99% van leerders in Wes-Kaap geplaas

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Teen 20 Desember 2022 is 99% van graad 1 en graad 8-leerders in die Wes-Kaap geplaas vir die aanvang van die skooljaar. Altesaam 680 leerders moet nog geplaas word.

“Dit is ʼn yslike prestasie vir ons departement, aangesien ons in vorige jare duisende graad 1- en graad 8-leerders gehad het wat teen dieselfde tyd van die jaar nog geplaas moes word,” sê Bronagh Hammond, woordvoerder van die provinsiale departement van onderwys.

“Danksy ʼn verhoging van R830 miljoen in die infrastruktuurbegroting vir hierdie finansiële jaar kon ons dadelik die tekort aan klaskamers takel. Die Wes-Kaap het 842 klaskamers gebou om 26 000 bykomende leerders vir die 2023-skooljaar te akkommodeer.”

Hammond sê meer as 50 000 graad 1- en graad 8-leerders is gevolglik geplaas as tydens dieselfde tydperk verlede jaar. “Ons het ook 1 143 bykomende onderwysers aangestel vanjaar.”

Hy sê die plasings is egter nog nie afgehandel nie. “Ons weet dat ons laataansoeke sal ontvang, ondanks voortgesette en baie publieke versoeke aan ouers verlede jaar om betyds aansoek te doen. Dit is egter die realiteit waardeur ons in die gesig gestaar word – dieselfde realiteit wat ander provinsies beleef.”

Hy sê van die grootste probleme met laataansoeke is dat die departement nie weet hoeveel laataansoeke hulle sal ontvang nie, by watter skole aansoek gedoen gaan word nie en vir watter grade, tale, ouderdomme en vakke die laataansoeke sal wees.

“Ons het ʼn behoefte aan ʼn stelsel wat kan bepaal waar plek beskikbaar is. Dit is ʼn noodsaaklike deel van die proses omdat dit ons sal help om die laataansoeke te prosesseer.”

Die Wes-Kaapse departement stel reeds in Maart die vorige skooljaar aansoeke beskikbaar sodat soveel as moontlik plasings reeds teen Junie afgehandel kan word.

“Ons begryp dat hierdie ʼn stresvolle en angstige periode is vir ouers [wie se leerders nog nie geplaas is nie]. As ʼn departement versoek ons ouers om met ons saam te werk sodat ons hul kinders so gou as moontlik kan plaas. Ons sal geen steen onaangeroer laat nie. Baie dankie aan elke ouer wat betyds aansoek gedoen het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Dit is ongelooflik hoe vol klaskamers reeds gepak is? Onderwysers het ‘n onmoontlike taak. Maar wat doen die ANC daaraan? Dit is om twee onderwysers per een klas aan te stel om werkloosheid in te perk en onopgeleide kamma-onderwysers so ‘n voet in die deur te gee. Maar g’n nuwe skole of klaskamers kom by nie: Die besuinigingstyl van idiote… en dit terwyl die bevolking met glo nie-rassige skrede aanwas der miljoene.

christo ·

Hoor jy Lesufi! 99%. Hoeveel is geplaas in Gauteng? Is dit weer die Afrikaanse skole se skuld?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.