Aartsbiskop ‘wek wantroue’ as bemiddelaar in Israel-konflik

Aartsbiskop Thabo Mokgoba (Foto: World Economic Forum – Flickr: Wêreld- Ekonomiese Forum oor Afrika 2012 via Wikimedia Commons)

Die Afrika Christen Demokratiese Party (ACDP) beskou die besluit van die Anglikaanse Kerk van Suidelike Afrika om Israel as ʼn “apartheidstaat” te etiketteer as skokkend, kortsigtig, en teleurstellend.

“Aartsbiskop Thabo Mokgoba weet dat die kerk ʼn bediening van versoening ontvang het, en gevolglik moet ʼn geloofwaardige fasiliteerder van versoening objektief wees, en nie partydig optree teenoor enige van die partye in konflik nie,” sê Kenneth Meshoe, leier van die ACDP. “Die aartsbiskop het sy kommer vir die Palestyne uitgespreek, maar nie soortgelyke kommer geuiter vir die menigte Israelitiese slagoffers van terreur-aanvalle deur Palestynse terreurgroepe nie.”

Meshoe sê na sy mening het die aartsbiskop homself ontmasker en sy kanse om ʼn geloofwaardige bemiddelaar in die Israelitiese/Palestynse konflik te wees, in gevaar gestel deur een kant teen die ander in te neem.

“Buiten veiligheidskwessies is daar geen plek in Israel waar Palestyne nie toegang het, soos in apartheid Suid-Afrika gebeur het nie. Daar is geen geriewe of geboue, skole of universiteite wat slegs vir Joodse gebruik bestem is nie, soos dit in Suid-Afrika tydens apartheid gebeur het nie.

“Om Israel as ʼn ‘apartheidstaat’ te etiketteer is onakkuraat, kwaadwillig, en sal nie help om vrede en harmonie in die Midde-Ooste te bevorder nie. Die enigste doel is om Israel te demoniseer en te isoleer en om die wettigheid van Israel se bestaan ongedaan te maak.”

Meshoe sê die betreurenswaardige besluit van die Anglikaanse Kerk van Suidelike Afrika om Israel as ‘n “apartheidstaat” te etiketteer, verraai die herinnering van diegene wat deur die werklike apartheid in Suid-Afrika gely het. “Ek het Israel verskeie kere besoek, en ek weet dat niks wat in daardie land gebeur, wat ek gesien of gelees het, met apartheid in Suid-Afrika vergelyk kan word nie.

“Diegene wat sê wat in Israel gebeur, is soos apartheid Suid-Afrika, verklein die lyding wat swart Suid-Afrikaners gely het. Hulle neem die angel uit die pyn wat ons onder apartheid gely het. As Suid-Afrikaanse apartheid was soos dit wat mense in Israel sien, sou daar nooit ʼn behoefte vir Nelson Mandela en ander gewees het om tronk toe te gaan nie. Hulle sou al die regte gehad het wat Arabiere vandag in Israel geniet, soos die reg om te stem en die reg om te kies, en vryheid van beweging.”

Meshoe sê daar is regters in Israeliese howe wat nie Joods is nie, en tog deur die wet toegelaat word om sake met Joodse verdagtes te lei. “In apartheid Suid-Afrika is dit nie toegelaat nie. Daar is Arabiese onderwysers in Israel wat Joodse kinders onderrig. In apartheid Suid-Afrika kon swart onderwysers nooit wit kinders onderrig nie. Dit was werklike apartheid in Suid-Afrika waar selfs aparte geriewe afgedwing is. Die bewering dat Israel ʼn ‘apartheidstaat’ is, is ʼn leuen oor die werklike Israel, en dit is ʼn leuen oor die werklike apartheid wat in Suid-Afrika beoefen is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lourens ·

Hoe kan enigiemand vir ‘n oomblik dink dat enige Suid-Afrikaner as bemiddelaar buite Afrika aanvaar sal word?

annie ·

Aparte rasse en kulture is volgens Bybel reg wanneer Genesis tov die Babelse stad bestudeer word. Om kulture uit te wis om een New Age-konsep daar te stel is wat mense soos Soros verkondig en baie lande wat hulself modern ag. Die Palestyne gebruik die apartheidsgedagte om hul regte in Israel af te dwing en om Jerusalem as hul hoofstad te verklaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.