Affies laat Boys High les opsê

Affies se eerste rugbyspan. (Foto: Facebook)

Die leuse op Afrikaanse Hoër Seunskool se skoolwapen lui “Laat daar lig wees” en Saterdagmiddag by Pretoria Boys High se hoofveld oorkant Affies was daar sommer baie lig.

Dit was die verhaal van die jaarlikse skole-derby tussen die eerste rugbyspanne van Affies en Boys High, aartsvyande, wat voor byna 15 000 toeskouers afgespeel het.

Dié twee spogskole het sedert 1923 al 107 keer teen mekaar te staan gekom, met Affies wat 65 keer koning gekraai en 42 keer verloor het. Nege wedstryde was gelykop.

Saterdag was die 108ste wedstryd en Affies het Boys High maklik geklop, met die telbord wat ná die eindfluitjie 54-19 in Affies se guns was.

Affies, wat vanjaar slegs twee keer in 16 wedstryde geklop is, het vroeg reeds die voortou geneem en met reëlmaat drieë ingeryg.

Affies se voorspelers het die grondslag gelê en die agterspelers het gebaljaar met die oormaat balbesit.

Boys High, wat vanjaar 13 van hul 19 wedstryde verloor het, het egter nie gaan lê nie en enduit teen die oormaat bly veg.

Dit was een van Affies se maklikste oorwinnings, nadat hulle hul teenstanders met 67-6 in 2016, 56-3 in 2015 en met 49-0 in 1998 kafgedraf het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.