AfriForum reg om eerste e-tol-hofsaak te beveg

e-toll

(Argieffoto)

AfriForum sal volle regshulp aan die eerste motoris verleen wat oor agterstallige skuld uit die wanbetaling van ʼn e-tol-boete gedagvaar word.

Dit volg nadat Sindisiwe Chikunga, minister van vervoer, Woensdag gesê het dat die regering nog nie ʼn besluit geneem het ten opsigte van veral Gautengse motoriste se historiese agterstallige skuld nie.

AfriForum het ook daarop gewys dat die regering nie alle historiese skuld teen motoriste kan hou nie aangesien skuld ná drie jaar verjaar.

Volgens Charné Mostert, veldtogbeampte by AfriForum, kan niemand dus verantwoordelik gehou word vir skuld van meer as drie jaar gelede nie.

“AfriForum se regspan het al in die verlede reeds verskeie motoriste en maatskappye wat dagvaardings van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) ontvang het gehelp om dié dagvaardings teen te staan en te verdedig.”

Dié burgerregteorganisasie veg al teen die e-tol-stelsel sedert dit die eerste keer in 2013 deur Sanral ingestel is.

Ná 11 jaar sal dié stelsel uiteindelik vanaand om middernag afgeskakel word.

“Dit is verblydend om te sien dat hierdie ondeurdagte projek uiteindelik verslaan is danksy openbare druk. Dit is ʼn groot prestasie vir die burgerlike samelewing, sowel as vir die maatskappye en motoriste wat daardeur geraak word.”

AfriForum het reeds in 2012 sy petisie teen e-tol begin – lank voordat die e-tol-stelsel in werking gestel is. Die organisasie het sy stem dik gemaak van die eerste onvoldoende openbare raadplegingproses ten spyte van wat die regering nou toegee.

“AfriForum se besware was onder meer die arbeidsintensiewe aard van e-tol wat reuse-infrastruktuur en koste vereis het om tolgeld in te vorder en betalings te verwerk, vergeleke met byvoorbeeld ʼn brandstofheffing wat geen nuwe infrastruktuur vereis nie.”

Mostert meen die stelsel is deur ʼn korrupte ANC-regering bedink en inwerking gestel. “Dit het bloot duisende motoriste gedwing om meer geld uit te gee vir iets wat hulle nie kan bekostig nie en boonop geen voordeel uit kan trek nie”.

“Die mislukking van die e-tol-stelsel dien as ʼn bewys van massa openbare verontagsaming in ʼn stelsel wat nie die mense dien nie.

“Elke keer as motoriste onder hierdie duur wit olifante deurry, sal hulle herinner word aan ʼn stelsel wat sonder voordele op die publiek afgedwing is en uiteindelik verslaan is deur daardie selfde publiek wat sy voet neergesit het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Casper ·

Hoekom het die Wes Kaap die sogenaamde e-tol met hand en tand beveg en sukses behaal.Hulle word deur ‘n party bestuur wat deursigtig is,beplanning kan doen en infrastruktuur kan onderhou sonder om hulle belastingbetalers onder meer druk te plaas.

Harold ·

Hele paar fatale foute gemaak, ek voel dat dit regverdig sou wees om te betaal vir ‘n goeie fasiliteit, maar dan moet almal wat die tolpad gebruik betaal, nie sommige padgebruikers kwytskeld nie en dan die ander (minderheid ?) padgebruikers meer geld vra om op te maak vir die wat nie betaal nie !!

Kokkies ·

Daai geld sal nie gaan vir die skuld nie, maar in iemand se sakke beland. Ons weet nou al hoe werk dit.

Hazel Dean ·

Het nog nooit n sent betaal vir e tol nie hoekom sal ek nou nadat dit afgeskaf is agterstallige gelde betaal. Ek het geen probleem om by gewone tolhekke te betaal nie maar hierdie was n onwettige manier vd staat om geld te maak.

Raakvatter ·

Korrek Hazel, ek ry elke liewe weeksdag en soms naweke deur die gantries. Nog nie een sent ooit betaal nie. En ek gaan ook nie, haha!

JN ·

So vir 11 jaar suig die parasiete die alreeds vuisvoos belasting betaler nog leër as leeg!Korrupte parasiete ek se jou!

domheks ·

Nog ‘n belofte deur ou lesoufie wat snert is! Kry hy nie skaam om so te lieg nie? OOOO … ekskuus hy is ‘n kader mag maar lieg en bedrieg.

JohanR ·

Het van die begin gese die goed moes nooit gebou gewees het nie. Jy sit nie ‘n tol stelsel op binne in ‘n stads gebied. Hoofpaaie is aanvaarbaar, maar nie in ‘n “inner city.” Dankie tog die DA het die goed in Kaapstad gestop toe hulle hof toe gaan en wen. Sanral wou die wyn roete verwoes!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.