ACDP eis volledige hersiening van insette oor Bela-wet

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die ACDP is besorg oor teenstrydighede in die voorlopige nasionale verslag oor die parlement se openbare deelnameproses oor die omstrede wysigingswetsontwerp op basiese onderwys, beter bekend as die Bela-wetsontwerp.

Marie Sukers, ACDP-LP, sê die teenstrydighede in die verslag, met byna 9 000 insette wat oor die hoof gesien is, is baie kommerwekkend. “Elke stem, elke mening, tel.”

Sukers sê die parlement het ʼn bindende plig – nie net wettig nie, maar ook moreel, om elke openbare kommentaar in ag te neem. “Dit sal die eerste saak op die agenda wees wanneer die komitee Dinsdag vergader om met die finale beraadslaging oor die wetsontwerp te begin.”

Maroela Media het vroeër berig volgens dié verslag steun die meerderheid Suid-Afrikaners die wetsontwerp en al die omstrede wysigings wat daaraan gemaak is. Openbare sittings oor die omstrede wetsontwerp is landwyd tussen Februarie en Junie gehou. Die publiek het mondelinge en skriftelike voorleggings oor die wetsontwerp gedoen.

“Teenkanting teen spesifieke klousules, veral wat betref die verkope van alkohol by skole, die regulering van tuisskoolonderrig en toegang tot aborsie in skole, moet erken word en verandering moet dienooreenkomstig aan die wetsontwerp aangebring word,” voeg Suker by.

“Alhoewel administratiewe doeltreffendheid noodsaaklik is, moet dit nie die ware behoeftes en besware van die publiek oorskadu nie. Veiligheid, gehalte onderrig en gelyke toegang tot hulpbronne is die publiek se grootste kommernisse.”

Suker sê openbare sentiment het gedraai teen verskeie van die wetsontwerp se klousules. Die publiek het veral weerstand gebied teen klousule 27 waar die sluiting van staatslaerskole, wat nie voldoende leerdergetalle het nie, oorweeg word. Die publiek is ook gekant teen klousule 8 wat voorstel dat alkohol by skole verkoop mag word. Die regulering van tuisskoolonderrig in klousule 8, ondanks ʼn gebrek aan indiepte-gesprekke met belanghebbendes in die tuisskoolbedryf deur die departement van basiese onderwys, is ook problematies.

“Ons gee toe dat sekere bepalings in die wetsontwerp ondersteun word, veral dié wat aan die LUR die finale sê gee oor taal- en toelatingsbeleid, maar die ACDP glo dat die oplossing daarin lê om skoolbeheerliggame te demokratiseer, en nie om aan provinsiale regerings meer mag te gee nie.”

Suker sê dit wil voorkom of die staat doelbewus gemeenskappe met die Bela-wetsontwerp wil verdeel. “Maar Suid-Afrikaners sal nie verskuilde rassisme deur sommige beheerliggame of uitermatige mag in die hande van die staat toelaat nie. As die ACDP bly ons daartoe verbind om die middelgrond te behou en ʼn oplossing te vind wat alle Suid-Afrikaners kan verenig – ter wille van ons land se kinders.”

In die lig van die oorweldigende terugvoer en die publiek se reaksie op sekere bepalings, sal die ACDP ʼn omvattende hersiening versoek van alle insette wat deur die publiek gelewer is en dat die stemme weer getel word. Die ACDP het die komitee ook versoek om advies te bekom van parlementêre regsdienste om seker te maak dat daar aan alle prosedures en protokol voldoen is. Enige teenstrydighede in die prosessering van insette moet getakel word.

“Die ACDP sal met die res van die komitee saamwerk om seker te maak dat die wetsontwerp wettig geprosesseer word en binne ʼn realistiese tydsraamwerk. Miljoene rand is spandeer om die wetsontwerp voor te berei. Die parlement kan nie bekostig om geld te mors en ʼn wetsontwerp te lewer wat bloot deur die hof tersyde gestel sal word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.