Aanvalle op vragmotors = aanval op ekonomie

Vragmotors brand op die N2 in Mpumalanga. (Foto: Twitter)

Everest Wealth waarsku dat aanvalle op vragmotors nog baie ernstige ekonomiese gevolge vir die land gaan inhou. Dié private beleggings-en-welvaartbestuursmaatskappy bestempel dit selfs as “ekonomiese sabotasie”.

“Oor die afgelope paar jaar is honderde, indien nie duisende nie, vragmotors geteiken en óf geplunder en beskadig, óf aan die brand gesteek. Die padvragvervoersektor is ʼn sleutelbydraer tot die land se ekonomie en aanvalle op vragmotors het ʼn rimpeluitwerking op die groter ekonomiese prentjie,” sê Thys van Zyl, hoof van produkontwikkeling by Everest Wealth.

Nie minder nie as 21 vragmotors is binne enkele dae in Mpumalanga, KwaZulu-Natal en Limpopo aan die brand gesteek.

Van Zyl sê aanvalle van dié aard veroorsaak nie net dat afleweringskedules ontwrig word nie, maar het ook tot gevolg dat vragmotoreienaars groot verliese ly, vervoermaatskappye eindelik hul deure moet sluit en versekeringspremies styg.

Dít terwyl verbruikers eindelik vir die gelag sal moet betaal.

“Dit is ekonomiese sabotasie,” sê Van Zyl.

“Dit is net ongelooflik dat die regering ná hoeveel jare en talle beloftes dit steeds nie kan hokslaan nie. Die aanvalle op vragmotors is moontlik die laaste spyker in die doodskis wanneer dit kom by Suid-Afrika se probleme met logistiek en vragvervoer.”

Van Zyl waarsku dat Suid-Afrika selfs sy status as die sogenaamde poort na Afrika kan verloor en beleggers nóg verder afskrik.

“Dit beïnvloed sakevertroue en buitelandse belegging wat reeds erg geskaad is weens verskeie misstappe en ʼn gebrek aan optrede deur die regering. Dit blyk die private sektor gaan weereens self moet ingryp, soos talle kere vantevore, en dit sal aansienlike koste tot gevolg hê wat niks goeds inhou nie vir verbruikers wat finansieel ál meer noustrop trek.”

Van Zyl sê die regering moet dringend ingryp.

“Beurtkrag lê reeds die ekonomie lam en die land kan nie bekostig dat die vragmotorvervoerbedryf, ʼn lewensaar vir die ekonomie, geteiken word nie. Die regering moet ook hervormings instel en vestig om die land se logistieke beperkings uit die weg te ruim sodat die ekonomie kan groei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Danie ·

Die polisie en staat het geen wil om die trokke wat aangeval en gebrand word te stop nie.Hulle traagheid spreek boekdele.Die regstelsel ook nie gewillig om op te tree nie.Die intercape skande is n sprekende voorbeeld.

Johanncb ·

Besef die brandstigters nie dat hulle die voedselketting verbreek nie, hulleself ingesluit?!

christo ·

Besef die regering nie die inpak op die ekonomie nie?
Lewenskoste en inflasie gaan steeds aanhou styg as gevolg van hierdie aanvalle op vragmotors. Bykomende privaat sekuriteit maatreëls kos geld, maar is sekerlik die enigste manier om te verseker dat vragmotors en vrag wel hulle bestemmings bereik.
Die kans op rentekoersverlagings is seersekerlik nie
moontlik nie.
Die wêreld neem kennis van die gebeure in SA. Dis deel van internasionale nuus. Buitelandse beleggers gaan skrikkerig wees om te belê en selfs bedrywighede staak.
Misdaad intelligensie bestaan nie. Misdadigers weet dat die polisie nie sal optree nie, maar net die situasie monitor, soos daar maar altyd gedoen word.

Debbie ·

Die idiote besef nie dat hulle die land se ekonomie ook knak nie wat beteken al die burgers gaan swaar trek, hulle in kluis. Dan môre toi toi hulle die brand stigters weer oor prys van kos, vervoer ens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.