ActionSA: Teenstrydige uitlatings oor samewerking met ANC

Herman Mashaba, leier van ActionSA. (Foto: ActionSA)

Senior lede van ActionSA het die afgelope naweek teenstrydige uitlatings gemaak oor of hulle bereid is om saam met die ANC in Gautengse metro’s te werk.

ActionSA het verlede week vergader oor die toekoms van koalisies nadat die veelpartykoalisie in Johannesburg uit die kussings gelig is.

Herman Mashaba, leier van ActionSA, het dit Vrydag tydens ’n Aardklop-gesprek onomwonde gestel dat die party oor sy “dooie liggaam” met die ANC in die bed sal klim.

Bongani Baloyi, Gautengse voorsitter van ActionSA, en Michael Beaumont, ActionSA-voorsitter, het egter oor die naweek tydens onderhoude bevestig dat hul party bereid is om met die ANC in Gauteng te praat.

Baloyi het in ’n onderhoud met Newzroom Afrika gesê hulle herevalueer hul posisie rakende koalisies en sal met alle partye in gesprek tree, insluitend die ANC. Volgens hom gaan dit daaroor om stabiliteit in die Gautengse metro’s te probeer bewerkstellig.

Beaumont het ook in ’n onderhoud met Newzroom Afrika gesê net omdat hulle met alle partye in gesprek tree, beteken dit nie noodwendig dat hulle in ’n koalisie met die ANC sal gaan nie.

ActionSA het vroeër gesê koalisies wat voortdurend op die randjie van ineenstorting is, kan nie doeltreffend dienste lewer nie.

ActionSA se senaat het besluit om ’n hersiening van die party se benadering tot koalisies in plaaslike regering te begin en het begrip vir die magdom modaliteite waardeur samewerking uitdrukking kan vind.

Met dié hersiening sal ActionSA ’n meer pragmatiese benadering tot koalisies aanneem, met ’n groter fokus op programme van dienslewering en stabiliteit.

“Vir hierdie doel sal daar tydens die hersiening samesprekings begin word met alle politieke partye wat in die Gautengse metro’s verteenwoordig word om areas van ooreenkoms en samewerking te identifiseer,” het Beaumont in ’n verklaring gesê.

Volgens die party sal hy as deel van die proses ook sy koalisievennote betrek om bekommernisse te bespreek wat verband hou met wedersyds ooreengekome diensleweringsprioriteite wat nie voldoende geprioritiseer is nie.

“ActionSA sal ’n bilaterale skakeling met die DA inisieer om te bepaal of die twee partye introspeksie kan hou met die oog op verbeterde samewerking.

“ActionSA glo dat sy betrokkenheid by koalisies gegrond moet wees op hul vermoë om op ’n stabiele wyse eerlike dienste aan die inwoners van hierdie munisipaliteite te lewer. Dit moet eerste voor alle ander oorwegings kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Piet 6 ·

Dit gaan nie oor dienslewering of wat die beste vir die kiesers is nie, maar geld in eie sak en aansien.

Martin ·

Jy is reg piet di geld is nou by di anc en daar gaan hulle geweet vn di begin af hul kn ni vertrou word ni

Aikie ·

Hierdie manewales van die politieke partye om mekaar uit die kussings te lig is sommer ligsinnige twak. Voor die beherende party kan wys wat in hulle steek, is daar weer ‘n ander party in beheer. Dit kos die belasting betaler’ n onnodige klomp geld en die munisipaliteit kry nie kans om stabiel onder een beherende liggaam te werk nie.
Geen wonder ons pragtige land val uitmekaar nie. Die wet moet verander word sodat die partye slegs een keer per jaar ‘n mosie van wantroue kan instel.
Dan, weereens is daar’ n paar van die manne wat ‘n jaar het om die bietjie geld wat oorbly in die munisipaliteit te verduister.
Og! Wat moet mens doen vir’ n bietjie stabiliteit?

John ·

Meeste van ons het van die begin at besef en ook gesê dat Action SA net ñ front is om die “wegloop” kiesers van die ANC weer terug te kry of om hulle stem vir die ANC te laat tel op een of ander manier. Die woord het van die begin af loop dat hulle net mooi praatjies maak om by die koalisie gevoeg te word en dit dan later te vernietig. Dit is dieselfde as die oorloop van kandidate van een party na ñ ander. Daar is altyd planned aan die broei

Pietertjie ·

Dit maak nogal sin dat politici só uit meer as een mond praat. Dit wys hulle ware kleure. Net jammer dat die stemvee dit nie agterkom nie.

Koos 100 ·

Enige politikus sal letterlik enige iets doen om ook sy kans te kry om by die krip te vreet.

Shakespeare ·

Mashaba, pasop vir die giftige slange in die ANC/EFF. Hulle sal jou vernietig.

Kobus ·

En so verraai hy ook die kiesers wat hy met sy mooi praatjies belieg het.

Kokerboom ·

Jul is gedoem Herman Mashaba. Gierigheid en magsugtigheid gaan ook jul ondergang beteken.
Jul tree reeds op soos ‘n tipiese “vulture” politieke organisasie ten spyte van jul eerbare voornemens

Samuel ·

‘n Mens kan géén politikus glo nie. Alles gaan net oor persoonlike gewin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.