AA waarsku oor hoër brandstofheffing

(Argieffoto: pixabay)

Die minister van finansies, Tito Mboweni, lewer Woensdag sy begrotingsrede en dit gaan weereens ʼn versigtige balanseertoertjie moet wees.

Die Automobiel-Assosiasie (AA) het Maandag weer ʼn beroep op Mboweni gedoen om nie brandstofheffings te verhoog nie. Die AA sê hy weet die minister het ʼn moeilike taak op hande en Suid-Afrika se reeds kwesbare ekonomie – wat ʼn verdere hou weens die Covid-19-pandemie gekry het – is in ʼn benarde toestand.

“Miljoene Suid-Afrikaners is in ʼn swakker finansiële posisie as dieselfde tyd verlede jaar. Mboweni moet ʼn versigtige balans vind tussen die behoeftes van die regering en burgers se vermoëns om daardie behoeftes te finansier,” sê die AA.

Die vereniging sê ook hy is deeglik bewus dat die verligting wat die staatskas benodig uit verskeie oorde kom – ook uit die sakke van burgers. Die situasie is vererger deur die daling in belastinginkomste weens die verbod wat vroeër op die verkoop van tabak- en alkoholprodukte gegeld het.

Talle mense werk ook steeds van die huis af, wat beteken minder belasting word deur brandstof ingevorder omdat mense nie meer so baie ry nie.

“Die AA glo enige aanpassing in brandstofheffings gaan net nog ʼn finansiële las op verbruikers plaas wat reeds gebuk gaan onder groot geldelike druk.”

Die AA sê ʼn verhoging – selfs een wat ooreenstem met inflasie – gaan saam met stygings in die pryse van ander goedere en dienste opstapel.

“In die lig van die finansiële verwoesting wat Covid-19 op sakeondernemings en individue gehad het, glo ons enige verhoging in heffings gaan teenproduktief en skadelik wees.”

Die algemene brandstofheffing en ʼn heffing vir die padongelukkefonds (POF) word in die brandstofprys ingebou en beloop saam tussen 37% en 42% van elke liter petrol en diesel wat in Suid-Afrika verkoop word.

Die AA sê die algemene brandstofheffing staan tans op R3,77 per liter petrol en R3,63 per liter diesel. Die POF-heffing is R2,07. Saam beloop dit dus R5,84 op elke liter petrol – sowat 37% van die algehele koste – en R5,70 op elke liter diesel – sowat 42% van die aanbevole verkoopprys.

Hy sê buurlande wat brandstof by Suid-Afrika koop voeg nie die belasting by hul brandstofprys nie, wat brandstof in buurlande goedkoper maak as die land wat dit verskaf.

“Enige styging in brandstofheffings loop hand aan hand met toenames in openbare vervoertariewe – ook taxi’s. ʼn Styging in die brandstofheffing dra ook by tot die verhoogde koste vir vervaardigers, verskaffers en die landboubedryf en word geabsorbeer deur stygings wat na verbruikers aangegee word. Baie van hulle kan reeds nie enige verandering in hul maandelikse begrotings bekostig nie,” sê die AA.

Die vereniging sê ook enige verhogings moet gesien word teen die agtergrond van huidige regeringsbesteding en burgers is terdeë bewus van voorgesette en uitgebreide korrupsie, reddingsboeie, stygings in die lewering van nutsdienste en ʼn oorgrote staatsdiens.

Die AA sê werk is skaars en diegene wat werk soek, of reeds klein salarisse verdien, maak staat op veilige, bekostigbare en betroubare vervoer om werk te vind of dit te behou.

“Enige bykomende finansiële druk op hierdie mense gaan ongetwyfeld ʼn regstreekse uitwerking op indiensneming en die groter ekonomie hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johann ·

Lekker mailike vergryp kraantjie wat die ANC kan OOPDRAAI om te vat. Hulle beursies is leeg…hulle is desperaat om daai gulsige hande vol te stop tussen die kaders wat net meer en meer en meer word.

Nie Verbaas ·

As die regering oortollige werkers afdank gaan hulle biljoene spaar maar dit is mos nie n opsie om die staatskas se besteding op salarisse meer in lyn te bring met die res van die wereld nie. Staat se fokus op ekonomie is onder verdenking agv ideologie. Kleur, oormatige en wanbesteding en plundering van fondse is die grootste probleem. Geld word eerder van eerlike belastingbetaler af verhaal om hulle verder te verarm.

Debby ·

Die klomp narre laat my dink aan n klein stout snotneus kind met vuil taai hantjies wat als wil wat en gryp, wat bly oor alles waaraan hulle vat is bemors en vuil

Porseleintjie ·

So moeg vir die vergrype. Wanneer is genoeg dan genoeg?

Mallie ·

Dis goed as hulle die brandstoff pryse verhoog. Dan betaal ALMAL en nie net sekere mense nie. Nou kan hulle die etol skraap soos belowe is en die paaie reg maak. Ons kan al bome plant in die gate op ons paaie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.