te stel of hulle geskik sal wees om in die hof te getuig.
Die saak is tot 30 November uitgestel vir nadere ondersoek.
Steve Mabona, woordvoerder vir die Gautengse departement van onderwys, het ná die hofverrigtinge gesê die departement het ʼn taakspan wat die ouers verteenwoordig. “Ons staan die ouers by wat hulle kinders uit die skool wil verwyder en maak seker die leerders is gereed om in die hof te getuig,” het hy gesê.