ʼn Groep mans het aanbidders by ʼn moskee in Johannesburg aangeval en hul beursies en selfone geëis.
“Die voorval het al verlede week Donderdag plaasgevind, maar die saak is eers Saterdag by die polisie aangemeld,” het lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, gesê. “Ses onbekende mans het die mense oorval terwyl hulle gebid het. Hulle het selfone en kontant en die moskee se kluis gebuit.”
Geen beserings is aangemeld nie en geen skote is gevuur nie. Dlamini sê daar is geen aanduiding dat die mans gewapen was nie.
“Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Dit is nie duidelik waarom die saak eers Saterdag aangemeld is nie,” het hy bygevoeg.
Die moskee is in Johannesburg se middestad geleë. -SAPA