ʼn Gewilde Afrikaanse sanger het passasiers op ʼn laekostevlug tussen Johannesburg en die Kaap se Kersdag ekstra spesiaal help maak.
Die kaptein van ʼn Mango-vlug het gehoor Elvis Blue vlieg saam Moederstad toe en besluit om ʼn uitdaging aan hom te rig.
Elvis, oftewel Jan Hoogendyk (38), het nie op hom laat wag nie en vir die eerste keer in sy lewe gesing oor ʼn telefoon, wat sy weergawe van die Kerslied Have yourself a merry little Christmas na die passasiers uitgesaai het.
Die video waarop die Rede om te glo-sanger onbegeleid sing, is al amper 70 000 keer gekyk. Hoogendyk vier Vrydag sy 39ste verjaardag.