Afrikaanse sangers vereer op vanjaar se Samas

Kurt Darren. (Foto: Maroela Media/Janie Monsieur)

Die Afrikaanse sangers Kurt Darren, Riana Nel en Francois van Coke is verlede week as wenners van die 26ste jaarlikse Sama-toekennings (South African Music Awards) vereer.

Darren is met die toekenning vir beste Afrikaanse popalbum vir sy jongste aflewering, #Partytjiedier, vereer. Dit is Darren se 9de Sama-toekenning nadat hy in 1995 vir die eerste keer ʼn benoeming ontvang het vir ʼn Engelse snit op sy debuutalbum, Your Precious Love.

Volgens Darren is dit ʼn fenomenale mylpaal om ná 25 jaar die toekenning vir beste popalbum in te palm omdat dié kategorie slegs die afgelope twee jaar deelgemaak is van die Sama-kategorieë.

Nel is as wenner in die kategorie vir beste kontemporêre musiekalbum aangewys vir Sterker. “Dis ʼn baie groot eer en ek is baie dankbaar. Alle eer aan God,” het sy op Instagram gesê.

Van Coke het die toekenning vir beste rockalbum vir sy jongste solo-album Dagdrome in Suburbia ingepalm.

Die Samas bekroon jaarliks Suid-Afrika se topmusiektalent. Die wenners van dié gesogte pryse is nie oudergewoonte op ʼn glansgeleentheid aangekondig nie, maar in ʼn reeks episodes wat op Mzansi Magic op DStv uitgesaai is en nou ook op Showmax gekyk kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

saggiespraat ·

Baie Geluk Kurt, jy verdien dit, n mens kannie moeg raak vir jou musiek. jaar op jaar.

LANA is ELANè ·

Riana Nel, voorwaar ‘n verdienstelike toekenning aan ‘n voortreflike en besonderse persoon met hope talent.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.