Action SA sleep OVK hof toe oor (geen) naam op stembrief

(Foto: ActionSA/Facebook)

ActionSA het ʼn dringende aansoek teen die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) by die kieshof ingedien nadat die kommissie die party se naam op konsepstembriewe weggelaat het en nou glo versuim om die fout reg te stel.

ActionSA is woedend nadat slegs sy logo op die konsepstembriewe vir wyke in Gauteng verskyn.

Die konsepstembriewe bevat die name van die wykskandidate, die logo’s van die partye en die verkorte name van die partye. Niks staan geskryf in die ruimte waar ActionSA se naam veronderstel is om te wees nie.

ActionSA het intussen verneem dat die OVK prokureurs aangestel het en versoek dat die saak eerskomende Maandag aangehoor word.

Volgens ActionSA is die OVK nie van plan om die fout reg te stel nie omdat hy reeds begin het om stembriewe te laat druk. Die party voer aan dié benadering is onregmatig en ongrondwetlik.

Die party voer aan dat hy weens die fout benadeel gaan word omdat kiesers hom slegs deur ʼn kandidaat se naam en die logo op die stembrief sal kan uitken, terwyl ander partye voordeel gaan trek omdat hul naam of bekende afkorting wel op die stembrief verskyn.

“Indien die munisipale verkiesing in die huidige omstandighede plaasvind, met stembriewe wat nie ActionSA se naam wys nie, sal dit onbillik en nadelig wees vir ActionSA en vir kiesers. Die verkiesing sal dus nie vry en regverdig wees nie.”

Die party sê voorts een van die redes waarom hy juis die naam “ActionSA” gekies het, is omdat dit voldoen aan die OVK se beperking van agt karakters vir verkorte partyname. Die party se naam kan dus altyd ten volle gebruik word.

ActionSA voer aan die kommissie se verweer dat die konsepstembriewe onder politieke partye versprei is om slegs hul goedkeuring te gee en nie om foute uit te wys nie, is “irrasioneel”.

Hy meen die verspreiding van konsepstembriewe is van geen waarde indien politieke partye van die geleentheid ontneem word om foute of weglatings op die stembriewe uit te wys en voor die verkiesing te laat regstel nie.

“Ons hofstukke voer aan daar is geen regsgronde vir die kommissie om te weier om die weglating van ActionSA se naam uit die stembrief reg te stel nie en ons is vol vertroue dat die howe hierdie siening sal deel.

“Die OVK voldoen nie aan sy verpligting om ʼn vrye en regverdige verkiesing te verseker indien hy weier om die probleem reg te stel nie. ʼn Kieser se identifisering van ʼn party deur middel van die party se logo, naam, afkorting en partyleiers is ʼn sleutelkomponent tot ʼn vry en regverdige verkiesing.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Dries ·

Herman moet maar leer.Daars reëls wat vir almal geld.Hulle is NIKS spesiaal nie

Agge nee ·

Siestog kon niemand by die OVK net die letters getel het nie? As dit oorgedoen moet word, gaan dit nie uit die moedswillige OVK se sakke kom nie, maar uit ons, die belastingbetalers se bankrot sakke.

Anonymouse ·

Gee hulle gas! Ek oorweeg dit sterk om vir ActionSA te stem. Ek is so moeg vir dieselfde ou selfde. My wyk se DA raadslid is nog meer pateties as die ANC raadslede.

Baardman ·

En as jy dink ActionSa gaan jou belange op die hart dra, gaan jy nog n groter ontnugtering kry. Kyk waar kom hulle vandaan

Anonymouse ·

En wie dra op die oomblik my belange op die hart? Die DA? Die VF? Al wat ek ooit die VF sien doen is kommentaar lewer en te veroordeel. Na die tyd. Daai verkrampte ou omies ry ook lekker op die soustrein. Nee wat ,sal liewer my hoed ingooi vir iets nuuts. Kan nie erger wees as wat daar nou is nie.

Wat op dees Aarde ·

Toe Herman Mashaba burgemeester was van Johannesburg onder die DA het Johannesburg floreer. Dit was skoon, daar was dienslewering. Gaan doen bietjie navorsing oor hom. Hy het my stem.

Truthful ·

Ons stem net vir Actionsa…hulle sal dinge reg doen…gee hulle gas actionsa..ons weet almal die anc is aspris

Danie ·

Nou kla hulle.
Nadat die ovk hoelank gevra het dat hulle n afkorting van hul naam voorsien.
Sjeim

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.