Meeste SA’ners vir Bela-wet ná deelnameproses

skool-skoolbank-klaskamer-deltaworks.jpg

Argieffoto (Foto:
Deltaworks/Pixabay)

Die voorlopige nasionale verslag oor die parlement se openbare deelnameproses oor die omstrede wysigingswetsontwerp op basiese onderwys, beter bekend as die Bela-wetsontwerp, is Dinsdag amptelik aan die portefeuljekomitee oor basiese onderwys voorgelê.

Volgens dié verslag steun die meerderheid Suid-Afrikaners die wetsontwerp en al die omstrede wysigings wat daaraan gemaak is.

AfriForum is egter nie oortuig daarvan nie. Die burgerregteorganisasie voer aan dat die wetsontwerp “onderwys in die land ingrypend sal skaad indien dit in die huidige formaat aanvaar word”.

Openbare sittings oor die omstrede wetsontwerp is landwyd tussen Februarie en Junie gehou. Die publiek het mondelinge en skriftelike voorleggings oor die wetsontwerp gedoen.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, het van AfriForum se personeel en taklede self aan sittings deelgeneem.

“Deurlopend was daar eerder oorweldigende teenkanting teen die wetsontwerp,” sê sy.

“Die teenkanting is met deeglik beredeneerde voorleggings uitgespreek en nie bloot populistiese uitlatings soos dat enkelmedium‑ Afrikaanse onderrig sogenaamd rassisties is en transformasie belemmer nie.”

Die voorlopige nasionale verslag oor die sittings voer aan dat taal steeds gebruik word om rassisme en diskriminasie teen leerders van ander rasse te bewerkstelling, maar dat die wetsontwerp sal help om dit uit die weg te ruim deur onder andere taal- en toelatingsbeleide by skole oor te neem.

Luidens die verslag het die meeste Suid-Afrikaners hiermee saamgestem.

Altesame 14 801 Suid-Afrikaners het die wetsontwerp gesteun, sowat ʼn  duisend deelnemers het dit gedeeltelik gesteun en net meer as 10 100 het dit verwerp. Altesame 640 mense was besluitloos oor die wetsontwerp.

“Afgesien van die publiek se menings, behoort die parlementêre portefeuljekomitee vir basiese onderwys daarop te let dat verskeie bepalings in die voorgestelde wetsontwerp bots met uitsprake in die Grondwet, asook uitsprake van die Konstitusionele Hof,” sê Bailey.

“Deur die wetsontwerp deur die parlement te probeer stoomroller voor die nasionale verkiesing volgende jaar, word die deur oopgelaat vir vele regsaksies wat natuurlik nie deur die amptenary persoonlik betaal word nie, maar deur die staat, en dus uiteindelik deur die reeds oorlaaide belastingbetalers.”

Bailey verduidelik dat litigasie egter noodsaaklik sal wees omdat dié wetgewing aspekte soos die reg van toegang tot moedertaalonderrig, die privaatheid van ouerbeheerliggaamlede, beperkte klasgroottes ter wille van gehalte-onderrig en die aktiewe betrokkenheid van skoolgemeenskappe deur middel van demokraties verkose ouerbeheerliggame sal vernietig.

“Onderwyskundiges weet dat dit net nóg ʼn poging is om die gemeenskap van mag te ontneem en dit in die staat se hande te sentreer. Nou word die strooipop weer opgestel dat voormalige Model C-skole die poort tot sukses is vir kinders, wat weens die staat se totale gebrek aan verantwoordbaarheid, in disfunksionele skole is,” sê sy.

Die portefeuljekomitee het Dinsdag onderneem om teen volgende week die wetsontwerp volledig te bespreek en die verslag te aanvaar.

Sou die Bela-wetgewing egter aanvaar word, is AfriForum gereed om dit met regsaksie teen te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Charles ·

“Making grade R the new compulsory school starting age, as opposed to grade 1, as is currently the case.”
Nie alle kinders is op die selfde ouderdom gereed om skool toe te gaan nie.
“Forcing homeschooled learners to be registered for this type of schooling.”
Verdag!
“Criminalising parents who do not ensure their child or children are in school, with fines or jail time up to 12 months.”
Dwingelandy!
“Holding school governing bodies more accountable for disclosures of financial interests – including those related to their spouses and family members.”
Hulle kan sê en verklaar nét wat hulle wil en ons sal nie beter weet nie.
“Abolishing corporal punishment and initiation/hazing practices.”
LOL!
“Allowing schools to sell alcohol outside of school hours.”
Belaglik verdag.

Charles ·

Ek sal nie vir één oomblik glo dat meeste Suid Afrikaners vir hierdie wet is nie. Dit lieg hulle.

Marthinus Johannes ·

Hulle lieg soos tandetrekkers, dit sal net ANC ondersteuners wees wat sal saamstem

Alexander ·

Nou die ANC is mos steeds ‘n meerderheid, so dan lieg hul mos nie?

Boksombende ·

Meeste Suid-Afrikaners steun die Bela wet?! Met wie het hulle gaan praat vir ondersteuning? Die mense in rural-KZN wat vir ‘n stukkie KFC en ‘n ANC Zuma-hempie hulle erfenis sal weg gee?

Hendrik ·

Ons kinders word dan niks anders as staatsbesit nie. Gereed om kommunisties sosiolisties oderrig en opgevoed te word.

Anel ·

Ek glo dit vir geen oomblik nie!!! Anc manupuleer alles om hom te pas. Al gedink wat gaan van al ons goeie skole word? Geen wit kind gaan meer in tradisionele skole wees nie. Kyk wat word van skole wat engels is. Hoeveel blanke kinders is daar? Nee wat, en waar gaan die geld vandaan kom om die skole op die standaard te hou wat dit nou is? Afriforum, julle kan maar solkank begin om vir ons kinders te baklei. Julle het ons ondersteuning. Dir anc is besig om die toekoms van alle kinders in hierdie land net verder te verwoes!!!!

Amelia ·

Die meeste Suid-Afrikaners steun hierdie belaglike wetgewing? Ek glo dit nie vir ‘n oomblik nie. Iewers is data gemanipuleer… Dit voel asof hulle ons probeer uitmergel met een belaglike wet wat beveg moet word na die ander.

Cherokee ·

Amelia, dink oor wie die meeste is in die land, dan sal jy dit dalk glo.
En Nicky, die referendum was nie gemanipuleer. Die ja-stemmers was oorwegend die meeste en wou nie Oom Jaap en Dr Albert glo nie. Ek het ‘n nee-tafel beheer as voorsitter, in die kiesafdeling en weet dat die nee-stem afgelag en verraai is. Nou wil die selfde mense ander verskonings uitdink.

Daisy ·

Ek is BAIE dankbaar ek het nie meer kinders van skoolgaande ouderdom nie.
Ek voel net jammer vir die nageslag want skole gaan nagmerries word

Erika ·

Dit is hoekom Malema so besig is, sodat al hierdie dinge kan gebeur en die media hul met hom besig hou.

Janice ·

10 mense is betaal om te se hulle steun die wet en eweskielik steun die hele SA dit. Twak man!

chris ·

Altesame 14 801 Suid-Afrikaners het die wetsontwerp gesteun, sowat ʼn duisend deelnemers het dit gedeeltelik gesteun en net meer as 10 100 het dit verwerp. Altesame 640 mense was besluitloos oor die wetsontwerp. So 25541 Suid Afrikaners het die openbare sittings tussen Februarie en Junie bygewoon en 14801 hiervan het die Wetgewing gesteun en dit verteenwoordig nou die meerderheid Suid Afrikaners? ‘n Stempersentasie van +/- 0.05% van die bevolking of 25 541 uit +/- 55 000 000 m is voldoende?Hoeveel stemme sou nodig wees vir ‘n steekproef om ‘n aanvaarbare uitslag te bewerkstellig? Die manne in statistiek behoort vir ons te kan se of hierdie stempersentasie internasionaal aanvaarbaar sou wees om ‘n aanname te kan maak dat dit die meerderheid Suid Afrikaners se stem verteenwoordig!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.